Namibië stem nee vir Belhar

Kyk ook:

Hier volg drie artikels wat berig oor die sinode van Namibië wat die eerste sinode is wat teen die wysiging van artikel 1 gestem het. Streng gesproke kan die wysiging van aritkel 1 nie meer voortgaan nie, ongeag die res van die land se stemresultate.

Let ook op na die kommentare onderaan die artikels.

*********

Vrae ná terugslag met Belhar

NGK wil weet oor redes vir nee-stem

Claudi Mailovich

Dinsdag 24 Februarie 2015 04:30

‘Hier is iets groots aan die gebeur in die NG Kerk. Die vraag is: Hoe stuur ons dit?”

So het prof. Nelus Niemandt, moderator van die NG Kerk, Maandag gesê nadat die Nami­biese sinode teen die wysiging van art. 1 van die Kerkorde gestem het. Daarsonder kan die Belydenis van Belhar nie as grondslagbelydenis aanvaar word nie.

Die kerk se moderamen vergader tot Woensdag in Pretoria waar die Namibiërs se besluit een van die punte op die agenda is.

Elk van die tien sinodes moet ’n tweederdemeerderheid ja-stemme kry om die algemene sinode toe te laat om finaal oor die wysiging van art. 1 te besluit. Twee-derdes van alle gemeentes moet ook met ’n tweederdemeerderheid ja stem.

Indien art. 1 goedgekeur is, sou Belhar as deel van die NG Kerk se belydenisgrondslag opgeneem word, met die opsie om dit te bely of bloot te ignoreer.

Die opsie is voorgestel om ruimte te skep vir diegene wat sterk voel oor Belhar, hetsy vir of teen.

“ ’n Mens sal presies moet verstaan hoekom mense nie daai ruimte wou gee nie,” het Niemandt gesê.

“ ’n Klein getal mense het die vermoë om ’n groot klomp mense se wense teen te staan.”

Ondanks die terugslag is dit vir hom duidelik dat daar baie mense is wat die belydenis goedgesind is en dié positiwiteit moet volgens Niemandt gekanaliseer word. Daar sal ook met die stemproses landwyd voortgegaan word.

Hoewel die wysiging van art. 1 die meeste stemme – 57 teen 40 – in die Namibiese sinode gekry het, was dit nie genoeg nie.

Ds. Pine Pienaar, moderator van die NG Kerk in Namibië, het gesê ’n vergadering sal gehou word waarin diegene wat nee gestem het, ’n verduideliking moet gee.

Hulle vergader ook vandeesweek met die Verenigde Gereformeerde Kerk (VGK) in Windhoek oor hoe hulle die besluit ervaar.

Pienaar en Marais sê ’n nee-stem is nie eenvoudig net ’n weiering om ruimte te skep vir Belhar nie.

Daar is baie redes – sommige het byvoorbeeld nee gestem omdat hulle glo gefrustreerd was met die omslagtige kerkordelike prosesse en selfs omdat hul glo Belhar word nie na waarde geskat indien dit opsioneel as belydenis sou wees nie.

Vir Pienaar moet ’n gesprekpad nou geloop word.

“Ons kan nie dit wat ons oor soveel jare gewen het, laat skade ly weens misverstande met die stemming nie.”

Kommentare

Willem Botha

Dit is een van die redes waarom die NGK leegloop – die voortdurende omstrede beginsel veranderings van die Sinodes. Hoekom moet ons Belhaar aanvaar – ek is my hele lewe lank nog lid van die NGK, gaan baie gereeld kerk toe en was nog nooit in n diens waar daar teen iemand gediskrimineer is nie. Die verlede is die verlede, focus op die toekoms om die NGK te laat groei in getalle deur die mense wat die kerk gebou het en nie die konkelaars en politieke kriminele nie! Geen kerkraadslid of predikant het my gevra of ek bereid sou wees om die belhar beleidenis te aan vaar nie, of n stemming in ons gemeente daaroor gehou nie! Dit klink vir my na gatkruipery by Boesak en sy trawante!!

george wagener

Lyk my dis n gestry oor die dinge van die Here in plaas van die Here van die dinge.

Piet Piet

Mat 15:12 Daarop kom sy dissipels nader en sê vir Hom: Weet U dat die Fariseërs, toe hulle die woord hoor, aanstoot geneem het?
Mat 15:13 Maar Hy antwoord en sê: Elke plant wat my hemelse Vader nie geplant het nie, sal ontwortel word.
Mat 15:14 Laat hulle staan; hulle is blinde leiers van blindes. En as ’n blinde ’n ander blinde lei, sal altwee in die sloot val.

george wagener

Moelik om te glo dat almal dieselfde Heilige gees ontvang het. As ons almal een is in Christus, dan sal Christus tog nie met Homself kan verskil nie. Godsdiens versus Heilige gees.

A VAN JAARSVELD

Kan nie glo dat daar nog mense is wat hulle steur aan dit wat die NGK besluit en hoe die Kerk die Bybel interpreteer nie. Wat n’ totale mors van tyd! Vandat ek myself van die instansie bevry het wat sedert my kinderdae die leuens van sonde en die ewige verdoemenis aan my opgedwing het, was die lewe vir my n’ genietvolle avontuur – minus die skuldgevoelens! Kom by, mense!

Willem Liebenberg

Soooo… Prof Nelus, kan u vir my die volgende vraag beantwoord – Hoekom bestaan die kerk? Die antwoord is eenvoudig – ter wille van Jesus Christus, nie waar nie? Is ons nie volgelinge van Hom nie. Nou, die groot vraag – sou Jesus die Belhar Belydenis aanvaar het ter wille van kerk-eenheid of sou Hy bloot gestaan het op die skrif. Ek persoonlik verstaan nie waarom daar allerhande belydenis skrifte ook aanvaar moet word nie. Die Bybel, die Woord van God behoort die enigste riglyn te wees.

Feit is die Belhar Belydenis het ontstaan tydens die struggle jare en nou probeer die NG Kerk hierdie gemors aanvaar te kry ten einde nog ’n skuldgevoel in die bed te sit. Diegene wat die Belhar Belydenis geskep het, het van die verhoog af verkondig: Met my Bybel in my een hand en ’n masjiengeweer in die ander hand sal ons Suid-Afrika bevry”. Sou Jesus dit doen Prof Nelus – ek glo nie, maar jy wil dit om een of ander duistere rede aanvaar kry. Ek kry die NG Kerk werklik jammer. Hulle probeer bloot polities korrek optree net soos tydens apartheid. Ons beleef nou omgekeerde apartheid. Di

Cobus Botha

He he hie hie ha ha…en toe kry Niemandt en die ander links-radikale propagandiste lekker bloedneus. Nou moet die wat “nee” gestem het skielik julle simpel vrae beantwoord! Wie dink julle is julle?

Die referendum is deur julle gereël met julle reëls, en steeds is die mense nie ’n rat voor die oë gedraai nie. Aanvaar dit nou en gooi die diskriminerende stuk Boesak-snert in die see waar dit hoort.

Roelof Jakobus Janse van Vuuren

Nelus, klink vir my eerder dis ’n klein getal mense wat hulle wil op die meerderheid wil afdwing.

Marius du Plessis

Twee dinge; i) die dubbelsinnigheid van hoe artikel 2.2 verwoord is en ii) die skelm manier om Belahr by die agterdeur in te kry ter will van iemand/ groep/ skuldgevoel… Nie gelukkig met hierdie proses nie. Dr. du Plessis

Chris Nel

Kan iemand net vir my se wie die ene Marais is wat in die artikel aangehaal word?

Briewe

Daarom het NG lidmate nee gesê vir Belhar

Sondag 22 Februarie 2015 22:58

Prof. Nelus Niemand is teleurgesteld, omdat die NG lidmate in die Vrystaat nee gesê het vir Belhar (17/02). Hy sê Belhar is ’n “verklaring deur mense dat hulle in Suid-Afrika wil bly . . . en nooit weer die pad van apartheid wil stap nie”. Dit is andermaal ’n erkenning van die NG leierskap dat Belhar oor “apartheid” gaan.

Ek dink wat die lidmate van die NG Kerk in die Vrystaat vir die kerkleierskap met die nee-stem wil sê, is:

  • Ons het amptelik van apartheid afstand gedoen toe ons die politieke mag aan ons swart landgenote oorhandig het.
  • Ons wat oorgebly het in Suid-Afrika bid vir ons land en doen ons beste om onder moeilike omstandighede ’n positiewe bydrae te lewer en om van ons land ’n sukses te maak.
  • Dit is vir ons vermoeiend om steeds uit allerhande oorde te moet hoor dat die probleme van Suid-Afrika toegeskryf moet word aan apartheid (Jan van Riebeek se mense).
  • Dit is nie vir ons aanvaarbaar dat een lid van die NG Kerk-familie, naamlik die VGK, ons gyselaar wil hou en nie met ons oor kerkeenheid wil praat as ons nie hul Belharbelydenis wil onderteken nie.

Jan Louw

[sic]Bloemfontein [Reitz]

*********

‘Belhar maak pad na eenheid baie langer’

Claudi Mailovich, Woensdag 25 Februarie 2015 05:00

Die verwikkelinge in die NG Kerk oor die Belydenis van Belhar gaan die pad na eenheid veel langer maak en die Verenigende Gereformeerde Kerk van Suid-Afrika (VGKSA) gaan dit met hulle bespreek.

Die VGKSA het ’n memorandum van ooreenkoms met die NG Kerk aangegaan en hulle volstaan daarmee, het dr. Dawid Kuyler, skriba van die kerk, gesê.

Hy het gereageer op ’n navraag van Beeld oor die gevolge van die stemming van die NG Kerk se Namibiese sinode Saterdag in Windhoek.

Die sinode kon nie die tweederdemeerderheid verkry soos wat van elk van die tien sinodes en gemeentes vereis word om Kerkorde-art. 1 te kan wysig nie.

Die wysiging is nodig om ruimte te skep sodat Belhar as deel van die belydenisgrondslag aanvaar kan word.

Daar word onder meer in die memorandum geskryf as “gemeentes, predikante en lidmate van die Nederduits Gereformeerde Kerk nie die Belydenis van Belhar as ’n geloofsbelydenis onderskryf nie, is ons (steeds) daartoe verbind om saam met hulle te reis”.

Die VGKSA het vroeër aangedui dat hy die Belhar-proses anders as die NG Kerk sou aangepak het, maar dat hy nie aan ’n ander kerk kan voorskryf hoe hy dit moet hanteer nie.

Volgens Kuyler is dit vir die VGKSA belangrik om te beklemtoon dat hy met die NG Kerk ooreengekom het om “ ’n pad van eenwording te loop wat die volle aanvaarding van die Belhar-belydenis insluit en ons hou daarby en het ons daartoe verbind om openlik met mekaar te praat oor die proses”.

Hulle sal volgens Kuyler op 19 en 20 Maart met die NG Kerk se moderatuur in Johannesburg vergader waar die saak op die agenda sal wees.

Kommentaar

Willem Liebenberg

Daar word onder meer in die memorandum geskryf as “gemeentes, predikante en lidmate van die Nederduits Gereformeerde Kerk nie die Belydenis van Belhar as ’n geloofsbelydenis onderskryf nie, is ons (steeds) daartoe verbind om saam met hulle te reis”.

Ek wonder wat behels die reis?

Die teoloe is geneig om sulke vae, inklusiewe terme te gebruik dat jy na die tyd wonder, nou wat het hy nou bedoel. Daarenteen het die skrifgeleerdes absoluut geen onduidelikheid beleef nadat Jesus met hulle in gesprek was nie. Dan wonder ek nou wie volg nou vir wie? Volg hulle mede-skrifgeleerdes of volg hulle Jesus? Ek dink die antwoord is voor die handliggend – nie waar nie?

*************

Namibië gee ’n rooi lig vir Artikel 1

Kerkbode, 6 Maart 2015

Neels Jackson

Die sinode van die NG Kerk in Namibië het die eerste rooi lig laat aangaan in die breë kerklike stemproses oor die voorgestelde nuwe Artikel 1 van die Kerkorde.

Ds Pine Pienaar, moderator van die Namibiese Sinode, het aan die Algemene Sinodale Moderamen gesê hulle het op ’n buitengewone sitting op 21 Februarie met 57 stemme teen 40 ten gunste van die verandering gestem.

Hoewel dit ’n meerderheid van 58,8% is, voldoen dit nie aan die kerkordelike vereiste dat die sinode die beoogde verandering met ’n meerderheid van twee derdes moet goedkeur nie.

Dit beteken dat die Algemene Sinode nie tydens sy sitting in Oktober vanjaar die beoogde verandering kan goedkeur nie, omdat hy die instemming van al tien die streeksinodes, elkeen met ’n meerderheid van twee derdes, daarvoor nodig het. Daar is dus geen ruimte om die Belydenis van Belhar in die NG Kerk se belydenisgrondslag op te neem nie.

Die Algemene Sinodale Moderamen het egter versoek dat die stemproses volgens die beplanning moet voortgaan sodat die hele kerk hom daaroor kan uitspreek.

Twee sinodes het tot dusver groen ligte gegee vir die voorgestelde Artikel 1. Dit is die Oostelike sinode wat dit met ’n meerderheid van 73% goedgekeur het en die Oos-Kaap wat dit met ’n meerderheid van 70% goedgekeur het.

Drie sinodes het ook aan die ASM gerapporteer dat hulle gemeentelike stemproses afgehandel is. In die Oostelike Sinode het 32 gemeentes ja gestem met ’n meerderheid van twee derdes en 47 nee of ja met ’n meerderheid van minder as twee derdes. In Namibië het 15 gemeentes ja gestem met ’n meerderheid van twee derdes en 26 nee of ja met ’n kleiner meerderheid. In die Vrystaat het slegs agt gemeentes ja gestem met ’n meerderheid van twee derdes, terwyl 149 gemeentes nee gestem het of ja sonder om die meerderheid van twee derdes te bereik.

In die meeste ander sinodes is die gemeentelike stemproses nog aan die gang en is daar nog bitter min uitslae beskikbaar, is aan die ASM gerapporteer.

Ds Helgard van Rensburg, Vrystaatse moderator, het aan die ASM gesê in die Vrystaat het sowat ’n kwart van die lidmate aan die stemproses in hulle gemeentes deelgeneem. Van dié wat gestem het, het sowat ’n kwart ja gestem.

Dr Chris van Wyk, Oos-Kaapse moderator het gesê hy kan nie glo dat die kerk, waarin Christus moet regeer, met so ’n demokratiese stemproses werk nie. Hy het gesê dit lei tot die situasie dat iemand wat ’n pyn het met dienslewering, ’n stem uitbring teen die Belydenis van Belhar. Dit het ’n impak tot in die kerk se belydenisgrondslag.

Dr Braam Hanekom, Wes-Kaapse moderator, het gesê hy kan nie kwaad wees vir die kerk as dit nee stem nie. Hy kry wel seer oor die manier waarop dit gebeur. Hy het verwys na die tendens op party plekke om gesprek oor Artikel 1 te smoor en die vloei van inligting te blokkeer. Elke keer as daar goeie inligting gekom het, het die lig opgegaan, het hy gesê.

Dr Andries Kritzinger, predikant van Orkney en addisionele lid van die ASM, het gesê hulle moet onderskei tussen die inhoud en status van Belhar. Al sê die kerk nee daarvoor dat Belhar die status van ’n belydenisskrif kry, het dominees steeds die volste reg om die inhoud van Belhar te preek.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui