VGK wil Belhar se sweer oopkrap

Kyk ook:

In die artikel VGK wil Belhar se sweer oopkrap antwoord die VGK op die stemuitslag van die Vrystaatse Sinode.

Nelus Niemandt sê: “Die aandrang op die aanvaarding van Belhar as ’n belydenisskrif gaan egter nie verdwyn nie,”. ’n Mens wonder net wat die VGK sou doen indien die NGK ook ’n belydenis opgestel het wat homself uitspreek teenoor die ongeregtighede van regstellende aksie (wat natuurlik hoofsaaklik op blankes gemik is) en van die VGK verwag het om hierdie belydenis te aanvaar as voorwaarde vir kerkeenheid.

************

VGK wil Belhar se sweer oopkrap

‘Gemeentes onbewus van dié ooreenkoms’

Vicus Bürger, Donderdag 19 Maart 2015 03:00

Die Verenigende Gereformeerde Kerk (VGK) sal aanhou om met die NG Kerk te praat, maar dan moet die sweer oopgekrap en indringend oor die kwessie rondom Belhar gesels word.

Só het dr. Dawid Kuyler, skriba van die VGK se Algemene Sinode, Woensdag gesê.

“Sommige predikante (van die NG Kerk) het onwaarhede en halwe waarhede oor die Belydenis van Belhar verkondig. Dit moet ook op die tafel gesit word. Jy kan nie ’n sweer met ’n pleister toeplak nie.”

Dit kom nadat ds. Helgard Janse van Rensburg, Vrystaatse moderator van die NG Kerk, aan Volksblad gesê het hoewel hulle nog nie datums en afsprake vasgemaak het nie, wil hy en ander lede van die moderamen graag met die VGK en NG Kerk in Afrika gesels.

Dit is volgens Janse van Rensburg om “onsekerhede” uit die weg te ruim en “te bou aan verhoudings vir die toekoms”.

Op die Vrystaatse sinode wat Dinsdag in Bloemfontein gehou is, het 68% van die teenwoordiges teen die voorgestelde wysiging van Artikel 1 van die kerkorde gestem.

Dus het dié sinode besluit dat die Belydenis van Belhar nie deel van die Kerk se belydenisgrondslag moet wees nie.

Daar is egter ruimte geskep vir diegene wat dié belydenis wel wil aanvaar en bely.

Nóg ’n voorstel om te verklaar dat die sinode verbind is aan die VGK, die NG Kerk in Afrika en die Reformed Church in Africa en “dat ons daadwerklik wil soek na groter uitdrukking van ons eenheid in Christus . . .” is ook aanvaar.

Kuyler, wat ’n besoeker op die Vrystaatse sinode was, het gesê dit was ’n groot teleurstelling dat teen die wysiging gestem is, maar hy is dankbaar vir die predikante en lidmate in die NG Kerk in die Vrystaat wat Belhar ondersteun en dat dié belydenis nie heeltemal van die tafel afgevee is nie.

Hy het egter gesê die verhouding tussen die VGK en NG Kerk word nadelig beïnvloed waar gemeentes nie Belhar as ’n belydenisskrif wil aanvaar nie.

Belhar het uit die VGK ontstaan.

Daar is volgens Kuyler reeds ’n ooreenkoms gesluit tussen die NG Kerk se Algemene Sinode en die VGK om te herenig. As deel van dié ooreenkoms moet Belhar deel van die NG Kerk se belydenisgrondslag wees.

“Dit is asof gemeentes (in die Vrystaat) nie van dié ooreenkoms bewus is nie,” het Kuyler gesê.

[Hier word waarskynlik verwys na die ooreenkoms geteken op 10 April 2013. Dit is egter nie duidelik wat Kuyler hiermee wil sê nie. Die ooreenkoms sê bloot dat die leierskap van die NGK en VGK in beginsel kerkeenheid ondersteun en dat die NGK sal begin, deur die regte kerkordelike proses om Belhar aanvaar te kry wat as ’n voorwaarde vir eenheid gelys is in die ooreenkoms.]

Prof. Nelus Niemandt, moderator van die algemene sinode, het gesê hy is bly oor die goeie gesindheid tussen lede van die Vrystaatse sinode en dat hulle na mekaar geluister het.

Dit is vir hom ook positief dat die sinode klaarblyklik besef het hoe belangrik die kwessie rondom Belhar is.

“Die aandrang op die aanvaarding van Belhar as ’n belydenisskrif gaan egter nie verdwyn nie,” het Niemandt gesê.

Uitslae bekend

Só het lidmate, gemeentes en kerkrade van die NG Kerk in die Vrystaat gestem rakende die voorgestelde wysiging van Artikel 1 van die kerkorde:

  • Altesaam 149 gemeentes in die Vrystaat het die rooi lig vir die wysiging van Artikel 1 van die kerkorde gegee, terwyl dit in 8 gemeentes goedgekeur is.
  • Altesaam 22 116 (sowat 27%) van 82 417 belydende lidmate het gestem.
  • Twee gemeentes het nie deelgeneem nie.
  • Altesaam 10 gemeentes het ’n stempersentasie laer as 10% en 18 gemeentes het ’n stempersentasie tussen 11% en 20%.
  • Slegs 1 gemeente het 100% ten gunste van die wysiging van Artikel 1 gestem, terwyl 11 gemeentes 100% daarteen gestem het.
  • Altesaam 5 kerkrade was 100% ten gunste van die wysiging, terwyl 36 kerkrade 100% daarteen was.
  • Die aantal gemeentes waar kerkrade en gemeentes met ’n tweederde-meerderheid ten gunste van die verandering van Artikel 1 gestem het, is agt.
  • Altesaam ses gemeentes het geen finale stemming uitgebring nie.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui