Skeppergod dan só belaglik gemaak

In die volgende brief van Jurie van den Heever, herhaal hy heelwat van die argumente wat hy op 3 Mei 2015 gebruik het in die program Hoe verklaar jy dit? op RSG (kyk Kommentaar op Jurie van den Heever se stellings op RSG (3 Mei 2015)).

Kyk my kommentaar in rooi-bruin blokhakies hieronder.

Kyk ook die volgende artikels wat hierop reageer:

*******

Skeppergod dan só belaglik gemaak | Netwerk24

J.A. Van Den Heever, Stellenbosch

13 Mei 2022

Jan Venter (25.04) se stelling dat die evolusieteorie meer betroubaar is as die skeppingsverhale, is korrek. G. Stander (28.04) se betoog dat die evolusieteorie nie die skeppingsverhale op sy kop gekeer het nie, is eintlik ’n strooipop.

Die mitologiese skeppingsverhale in die Bybel is op dié van ouer kulture en die gebrekkige insae van die mense van daardie tyd geskoei en hou nie verband met die werklikheid nie.

[Kommentaar: Jurie blaker hierdie sommer so uit asof dit ’n feit is, maar hoe sou hy dit kon bewys, veral as die res van die Bybel na die skeppingsverhale as geskiedenis verwys? Kyk byvoorbeeld Bybelkantlyne: Genesis 1 is nie poësie nie en Aanhalings – Moet Genesis letterlik gelees word?]

Hoe anders verklaar ’n mens die geloof dat die sterre so groot soos duwweltjies is, dat die velkleur van vee bepaal kan word deur takkies waarvan die bas gedeeltelik gestroop is, by die drinkplekke te plaas, dat vlermuise voëls is en dat die waarde van pi drie is.

[Kommentaar: Dit is onseker waar die Bybel sê dat die sterre so groot soos duwweltjies is. Dit is egter voor die handliggend dat, sou die Bybel dit sê, dit daarop dui dat dit bloot so lyk omdat dit so ver is.

Oor die velkleur van vee, kyk Hoe om Genesis 30:37-40 te verstaan.

Oor vlermuise wat voëls is, kyk Sê die Bybel in Levitikus dat ‘n vlermuis ‘n voël is?.]

Oor pi wat drie is, kyk Salomo se gegote waterbak in 1 Koning 7:23-26 en 2 Kronieke 4:2-5.]

As ons werklik na die beeld van God geskape is, wonder ’n mens onwillekeurig, in ag genome die groot aantal ingeboude fisieke gebreke in die menslike liggaam, of God ook aan al die kwinte en kwale ly?

[Kommentaar: Dit is moeilik om hierop te reageer as Jurie nie spesifieke voorbeelde noem nie. Die teendeel is eintlik waar: al die fasette van die menslike liggaam is meesterlik ontwerp. Vir meer hieroor, kyk Argument: ‘Bad design’ is evidence of leftovers from evolution en Is the Human Body a Bad Design?]

Enigiemand wat steeds aandring dat die heelal die handewerk van ’n almagtige, alsiende en alwetende skeppergod is, maak so ’n God belaglik, aangesien die Skepper dan klaarblyklik onkundig is oor die basiese beginsels van geologie, fisika, paleontologie, wiskunde, genetika, vergelykende anatomie, fi­siologie en embriologie.

[Kommentaar: Weereens stellings sonder enige substansie. Jammer Jurie, dit help nie.]

Die Bybel is ’n literêre werk vol mites en stories wat, en dit is veral belangrik, binne konteks gelees moet word. Venter is heeltemal reg dat mitologie en wetenskap nie twee kante van dieselfde munt is nie.

[Kommentaar: Almal is dit eens dat die Bybel binne konteks gelees moet word. Kyk Die verskillende genres van die Bybel.]

Die “veel dieper” wetenskaplike navorsing oor homoseksualiteit wat Stander bepleit, is en word reeds gedoen.

Sy aandrang op die invloed van die omgewing is korrek, maar meld nie die bepalende omgewing binne die ma se liggaam en die kritieke wisselwerking tussen die ma en embrio nie.

Seksualiteit en gender word reeds in utero vasgelê. Daarom word heteroseksuele kinders wat deur gay ouers aangeneem word, nie ook gay nie en pasgebore babas met onvolledig gedifferensieerde uitwendige geslagsorgane word ook nie meer summier met snykundige ingrepe in dogter of seun verander nie.

[Kommentaar: ’n Mens verwag meer van Jurie wat ’n wetenskaplike is. Hierdie is weereens los stellings sonder enige substansie. Dit sou gehelp het as Jurie byvoorbeeld na die outeur(s) van hierdie navorsing kon verwys. Die feit is egter dat geen homoseksuele geen al ooit gevind is nie. As jy homoseksueel gebore word, sou dit in jou DNS wys. Daar is nog geen bewyse hiervan nie. Kyk ook Word jy gay gebore? en Nuutste wetenskaplike navorsing oor homoseksualiteit.]

Medici wag nou totdat die individu self spesifieke geslagsvoorkeure toon of oud genoeg is om dit self te verwoord.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui