Noord-Kaapland stem nee vir Belhar

Kyk ook:

Die volgende artikel het in Netwerk24 verskyn waar berig word dat die Noord-Kaaplandse sinode die tweede sinode is (naas Namibië) wat nee gestem het vir die wysiging van artikel 1. Let ook op na die kommentare onderaan die artikel.

*********

Nog ’n sinode sê nee vir wysiging

Net 57 afgevaardigdes in Kimberley stem ja

Deur Claudi Mailovich Dinsdag 10 Maart 2015 05:10

Net 33,9% lede van die NG Kerk se Noord-Kaaplandse sinode het Maandag in Kimberley ten gunste van die wysiging van art. 1 van die Kerkorde gestem.

Dit is die tweede sinode – die eerste was dié in Namibië – waar ’n tweederdemeerderheid van ja-stemme nie gehaal is nie.

Volgens ds. Mossie Mostert, ’n predikant in sinodale diens in Noord-Kaapland en skriba van die sinode, is 168 stemme uitgebring.

Altesaam 57 was ja-stemme en 111 nee-stemme.

Die wysiging is nodig om die Belydenis van Belhar as deel van die NG Kerk se belydenisgrondslag te aanvaar.

Die algemene sinode kan eers oor die wysiging stem as al die sinodes en gemeentes met ’n tweederdemeerderheid ten gunste daarvan stem.

Volgens dr. Kobus Gerber, hoofsekretaris van die NG Kerk, is op Maandag se sessie geluister na die NG Kerk in Afrika, die Verenigende Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika en die Reformed Church in Africa oor dié brandpunt in die kerk. Die Noord-Kaaplandse sinode sal vandag die pad vorentoe bespreek.

Die NG gemeente in Orania het vroeër al op Facebook gesê hy gaan teen die wysiging van die Kerkorde stem.

Carel Boshoff, voorsitter van Orania se kerkraad, het op Facebook geskryf drie sake moes ’n rol in gemeentelede se besluit speel: Eerstens is daar groot onenigheid in die kerk en selfs lidmate wat die meriete van die Belydenis van Belhar se inhoud insien, wil nie hê dit moet tot belydenisskrif verhef word nie.

Verder is die insluiting van ’n belydenisskrif waarin lidmate die keuse sal hê of hulle dit wil bely of nie, iets wat die kerk se verbintenis tot die belydenisgrondslag in “die algemeen ondermyn”.

Die opsie om te kan kies sodat ruimte vir Belhar geskep word, word ook as ongewens teenoor die belydenisskrif beskryf.

Daar word ook genoem dat die algemene sinode se voorstel nie verfyning toelaat nie, maar net ’n “eenvoudige ja of nee vir die nuwe belydenisskrif én die opsionele onderskrywing daarvan vereis”.

KOMMENTARE

Abri Jacobs

Baie dankie aan Noord Kaap en Namibie, julle maak ons baie trots en ons hoop om dieselfde resultaat te sien van die ander Sinodes. Ek hoop die NG kerk en die suster kerke kan hier uit die boodskap kry dat daar nou energie gespandeer moet word om die kerk te red en nie energie hiermee te vermors nie. Dit is nie wat ons as lidmate wil he nie.

Willem Agenbag

Stem 100% saam!

Cobus Botha

Puik, Noord-Kaap! Nog ’n oorwinning vir redelikheid.

Hoop al die ander sinodes en gemeentes volg hierdie uitstekende voorbeeld.

maarten griffioen

Nou gaan daar seker met die broeders wat nee gestem het vergader word om vas te stel hoekom hulle nee gestem het. Hoekom vergader hulle nie met ja-stemmers nie. Ironies nê

Abri Jacobs

Neels het mos reeds gesê hulle gaan dan met almal weer onderhandel/vergader en uitvind hoekom hulle dit nie ondersteun nie en dan gaan hulle weer vir ’n nuwe verkiesing vra. Hulle sal voortgaan tot hulle die ja- antwoord kry of tot die grondwet van die kerk verander is om nie die stemming nodig te he nie.

Rudie Thirion

Die NG Kerk het nie ’n grondwet nie. Dit het ’n Kerkorde en Reglemente. Die Kerkorde mag net deur die Algemene Sinode verander word met ’n tweederdemeerderheidstem. Artikel 44.1 en 44.2 mag net verander word “as elke sinode afsonderlik met ’n tweederdemeerderheid én twee derdes van alle kerkrade elk met ’n tweederdemeerderheid ten gunste daarvan besluit het.”

Dus nee, die “grondwet” of kerkorde oor die belydenisse en die proses van verandering van die belydenisse kan nie op ’n ander manier as hierdie proses wat nou gevolg word, verander word nie. So “hulle”, wie de ongeluk dit ookal mag wees kan dit nie doen nie.

B B

Na my mening gaan die Belhar debakel, gereduseer tot sy eenvoudigste, oor die volgende: daar is diegene in die NG Kerk wat met apartheid bagasie sit. Gewoonlik van die ouer generasie. Hulle voel hul geroepe om ’n tipe van ’n Adriaan Vlok gebaar te maak teenoor die bruin gemeenskap (die VGK). Belhar is die gebaar. Dan is daar die bruinmense wat ’n paar apartheid byltjies te slyp het met die NG Kerk (lees: die Afrikaner). Geen hereniging todat die boere nie behoorlik verskoning maak nie. Enige verdere debatte oor veral die teologie van Belhar is vir my agtergrond geraas.

As NG Kerk lidmaat (met twee jong kinders by die jeuggroepe betrokke) verwerp ek enige politiekery asook ’n vorige, ouer generasie leraars se onafgehandelde sake wat betref apartheid. Ek waardeer daardie bona fide mense wat Belhar dryf vir nie-politiese redes maar vra dat hulle die ding nou uitlos. Belhar beteken niks vir my nie, nog minder hereniging met ’n ander kerk wie ek nie ken nie. My gemeente is oop vir almal en ons doen fenomenale welsynwerk onder alle gemeenskappe. Ons leef in die 21ste eeu, ni…

Rudie Thirion

Goeie bydrae BB. Ek glo daar is wel mense wat bona fide ondersteuners van Belhar as hedendaagse belydenis is, buite jou stok of skuld paradigma. Ek self het nog nie my finale opinie gevorm of Belhar wel aan die vereistes van ’n belydenis voldoen nie. Die waarde wat ek wel daarin sien is dat dit juis vandag vir ons sê wat dit vir die verdruktes van 3 dekades gelede gesê het noudat die skoen by wyse van spreke aan die ander voet is. Ek dink ook dat die boodskap van Belhar ook steeds van krag is vir die miljoene armes in die land wat nie noodwendig deur hulle eie toedoen in daardie omstandighede beland het nie. Die maghebbers van die land is besig om hulle gruwelooslik in die steek te laat met hulle plundering van fondse wat eintlik aaangewend moet word om nood te verlig. Belhar is dus steeds ’n getuienis teenoor die owerhede. Ek dink dit verskaf juis ook die grondslag en motivering vir die fenominale welsynswerk wat julle gemeente doen en alle ander gemeentes behoort te doen. Hiermee sê ek natuurlik nou nie dat ander gemeentees dit nie doen nie.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui