Belhar verwerp ‘terugkeer na verlede’

Kyk ook:

Hierdie volgende artikel het in Beeld verskyn en impliseer dat mense wat teen Belhar is, rassisties is.

*********

Belhar verwerp ‘terugkeer na verlede’

– Neels Jackson Vrydag 23 Augustus 2013 01:35

As die NG Kerk finaal sou nee sê vir die Belhar-belydenis, sal dit baie sleg wees vir lidmate vir wie dit reeds ’n belydenis is, het prof. Nelus Niemandt, moderator, gesê.

Op ’n vraag oor watter scenario oor die kerk se hantering van Belhar hom laat wakker lê, het Niemandt verwys na diegene wat ontuis kan voel in die NG Kerk as die kerk Belhar sou verwerp.

Hy dink aan die kerk as ’n tuin wat groei. Saad word gesaai, maar alles kom nie ewe gou op nie. Party kom glad nie op nie. Die Belhar-saad het in dele van die kerk, soos die Wes-Kaap, goeie, vrugbare grond gevind, maar op ander plekke nie.

Daar is mense wat voel hul omhelsing van eenheid, versoening en geregtigheid soos dit in Belhar verwoord word, bevry hulle van die verlede en maak ’n toekoms vir hulle oop. As die kerk Belhar nie aanvaar nie, kan hy voorsien dat daar gemeentes sal wees vir wie hul verhouding met ’n bruin buurgemeente wat Belhar onderskryf belangriker gaan wees as dié met ’n plattelandse gemeente ver weg wat Belhar verwerp.

Niemandt meen as die NG Kerk Belhar sou verwerp, sal dit wyd gesien word as ’n terugkeer na apartheid. Baie gemeentes en lidmate wat reeds positiewe besluite oor Belhar geneem het nie, sal moeilik daarmee kon saamleef.

Hy vra van lidmate ’n ruimhartigheid teenoor mense met ander sienings as hul eie. Daar is in die kerk genoeg wat mense wat hieroor verskil, steeds saambind, het hy gesê.

Kommentare

eleanor butler

As dit nie boelie is nie dan weet ek nie. Ek is `n Christen ongeag, sonder om my te onderwerp aan allerlei belydenisskrifte. Ons het in ons jeug geloof bely en bekeer en uiteindelik moes ons die Heidelbergse kategismes en wie weet watter ander mens saamgestelde belydenisskrifte uit ons kop leer. Indien ons nie al die vrae in die finale “eksamen” omtrent uit ons “koppe” kon beantwoord nie, is ons nie aanvaar as belydende lidmate nie. Gaan dit nou ook van al die “nuwe lidmate ” verwag word om die Belhar te ken en te bely? Vandag se kinders word grootgemaak met die idee dat liefde vir ander netso belangrik is as liefde vir self en God. Is dit dan nooit genoeg nie? Kan ons dit dan nie netso goed uit die Bybel leer nie?

Wynand Louw

Prof Niemandt beweer dus dat die wat Belhar verwep ras rassiste gesien sal word? Is dit nie soos die kommentaar hierbo sê afpersing nie?

Daar is baie mense wat glo dat Belhar nie ooreenstem met die Byble nie omdat Belhar beweer dat God op ’n besonderse wyse die God van die armes, noodlydendes en verontregtes is. Alhoewel die Bybel dit duidelik stel dat God omgee vir die armes en hulle lief het, is die Bybel ook ondubbelsinnig daaroor dat ALLE mense in sonde ontvang en gebore is, van nature geneig is om God en hulle medemens te haat en daarom van nature onder die heilige toorn van God staan. Dus: Of jy nou arm of ryk is, of jy onderdruk of onderdruk word, ELKE MENS is ’n vyand van God totdat God jou wederbaar op grond van sy onbeskryflike genade deur die kruisdood van Jesus Christus.

Dus is alle armes, net soos alle rykes, vyande van God totdat Hy deur die wedergeboorte op ’n besonderse wyse hulle God word.

En dit het NIKS te doen met hulle finansiele of politieke status nie.

Prof Niemandt, is ek ’n rassis omdat ek die Bybel op ’n Gereformeerde manier interpreteer? Glo u werklik die Sinode van Dortrecht sou nie met my saamstem nie?

Vergewe my asb Prof Niemandt, maar u insinuasie dat ek ’n rassis is is kwetsend. Dit maak seer.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui