Waaroor gaan die Belhar stemmery?

Kyk ook:

Die NG Kerk vra van sy lidmate om te stem oor die verandering van Artikel 1 van die Kerkorde. Wat behels dit?

Die huidige Artikel 1

Die Nederduitse Gereformeerde Kerk staan gegrond op die Bybel as die heilige en onfeilbare Woord van God. Die leer wat die Kerk in ooreenstemming met die Woord van God bely, staan uitgedruk in die Formuliere van Eenheid soos vasgestel op die Sinode van Dordrecht in 1618-1619, naamlik die sewe en dertig artikels van die Nederlandse Geloofsbelydenis, die Heidelbergse Kategismus en die vyf Dordtse Leerreëls.

Dit is duidelik dat daar nie in die artikel melding gemaak word van die Belydenis van Belhar nie. Nou vra die kerk dat Artikel 1 as volg gewysig moet word sodat Belhar ook deel van ons “belydenisgrondslag” kan word.

Die voorgestelde Artikel 1

1 Die Nederduitse Gereformeerde Kerk is gegrond op die Bybel as die heilige en onfeilbare Woord van God.

2.1 Die leer wat die Kerk in ooreenstemming met die Woord van God bely, word verwoord in die ekumeniese belydenisse, naamlik die Apostoliese Geloofsbelydenis, die Geloofsbelydenis van Nicea en die Geloofsbelydenis van Athanasius; en die Drie Formuliere van Eenheid, naamlik die Nederlandse Geloofsbelydenis, die Heidelbergse Kategismus en die Dordtse Leerreëls.

2.2 Die Belydenis van Belhar is deel van die belydenisgrondslag van die Kerk, op so ʼn wyse dat daar ruimte is vir lidmate, ampsdraers en vergaderinge wat dit as in ooreenstemming met die Woord van God bely, sowel as vir lidmate, ampsdraers en vergaderinge wat dit nie as ʼn belydenisskrif onderskryf nie.

3 Die Kerk aanvaar dat haar roeping om haar geloof te bely, altyd geld en dat ʼn uitbreiding van haar belydenisgrondslag sonder dwang geskied.

Die voorstel/versoek vanaf die Algemene Sinode vir die wysiging van Artikel 1 berus daarop dat die Belydenis van Belhar op ‘n opsionele basis deel word van die “belydenisgrondslag” van die kerk. Daar is baie onduidelikheid oor wat dit behels. Die ingewikkelde stemprosedure, maak dit alles nie makliker nie.

Vir die NG Kerk om Belhar as deel van die belydenis te maak moet:

  1. Al tien streeksinodes met ’n tweederdemeerderheid ja stem vir die wysiging, en
  2. Tweederdes van alle gemeentes (nie net die kerkrade nie) met ’n tweederdemeerderheid ja stem.

Terloops, let daarop dat die Apostoliese Geloofsbelydenis, die Geloofsbelydenis van Nicea en die Geloofsbelydenis van Athanasius nou “bygevoeg” word tot Artikel 1. Hierdie is egter ekumeniese belydenisstrifte, maw hierdie word reeds tradisioneel deur die NGK en al die ander kerke in die wêreld aanvaar. Hierdie drie belydenisskrifte is ook vervat in die Handboek van die erediens, wat op kansels in die NGK lê en waaruit die predikant die Apostoliese Geloofsbelydenis (12 Artikels) elke Sondag lees. Die Apostoliese Geloofsbelydenis is ook reeds vervat in die Heidelbergse kategismus. Daar is geen probleem om punt 2.1 tot Artikel 1 by te voeg nie, maar dit voeg in werklikheid geen waarde toe tot die huidige Artikel 1 nie. Dit is ’n voor die hand liggende stelling. Mense moet daarom nie mislei word dat die wysingings tot Artikel 1 waarde toevoeg nie.

In die lig daarvan het ek ’n poging aangewend om die saak skematies voor te stel.

SKEMATIESE VOORSTELLING VAN DIT WAARVOOR ONS STEM

Belhar opsioneel deel van die belydenisgrondslag

alt

Theo Danzfuss het ’n voorstelling gemaak van wat die implikasie van ’n “Ja” stem vir die opsionele insluiting van die Belhar Belydenis is:

alt

Let daarop dat hierdie voorgestelde verandering nie gaan help om eenheid tussen die NG Kerk en VGK te bewerkstellig nie (kyk Moderator (VGK) sê oor Belhar).

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui