Het die deursnee lidmaat vergeet dat hy/sy nog ’n roeping het?

Kyk ook:

Deur Henrietta Klaasing

27 April 2018

Soos die verval op ander gebiede in die NG Kerk geleidelik gebeur het, het dit ten opsigte van die “amp van die gelowige” ook gebeur. Inderdaad kan ons vandag praat van: “Die verwaarloosde/ vergete amp van die gelowige”. Jare gelede was daar selfs ’n Bybelkor kursus geskryf sodat lidmate toegerus kon wees vir die amp van die gelowiges. Dit was deur ’n sinodebesluit bekragtig in 1978, en die opdrag is gee aan ds Malan Nel. Dit was genoodsaak deur die herlewing wat gevolg het op die Jeug-tot-Jeugaksie van 1975 toe kerke tot oorlopens toe vol geloop het van geestelik honger nuwe gelowiges. Ds Malan Nel was onder andere by die Jeug-tot-Jeugaksie betrokke en daarom was hy gevra om die Bybelkorkursus “Die Amp van die Gelowige” saam te stel.

Daar was wel vergaderings daaroor en dit was deel van sinodebesluite (1978, 1994, 2002, 2004, 2007). Ongelukkig het dinge deur die jare verwater. By van die vergaderings het die kwessie vasgedraai in debatte rondom die betekenis van woorde “amp” en “bediening”. Na 1994 word daar van “drie ampte” gepraat, naamlik leraar, ouderling en diaken. Die jaar 1994 was nie net op politieke gebied ’n jaar van omwenteling en groot verandering in die land nie maar ook in kerke, en in hierdie jaar besluit die algemene sinode op ’n kommissie “Gemeentebediening” in gemeentes wie se taak dit sal wees om die gemeente op te bou (byvoorbeeld Bybelstudiegroepe) en uit te bou (sending en evangelisasiewerk).

Die term “die amp van die gelowige” word verander na “dienswerk van die gelowige” (hier by die jaar 2002 rond), maar geen sorg word gedra dat die lidmaat bewus is van sy/haar verantwoordelikheid in die liggaam van Christus nie. So vervaag die gewone lidmaat tot ’n skadufiguur in die agtergrond.

Word die kerk weer ’n “domineeskerk” soos oorlede dr Willie Marais so dikwels gemaan het? Die dominee is die treindrywer, die lidmate sit rustig en “ry saam” as passasiers dat die drywer hulle by hul bestemming bring. Of die dominee is die dokter, wat saalrondtes doen en besoeke bring aan pasiente (die passiewe lidmate) en hier en daar ’n inspuiting of medisyne toedien.

By die hedendaagse deursnee lidmaat bestaan daar onvoldoende kennis en bewustheid en is daar die beskouing van hom/haarself as “maar net ’n leek”. Ongelukkig is daar baie dominees wat so ’n houding inneem en nie die lidmaat reghelp oor hierdie persepsie nie. “Dominee, ek kom vra jou, want jy sal weet. Ek is maar net ’n leek”. Die gesagsposisie wat sommige dominees inneem is so sterk dat lidmate minderwaardig voel. So was dit voor die Reformasie en so, lyk dit vir my, is ons terug by die tye voor Martin Luther.

Al bestaan die woorde “die amp van die gelowige nie in die Bybel nie HET lidmate ’n taak en ’n roeping. In 1 Petrus 2:16 word die gelowiges “diensknegte van God” genoem. Die amp van elke gelowige is dus niks anders nie as om in diens van die Here te staan. In hierdie diens staan elke gelowige, of hy nou predikant, ouderling of diaken is of nie. Die amp van die gelowige is geen geringe diens nie. Daaroor is die Bybel baie duidelik. In Romeine 14:18 skryf Paulus: “Wie Christus dien, is aan God welgevallig en by die mense geag”. Om in die diens te staan, moet jy deur God uitverkies wees. Petrus skryf: “Julle is ’n uitverkore geslag, ’n koninklike priesterdom…” (1 Pet 2:9). Elkeen wat in die amp van die gelowige staan, is inderwaarheid gesalf (“Christen”) tot profeet, priester en koning (Heidelbergse Kategismus, Sondag 12). So belangrik ag Christus die amp van die gelowige dat Hy ’n spesiale maatreël getref het om te sorg dat die gelowiges vir hulle amp toegerus word. Hy het naamlik besondere dienste in sy kerk ingestel, dié van predikante, ouderlinge en diakens. Hulle is daar, nie om die amp van die gelowige te oorheers of uit te rangeer nie, maar juis om dit op te bou, “om die heiliges toe te rus vir hulle dienswerk” (Ef. 4:12).

Die vraag bly dus: Wat sal maak dat ’n gewone lidmaat na sy of haar buurman/vrou gaan, werklik betrokke raak en op ’n geloofsreis met hom of haar gaan? ’n Verdere vraag: hoe steek ons die “vuur” weer in gemeentes en lidmate aan? In kort vra dit dat lidmate bemagtig sal moet word met ’n duidelike evangeliese visie en konkrete toerusting. Lidmate moet opgeroep word om weer roepingsbewus te word. Staan AL die ampte (leraar, ouderling, diaken, gelowige) nie maar saam onder die Groot Opdrag van Matteus 28 vers 19 nie (waar daar geen onderskeid getref word nie)?

Bron

www.kerkargief.co.za/doks/navorsing/Ampvangelowige.pdf

1 thought on “Het die deursnee lidmaat vergeet dat hy/sy nog ’n roeping het?”

  1. Ek stem saam met Henrietta. Dis volgens die Skrif.
    Aanvullend geld die volgende beginsels agter die aktief wees van Lidmate.

    1, Die vernietiging van sendingaksies in die NGK was fataal. Alle sendingaksies het onmiddellik begin taan omdat die geroepenes versaak is. Alle sending inrigtings het weens die wegneem van toegewyde sending ondersteuners se fondse in erge krisisse verval en van hulle moes sluit. Van evangelisasie het ewe min gekom. behalwe vir sekere lidmate wat ook daartoe geroepe gevoel het. Entoesiasme verflou as die gemeenteleiding nie sterk lei nie.

    2, Klem verskuiwing vanaf Jesus na die mens.
    Wat kan jy kry uit die Here. Wanneer laas het u ’n ernstige preek oor sonde, bekering en nuwe lewe in Christus gehoor? Word die sondes van ons tyd aangespreek, veral Skrifgesag wat so misken word? Godslastering op RSG en ander media. Vryheid van spraak is goed, maar binne perke.
    Jesus maak baie duidelik dat Sy dissipels Sy opdragte moet uitvoer. Sy standpunt begin met Sy Goddelike gesag stelling Joh 14;1: “Laat julle hart nie ontsteld word nie; Glo in God, glo ook in My.”
    Dan volg sewe keer in Joh. 14:15, 21, 23-24, 28, Joh. 15:10 en 14: “As julle My liefhet, gehoorsaam my gebooie/opdragte/bewaar My woorde (leringe)”.
    Is Sy groot Opdrag dan nie juis die uitdra na alle nasies, inbring en leer van nuwe lidmate om al Sy opdragte uit te voer nie, naamlik om dieselfde te doen nie?
    Nou poer-poer die kerk met allerlei randsake, breek Skrifgesag amptelik af, ontsondig sekere sondes, meng met ongeloof om meer van God by hulle te leer, saam met hulle te aanbid en mors Sy geld op nie-belangrike dinge.
    Onopgeleide geroepenes vanuit ons gemeentes doen nou as leke sendingwerk in byv. Thailand. Waar is die opgeleide teoloë hierin?
    Kyk in Matt 25 hoe Hy klem lê op ’n aktiewe lewe vir Hom volgens Sy opdragte per indiwidu en waaroor die oordeel sal val. Sy maatstaf is dan nie geloof en die stelling dat God liefde is nie.
    Maar wat het jy gedóén om te bewys dat jý Hom liefhet? Sy opdragte uitgevoer?
    Jakobus en Johannes skryf in hul sendbriewe dat geloof sonder werke binne God se wet dood is. En werke is per definisie bevordering van God se eer en deur die Koninkryk in my lewe en om my (Matt 5 en 6). Die Wet is immers liefde vir God en my naaste en Jesus se nuwe wet dat ons as dissipels mekaar moet liefhê. Dis Sy dissipels se kenmerk.
    Die NGK AS propageer die kerk se doel as “missionaal” en bedoel daarmee sosiale godsdiens (mens sentraal en godsdiens ondergeskik aan menslik bedinkte wetenskap. Kyk op hul webwerf en in Kerkbode.) en grootliks om die verbygaande aarde ’n beter plek te maak.
    Christus se hoofdoel is uitbou en opbou. Laat die toekoms van die aarde aan Hom oor, want “Kyk, Ek is met julle al die dae tot die voleinding van die wêreld. Amen.” In een bliksemstraal moment sal die bekende heelal verdwyn en vervang word deur die nuwe volmaakte en maar as 18 biljoen mense (ek skat ook die getal voor en na ons) nuwe egige liggame kry. En die kerk het Sy tyd gemors.

    3. Die vatikaan status wat die AS vir homself geskep het, met ex cathedra uitsprake soos die Gids en ander ongevraagde propaganda stukke vir eie agendas, maak inderdaad van gewone lidmate leke soos voor die Hervorming. Uitsprake van die moderator het die pouslike status bv soos dat sekere seksuele sondes “gawes” van God is. Diegene wat dit teenstaan vanuit die Skrif, beland in die wêreldse hof en word deur lang lyste vol handtekeninge van Fakulteite se lede intimideer. Die akademiese wette oor “verantwoordelike Skrifuitleg” ontmoedig juis ons lidmate tot leke oor Skrifverstaan, terwyl die Skrif eintlik so eenvoudig is. Hulle staan inderdaad in die deur sodat die wat wil ingaan, liewer verbysteek, na ander weivelde waar rus is.
    Tot ’n voorskoolse kind verstaan Genesis 1-11 se eenvoudige sober geskiedenisstyl. Jesus het God juis daaroor geloof. Matt 11:25, Luk 10:21.

    4. En dan word die Belydenisskrifte nie meer erken nie, behalwe op papier in die NGK. Dis uit druk weens gebrek aan aanvraag. Dit word ontmoedig as verouderde Skrifbeskouing deur die Akademie wat ons leraars oplei. Afwysend genoem in amptelike stukke (die gids oor AS gesag) en kommissies soos ATLAS. Preke verwys nie eens daarna nie maar na videos en teoloë.
    Die belydenisskrifte is verkrygbaar op http://www.bybelwaarheid/Kaapse groep.
    En dan wonder die kerk waarom lidmate die kerk in strome verlaat.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui