Vrystaat stem nee vir Belhar

Kyk ook:

Die Vrystaatse sinode was die derde sinode wat nie die wysiging van artikel 1 met ’n tweederdemeerderheid aanvaar het nie. (Die Oostelike sinode is die enigste sinode sover wat met tweederdemeerderheid “ja” gestem het. Daar is in totaal 10 sinodes, dus moet daar nog ses sinodes stem.) Inteendeel, die Vrystaatse sinode het met ’n groot meerderheid van 68% teen die wysing gestem.

In die artikel Belhar: Wat nou? hieronder stel Nelus Niemandt, moderator van die NGK, vyf alternatiewe voor. Die idee wat ’n mens kry is dat daar ’n irrasionele beheptheid met Belhar is. Dit laat ’n mens dink aan wat Dr Willie Marais in sy outobiografie geskryf het (kyk bylaag A).

Nelus sê: “Ek dink die NG Kerk is aan die begin van óf ’n geweldige aanpassing óf om stadig net irrelevant te raak – en daai keuse sal ons moet maak.”

Dit is interessant dat die NGK se leierskap glo dat die NGK se bestaan van Belhar afhang. Dit is waarskynlik omdat die NGK leierskap dink dat die verwerping van Belhar ’n rassistiese boodskap sal oordra (kyk Belhar verwerp ‘terugkeer na verlede’). Daar is egter baie ander dinge wat die NGK eerder irrelevant sal maak as die verwerping van Belhar. Na my mening sal die NGK irrelevant raak indien sy afwyk van wat die Bybel sê oor homoseksualiteit, saamwoon, Jesus se godheid en opstanding, redding, die gesag van die Skrif, ens.

************

Belhar: Wat nou?

KERK HET NOU VYF OPSIES, SÊ MODERATOR

Claudi Mailovich, Donderdag 19 Maart 2015 03:10

“Ek dink die NG Kerk is aan die begin van óf ’n geweldige aanpassing óf om stadig net irrelevant te raak – en daai keuse sal ons moet maak.”

Só het prof. Nelus Niemandt, moderator van die NG Kerk, Woensdag geantwoord op ’n vraag oor of die NG Kerk in sy huidige formaat sal kan voortgaan sonder enige veranderings.

In ’n onderhoud oor die kerk se planne vorentoe met die Belydenis van Belhar nadat die voorgestelde wysiging van Artikel 1 van die Kerkorde reeds drie keer nie ’n tweederde-meerderheid by sinodes kon kry nie, het Niemandt moontlike opsies vorentoe verduidelik. Vyf uit die tien streeksinodes het hul stemme reeds laat hoor.

“Die eerste ding wat baie duidelik is, is dat daar ’n beduidende groep lidmate is wat baie ernstig is oor Belhar,” het hy verduidelik.

“Dit moet ons nou hanteer. Wat ook al by die streeksinodes gebeur het, jy kan Belhar nie onder die mat vee nie. Dit is nie iets wat nou gaan verdwyn nie.”

Die belydenis sou as opsionele belydenisskrif in die NG Kerk se belydenisgrondslag opgeneem kon word met die wysiging van Art. 1.

Dit kan nou nie meer gebeur nie, omdat al tien sinodes en alle gemeentes met ’n tweederde-meerderheid ja moes stem vir die wysiging.

Niemandt het bespiegel oor moontlike paaie wat die NG Kerk vorentoe met Belhar sal kan stap.

  1. Die eerste is dat die proses rondom die wysiging van Art. 1 kan voortgaan totdat al die ligte eindelik groen skyn vir Belhar.
  2. ’n Tweede opsie is die skep van ’n nuwe kategoriale sinode, wat, anders as die ander sinodes wat geografies saamgestel is, kan bestaan uit gemeentes wat Belhar onderskryf. “Hulle bly binne die algemene sinode se verband, maar binne daardie kategoriale sinode, is Belhar dan deel van die bepalings van daardie sinode en die gemeentes ontwikkel ’n pad vorentoe.”
  3. ’n Derde opsie is dat sinodes wat Belhar reeds aanvaar het, die reg kry om dit binne hul bepalings op te neem. Die algemene sinode kan hiervoor toestemming gee omdat hulle reeds bepaal het Belhar is teologies in orde.
  4. Nog ’n opsie is assosiaatlidmaatskap wat reeds ’n aanvaarde beginsel in die NG Kerk is. Dit beteken ’n streeksinode kan aan meer as een kerkverband behoort.
  5. Die laaste en slegste opsie is volgens Niemandt dat gemeentes bloot kan oorskuif na die Verenigende Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika (VGKSA) waar die belydenis reeds aanvaar is. “ ’n Mens moet dit nie as ’n goeie plan beskou nie, want dan verdeel jy jou kerkverband. Dan los jy niks op nie. Dan het jy kerkskeuring wat jy glad nie wil hê nie. Ons werk dan nou juis aan kerkeenheid met die VGKSA,” het Niemandt gesê.

Die kompleksiteit van die huidige situasie rondom Belhar is volgens hom deels omdat die kerk nou besig is met belydenisvorming.

“Dit vat letterlik geslagte. Ek dink ons is aan die begin, nie die einde daarvan nie.”

Die lesse uit die stemmery

Prof. Nelus Niemandt, moderator van die NG Kerk, vertel daar is vyf lesse wat in dié stadium uit die stemproses oor die wysiging van Artikel 1 van die Kerkorde geleer is.

  1. Die manier waarop Art. 1 geformuleer is oor die konsep van “ruimte skep”, werk.
  2. Daar is geleer dat daar steeds beter gekommunikeer kan word.
  3. Die proses was te lank. Hy meen daar moes ’n tydperk van drie maande gewees het vir vinniger klarigheid.
  4. “Ek sou in ’n volgende keer die VGKSA baie meer betrokke wil hê. Ek sou wou sê hier is die mense wat geboorte geskenk het aan Belhar – kom ons nooi hulle in.”
  5. Hy meen baie lidmate het op die ou einde nie teologiese keuses oor Belhar gemaak nie, maar emosionele brood-en-botter-keuses. Volgens hom moet daar meer op daardie vlak verduidelik word oor wat Belhar beteken.

“Hoe die proses aangebied is, moes meer na die hart as na die kop gespreek het.”

“Ek dink die NG Kerk is aan die begin van óf ’n geweldige aanpassing óf om stadig net irrelevant te raak – en daai keuse sal ons moet maak.”

— Prof. Nelus Niemandt

Bylaag A

Willie Marais skryf in sy outobiografie “Man van God gestuur” (in die jaar 2000 uitgegee) verskillende interessante dinge. Lees hieronder en let op die dele in hoofletters, nl. “EENHEID MOET VERBREEK WORD…” en “ONTSLAE RAAK VAN KONSERWATIEWE ELEMENTE”

Die aanhoudende aanslae teen “behoudendes” in die NGK (en ook in ander kerke?) op soveel verskillende maniere, laat mens wonder of hierdie dinge nog steeds op die agenda is?

In Hoofstuk 73 (p. 149-151) onder die opskrif “Die leiersbyeenkomste in die V.S.A.” skryf Dr Willie dat hy in VSA in die geselskap was van leiers wat onder andere die situasie in Suid-Afrika bespreek het (daar is ongelukkig geen aanduiding van die presiese datums van die byeenkomste nie – waarskynlik laat tagtigerjare?).

Van die dinge wat hy sê is die volgende: “Die vernaamste struikelblok vir die daarstelling van ’n swart regering in Suid-Afrika is die eenheid onder die Afrikaners. HIERDIE EENHEID SAL EERS GEBREEK MOET WORD.” Hy skryf dat die dag toe Dr Andries Treurnicht uit die koukus van die NP gestap het, het hy hieraan gedink – hy het besef dat dit die begin van die verbrokkeling van die Afrikanervolk was.

By ’n volgende geleentheid was Dr Willie en sy vrou Maryntjie weer aan tafel met dieselfde spreker. Die gesprek het weereens oor Afrikaner-eenheid gegaan. Hierdie keer het die persoon gesê: “Daar is nog een struikelblok wat uitgeskakel moet word en dit is die Nederduits Gereformeerde Kerk. Dié kerk sal ook moet skeur OM VAN SY KONSERWATIERE ELEMENTE ONTSLAE TE RAAK.” Dr Willie sê dat sy bloed gekook het oor wat gesê is. Hy is daarna nie weer na hierdie leiersberaad uitgenooi nie.

Kort daarna het die verslag “Kerk en Samelewing” voor die AS (algemene sinode) gedien. Dr Willie het gewaarsku dat die kerk nie gereed was daarvoor nie en dat kerkskeuring kan plaasvind. Daar is nie na hom geluister nie en dit was die begin van die APK [in ongeveer 1987].

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui