Terugvoer oor streeksbyeenkomste (Sinode Wes-Kaapland)

Die afgelope tyd het die moderamen van die Sinode van Wes-Kaapland ’n paar streeksbyeenkomste gehou:

  • Maandag 25 April: Caledon (Moedergemeente) – 09:00
  • Dinsdag 26 April: Wellington-Oos – 09:00
  • Dinsdag 3 Mei: Vanrhynsdorp – 11:00
  • Woensdag 4 Mei: Beaufort-Wes – 11:00
  • Donderdag 5 Mei: George Tuinedal – 09:00
  • Maandag 9 Mei: Bellville-Uitsig – 09:00

Van die leierskap wat die byeenkomste bygewoon het is: Nelis Janse van Rensburg, Nioma Venter, Frederick Marais, Charl Stander en Braam Hanekom.

Doel en ontstaan van streeksbyeenkomstes

Die Sinode Wes-Kaapland is gegrafies geweldig uitgestrek. Dit strek van Plettenbergbaai aan die oostekant tot Springbok in die Noorde. As gevolg hiervan het die ringe en gemeentes wat ver van die Kaap was vervreemd begin voel. Daarom is besluit om die Sinode van Wes-Kaapland in vyf streke te verdeel en dat die moderatuur hierdie streke jaarliks sou besoek om met hulle in persoon te kommunikeer. Aanvanklik was dit ’n geleentheid vir tweerigting kommunikasie. Dit het egter die afgelope paar jaar ontaard in ’n eenrigting gesprek: Met ander woorde, die moderatuur wat die streke kom toespreek.

Terugvoer van mense wat bygewoon het

Een van die behoudendes het die volgende geskryf oor hierdie streeksbyeenkomstes:

“Ek het twee van die moderatuur se streeksvergaderings bygewoon. Ek was verstom dat daar nie ’n enkele vraag van die vloer af was by beide geleenthede oor Skrifwaarheid, dolering, ens. Die moderamen, wie byna voltallig daar was, praat en almal luister. Die tafelgesprekke was ’n geleentheid maar daar was te min dolerendes om ’n betekenisvolle bydrae te lewer. Aan die einde het moderator Nelis ’n sluitrede gelewer en baie doeltreffend die dolerendes se klagtes afgemaak. Hy het byvoorbeeld die volgende stelling gemaak: “Watter gemeentes het nie Bybelstudiegroepe nie? Almal het.” Die punt wat hy daardeur wou maak is dat alle gemeentes wel Skrifgetrou is, want almal doen Bybelstudie. Toe vra hy wie almal “Amen” saam met hom kan sê en sê toe: “Jesus het opgestaan!”. Almal het toe natuurlik hierop “Amen” gesê. Frederik Marais het ook gepraat. Hy het na Kairos Netwerk se probleem met die kweekskole verwys. Volgens hom was daar na al die gekla net een klagte wat hulle moes ondersoek. [Waarskynlik Stefaan de Jager.]

Nog iemand het die volgende geskryf:

“Nelis Janse van Rensburg het op ons Bellville byeenkoms gesê dat die 600 bladsye beswaarskrifte nie tydens die 2019 Algemene Sinode behandel is nie, omdat dit as gevolg van die hofuitspake verval het.”

Iemand anders het soos volg hierop gereageer:

“Die gravamina was teen die 2015 besluite en nie teen die 2016 besluite nie. Die hofuitspraak het 2016 nietig gemaak en dus het 2015 weer van krag geraak. So die gravamina was juis in 2019 weer aan die orde en oorweging moes daaraan geskenk gewees het by die nietigverklaring van 2015 EN enige ander besluite wat geneem kan word. Dit was ook kennis van revisie van die 2015 besluite en NIE van 2007 se besluite nie. Daarby was Wes-Kaap se besluite geneem ingevolge 2016 se AS besluite, en tegnies ook nietig deur die Hof verklaar. Dit is ook nie as beskrywingspunt van die Sinode aan die AS gestuur nie, maar op ontegsgeldige wyse van die Dagbestuur via die Moderamen by wyse van ’n onwettige vergadering. Dit was ook nie kennis van revisie van die 2007 besluit nie. In kort: dit is ’n leuen- en bedrogspul met Nelis en sy handlangers op die voorpunt.”

Hier volg die terugvoer deur die moderatuur van die Sinode van Wes-Kaapland.

*******

Terugvoer oor streeksbyeenkomste

Vrydag, 13 Mei 2022

‘n Sinodale span bestaande uit verteenwoordigers van die moderatuur en predikante in sinodale diens het vandeesweek hulle belangrike streeksbesoeke afgesluit in Bellville. Nioma Venter skryf die volgende terugvoer oor die byeenkomste:

“Om Jesus met waagmoed te volg beteken per implikasie dat jy jouself dikwels op onseker plekke gaan bevind, maar blindelings bly vertrou; dat jy uitermate uitgedaag mag word, maar doelgerig kan voortbeur; dat jy nie al die antwoorde het nie, maar dat jy Hom vertrou wat wel weet; dat jy soms sal voel om eerder te vlug, maar jou staan bly staan omdat jy weet dat jy geroep is en nie alleen is nie. Sedert 2019, toe dít die tema van ons sinodale byeenkoms by Goudini was (‘Volg Jesus met waagmoed’), het meer gebeur as wat ’n mens in die bestek van ’n drie ure streeksbesoek kan hanteer. Nietemin is dit belangrik dat ons reflekteer en dit ook kollektief doen, sodat ons die groter prentjie kan sien en saam getuig. Die eggo tydens die streeksbesoeke was eenparig: God was (is en sal wees) in dit alles teenwoordig. Daarom vrees ons ook nie die toekoms nie, want ervaring leer dat God juis God is in ons onsekerhede.

Daar loop ’n paar goue drade deur die gesprekke van al ses byeenkomste. Ons hoor van verdieping in mense se geloof en vertroue in God. Ons hoor en besef dat hierdie groei vir baie met groot pyn en ongemak gepaard gegaan het. Ons hoor en beleef hoe die Here mense se passies lewend gemaak het en hoe roeping mense in beweging gebring het. By elkeen van die besoekpunte, sonder uitsondering, hoor ons dat mure van verdeling in gemeenskappe geval het; hoe netwerke en vennootskappe ontstaan het en hoe impak en effektiwiteit verhoog is. Ons staan verwonderd oor die kreatiwiteit waarmee gemeentebediening voortgegaan het, nuwe fokusse ontdek is en nuwe benaderings ingespan is. Ons hoor ook die waardering vir kerkverband en onderlinge verbondenheid; en die pyn wat met verdeeldheid gepaard gaan.

Wanneer die vraag aan tafel gevra word wat ons aanvoeling oor die pad vorentoe is, raak ons bewus van ’n sensitiwiteit en besorgdheid oor die ekonomiese implikasies van die droogte en die pandemie en die nadraai daarvan wat nog nie duidelik is nie. ’n Proaktiewe gesprek oor die moontlike implikasies vir die florering van gemeenskappe behoort op ons agenda te bly. In meer as een konteks hoor ons ’n besorgheid oor die versorging van bejaardes; hetsy waar programme sukkel om kop bo water te hou of gemeentes nie meer oor al die middele beskik waarmee hul voorheen bejaarde persone kon bystaan wat swaarkry nie. Pastoraat bly op die gesprekradar; of dit die bediening hiervan aan bejaardes is of dié van getraumatiseerde individue en gemeenskappe. Die feit word tydens meer as een van die besoeke geopper dat die kerk baie hard sal moet werk aan inklusiwiteit. Ons wil ’n kerk wees wat sag met mense omgaan en ruimte maak vir mense.

Oor een ding is daar regdeur al die besoeke eenstemmigheid: ons kan nie en durf nie net terugval in ou weë van kerkwees nie, maar moet die versnelling van transformasie wat COVID teweeg gebring het gebruik om oor die pad van bediening vorentoe te besin. Tafelgesprekke neig in dié sin meer na herlewing as na oorlewing! Die gesprekke is hoopvol. God is getrou!

Die moderatuur sal nou ’n volledige oorsig neem op die gespreksuitkomste van die streeksbesoeke en temas wat navore gekom het in die beplanning van ons Wes Kaap Sinode van 2023 opneem.

Nogmaals baie dankie vir die gasvrye ontvangs en die waardevolle gesprekke. Bly in Christus; koester ook die gawe van die gemeenskap van gelowiges. Ons bid dat die Here ons genadig sal wees terwyl ons in opregtheid saam soek na waarheid en wysheid en Sy eer in alles wat ons doen. Laat ons voortgaan om met sagte oë na mekaar te kyk en veilige ruimtes te skep. Ruimtes waar ons met mekaar praat en na mekaar luister en telkens saam terugkeer na die Woord. Jesus is die Here. Hy het waarlik opgestaan.”

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui