Moderator verhoed om te praat by Vrystaatse sinode

Ten spyte daarvan dat die meerderheid NGK gemeentes in die Vrystaat teen die wysiging van artikel 1 gestem het, het die Vrystaatse sinode besluit dat die NGK moderator, Nelus Niemandt, nie die sinode mag toespreek nie (Niemandt is pro Belhar). Die artikel ’n Stem is gesnoer, sê leraar hieronder berig hieroor.

Dit is waarskynlik as gevolg van wat in die Oostelike sinode (Pretoria, Middelburg, Groblersdal, ens) gebeur het: die meerderheid gemeentes in die Oostelike sinode het nee gestem, maar die Oostelike sinode self, waar Nelus Niemandt ’n spreker was, het ja gestem. Dus het die sinodegangers nie hulle gemeentes se stem verteenwoordig nie.

*********

’n Stem is gesnoer, sê leraar | Netwerk24

Algemene sinode kry nie spreekbeurt

Deur Vicus Bürger, Dinsdag 17 Maart 2015 03:40

Die NG Kerk se algemene sinode mag nie vandag die teenwoordiges op die Vrystaatse sinode in Bloemfontein toespreek nie, want die streeksinode se moderamen sê hy wil nie hê mense moet onregmatig beïnvloed word nie.

Die sinode in die provinsie moet vandag vir of teen die voorgestelde wysiging van Artikel 1 van die kerkorde stem. Dít kom nadat die oorweldigende meerderheid van Vrystaatse gemeentes reeds vir die wysiging nee gesê het.

Prof. Nelus Niemandt, moderator van die algemene sinode, het Maandag aan Volksblad gesê hulle is baie teleurgesteld dat hulle nie ’n spreekbeurt op die Vrystaatse sinode gaan kry nie.

“ ’n Stem is gesnoer,” het Niemandt gesê.

Die algemene sinode sou graag inligting oor die algehele stemproses wou gee en ook sy standpunt stel. Die algemene sinode onderskryf die Belydenis van Belhar. Hulle is ook ten gunste van die Art. 1-wysiging wat ruimte wil maak vir die aanvaarding of nie van die Belydenis van Belhar deur gemeentes en hul lidmate.

Dr. Carin van Schalkwyk, skriba van die NG Kerk in die Vrystaat, het gesê volgens die Kerk se regulasies mag stemme nie op die sinode gewerf word nie en daarom is die algemene sinode se versoek vir ’n spreekbeurt van die hand gewys. Niemandt het egter gesê hy verskil van die moderamen oor die vertolking van die betrokke regulasie.

Volgens ds. Helgard Janse van Rensburg, Vrystaatse moderator van die NG Kerk, het hulle aan die algemene sinode gesê hulle is welkom om ’n verteenwoordiger te stuur om by die sinode te kom waarneem.

Die moderamen in die Vrystaat wou egter nie aan hulle ’n spreekbeurt toestaan nie, want volgens hom wil hulle hê stemming moet kan plaasvind sonder dat enige van die verteenwoordigers beïnvloed word, het Janse van Rensburg gesê. “Daar moet van geen kant af druk op die vergadering geplaas word nie. Daar was reeds ruim tyd vir debatvoering.”

Janse van Rensburg het gesê die moderamen in die provinsie se standpunt is dat argumente vir of teen Belhar al op twee sinodesittings – een was ’n gewone sitting en die ander buitengewoon – in die Vrystaat plaasgevind het.

Dit is volgens die moderamen belangrik dat nou gestem word.

Ds. Jan Lubbe, leraar van die NG kerk Berg-en-Dal in Bloemfontein en voormalige Vrystaatse moderator, het gesê hoewel daar diep verdeelheid is, twyfel hy of dit tot ’n skeuring sal lei.

“Ons wil nie mekaar verloor nie . . . Daar gaan voorstelle kom op soek na eenheid, eerder as verdeeldheid.”

Janse van Rensburg sê ook: “Ons kan nie mekaar los nie.”

Volgens hom is daar ’n bereidwilligheid van albei kante om na mekaar te luister.

Intussen het ’n groep van 35 Vrystaatse predikante en lidmate wat Belhar onderskryf, ’n verklaring onderteken wat op Kerkbode se webtuiste geplaas is.

“Ons ondersteun die voorgestelde wysiging van Art. 1 van harte. Daarin maak ons ruimte vir mekaar, respekteer ons mekaar se oortuigings, vat ons hande en bou ons saam aan die eenheid in die NG Kerk en die NG Kerk-familie,” lui die verklaring.

Hulle het ander ook genooi om hul name tot die lys te voeg.

■ Dr. Kobus Gerber, algemene sekretaris van die NG Kerk, het Maandag gesê vier van die tien sinodes het al gestem.

Die Noord-Kaap en Namibië se stemme het albei die nee-stem gegee, terwyl die Oostelike sinode en Oos-Kaap ten gunste van die wysiging gestem het.

Daar is volgens hom nog gemeentes wat ook nog moet stem.

Kommentare

Riaan van Zyl

Julle gemeentes het hul begeertes uitgespreek. Julle moet volgens julle gemeentes se wense stem.

Matthys C.J De Beer

Die NG Kerk kan homself nie eers bestuur nie, maar is fluks en vinnig om vir ander voor te skryf hoe en wat om te doen.

Cobus Botha

Niemandt en sy trawante is duidelik nie gelukkig omdat die stemming nie volgens hulle draaiboek verloop nie. Kry julle nie die boodskap nie, Niemandt? Hier is dit weer: ’n oorweldigende meerderheid van Vrystaatse gemeentes het reeds NEE gestem vir die Boesak-maaksel. So ook Namibië en Noord-Kaap.

George Bekker

Uit die berig is dit duidelik dat Niemandt se moraliteit bedenklik is en hy selfs ’n neiging tot magsmisbruik het. Selfs met net een sinode se teenstem is daar geen ander keuse nie as om na die beginpunt terug te keer en sake van voor af te oorweeg. Myns insiens het die NGK net een pad om te loop. Om voorlopig van vereniging met die VGK af te sien en ernstige samesprekings met die Hervormde Kerk en die Gereformeerde Kerk te begin. Dit is dringend nodig dat al die Afrikaanse kerke op die platteland, wat finansieel geweldig swaar kry, verenig. As die ou “blanke” kerke verenig is moet vereniging van die hele familie verder gevoer word. Verdere verdeeldheid durf nie ’n opsie wees nie.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui