Predikante in die kas

Daar is heelwat predikante en teoloë wat in die kas is. In hierdie geval nie die homoseksuele kas nie, maar ’n teologiese kas. Hulle leef ’n leuen – hulle het basies hulle geloof verloor, maar kan nie bekostig om dit te erken nie omdat dit hulle werk en/of loopbaan sal kos.

Die volgende is ’n uittreksel uit die boek Ek en die Bybel op soek na die waarheid, deur Dr Japie Coetzee, 2004, Paarl Print, bl 27:

Daar is baie predikante wat met ’n premoderne godsdiensbeskouing groot geword en in die gewoonte verval het om sonder meer alles te glo en nooit die heersende godsdienssiening te bevraagteken nie. Een so ’n predikant het op ’n dag gebieg: “Jy moet onthou ek het ’n vrou en ook twee kinders op skool vir wie ek moet sorg, en dan het ons ’n huis waaraan ek afbetaal. Ek kan nie bekostig om van die tradisionele siening sigbaar af te wyk nie al sou ek in my hart anders oortuig wees. Maak ek wel so, dan word ek ontslaan en sit ons op straat sonder ’n heenkome.”

So hou sommige mense ter wille van oorlewing ’n sekere oortuiging teësinnig voor.

In die boek Hier staan ek…., dra vyf predikante naamloos by, omdat hulle weet dat dit hulle beroep, en daarom hulle inkomste kan beïnvloed. In die artikel Predikante bieg oor twyfel word van een van hierdie anonieme predikante gesê:

“…hy het allerlei vertwyfelings wat hy nie durf uitspreek nie, want hy “het geweet ek sou geëtiketteer en waarskynlik verwerp word … My loopbaan kon ook in gedrang kom.”

In die artikel US Woordfees 2017: Wat moet ons met ons kerk doen? word genoem dat twee teoloë vir Jurie van den Heever (‘n ateïs of agnos) gehelp het om die teks van sy boek Wat moet ons met ons kerk doen? te keur. Omdat die boek omstrede ervaar kon word, het Jurie besluit om hierdie twee teoloë liewer anoniem te bedank vir hulle werk. Dit is nog ’n voorbeeld waar teoloë hulle in die geheim by die “vyand” skaar.

In die boek God? Gesprekke oor die oorsprong en uiteinde, George Claassen en Frits Gaum, 7 Maart 2012 antwoord Christina Landman soos volg op die vraag of redding slegs deur Jesus verkry kan word:

Is Jesus God se enigste pad na ons toe? Nou ja, dit is ’n strikvraag en kan jou werk en jou toga kos. Ek sou maar net kon sê: Elke godsdiens se verlossingsverhaal het ’n integriteit van sy eie.

Dit is duidelik wat haar siening oor hierdie saak is, maar sy gee nie ’n reguit antwoord nie, want dit “kan jou werk en jou toga kos.”

Soos Landman is daar nog ander predikante en teoloë wat die kernwaarhede van die Evangelie vaarwel geroep het, maar dit nie openlik wil erken nie omdat dit waarskynlik, soos Landman dit sê, hulle toga kan kos.

Toe die vorige moderator van die NG Kerk, Nelus Niemandt, in ’n Facebookgesprek gekontronteer is met Jesus se opstanding (kyk Wie val wie aan) sê Nelus dat die opstanding uiters belangrik is, maar toe hy gevra word of hy vir Ferdie Mulder is of vir Julian Müller, toe vra hy hoekom hy moet kies tussen hulle. In ’n persoonlike e-pos het Ferdie egter gesê dat Nelus homself in 2005 tydens die opstandingsdebakel sterk by Julian Müller en Jurie le Roux geskaar het teen Ferdie.

Toe Julian Müller nog aan die teologiese fakulteit van die Universiteit van Pretoria verbonde was, het hy nie meer in Jesus se liggaamlike opstanding geglo nie, nie aan die duiwel as persoon nie en hy het bely dat hy aanbeweeg het van teïsme na postteïsme (kyk Wie is Julian Müller?). Toe hy daarmee gekonfronteer is, was sy antwoord bloot[1]:

“En met groot vrymoedigheid sê ek met die gemeente saam die Apostolicum”,

en

“Ek bevestig nógeens dat ek staan by die legitimasie verklaring en daarom ook die Belydenisskrifte van die NG Kerk.”

Hierdie teoloë gee nie reguit antwoorde nie, en kom daarmee weg omdat hulle agtergekom het dat daar genoeg lede in die toesighoudende liggame is wat hulle sal steun.

Cobus van Wyngaard sê in sy artikel Om publiek te bely dat mens baie by Müller se reaksie kan leer. In effek sê Van Wyngaard: as jy in ’n hoek is, bely net “ek bely saam met die kerk van alle eeue”. Jy hoef niks meer te sê nie.

In die artikel Broer Julian moet dalk maar soos Flip maak sê Hoffie Hofmeyr dat Julian Müller daaraan moet dink om eerder te bedank as om aan te bly in die NG Kerk. Hy het egter nooit bedank nie.

Ben du Toit het in op 5 Julie 2018 bedank met die volgende woorde aan die ATR:

Hiermee doen ek vrywilliglik afstand van my amp en bevoegdheid as predikant.

Twee jaar later publiseer hy sy boek God: Is daar ’n ander antwoord? waarin dit duidelik uitkom dat hy sy geloof verloor het. Dit is baie duidelik dat hy reeds lankal sy geloof verloor het, maar die in ’n mate stil gehou het tot na sy aftrede. Hy moes darem net eers sy pensioen verseker.

Daar is min mense soos Abel Pienaar, Izak du Plessis en Sakkie Spangenberg wat die integriteit gehad het om eerder uit die NG Kerk te bedank as om wetend hulle legitimasie-eed te verbreek.

Hoeveel predikante is daar nog wat tans in gemeentes staan wat in werklikheid hulle geloof verloor het en hulle sieninge probeer regverdig deur hierdie vreemde leringe in die kerk te propageer?

Voetnotas

[1] Die volgende twee aanhalings (kyk Opgestaan)

Aanhaling 1: Opgestaan, bladsy 55:

…het ds. Nel nogal wys opgetree deur ’n vraag oor Jesus se opstanding aan professor Müller te stel: “Julian, het Jesus liggaamlik opgestaan, en beteken dit dat die graf leeg is?”Ek sal nooit die lang en ongemaklike stilte vergeet wat gevolg het voordat professor Müller huiwerig op ds. Nel se vraag geantwoord het nie. Toe RSG die program die daaropvolgende Sondagaand uitgesaai het, was dit opvallend (en jammer?) dat dié lang stilte uitgesny is. Was dit deur die toedoen van dr. Flip Loots of die redigeerders by RSG? Die swanger stilte sou nooit nasionaal uitgesaai word nie. Sy antwoord was:

“Ek het vanoggend ’n erediens bygewoon soos wat ek elke oggend ’n erediens bywoon op ’n Sondag. En met groot vrymoedigheid sê ek met die gemeente saam die Apostolicum, want dit is wat ek glo . . . dit beteken nie dat daar nie ruimte vir herinterpretasie is nie.”

Aanhaling 2: Opgestaan op bladsy 162 geskryf het:

So wat het met die duiwel en die Bose gebeur tydens professor Müller se leerdwaling-ondersoek, as mens dit so mag stel? Ek het ’n aantal stukke getuienis ingedien waarin dit my indruk was dat professor Müller die bestaan van die duiwel en die Bose ontken. Ook is daar twee maal spesifiek tydens die ondersoek vir hom gevra of hy glo in die bestaan van die duiwel. Hy het al die getuienis wat ons ter stawing ingedien het verwerp, maar dalk meer belangrik ook nie reguit geantwoord op die vrae oor of hy glo in die bestaan van die duiwel nie. Hy het soos volg geantwoord:

“Die blote noem van iets soos die Duiwel en die Bose beteken nié dat ek ’n eie standpunt daaroor uitgespreek het nie. Ek het my nêrens daaroor uitgespreek of ’n eie standpunt daaroor gestel nie. Die dokumente word dus op ’n oneerlike wyse aan die bewerings van die Klaers verbind en so bou hulle ’n konstruk op van wat ek daaroor sou glo. Ek is nie bereid om op sulke konstrukte – wat nie my eie is nie – te antwoord nie. Ek bevestig nógeens dat ek staan by die legitimasie verklaring en daarom ook die Belydenisskrifte van die NG Kerk”

Kyk egter wat Julian in RSG gesprek oor die duiwel en die bose (2018) en RSG gesprek oor die duiwel of Satan (2019) gesê het.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui