Teologiese student sê: “Ek is moedeloos”

Kyk ook:

Die volgende brief is in Kerkbode geplaas. Kyk onderaan die brief vir Jan Louw en Daniel Louw se kommentaar hieroor.

********

Student sê: “Ek is moedeloos” | Kerkbode

12 November 2019

Hierdie is ’n lesersbrief. Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Tristán Kapp van Centurion skryf:

Geagte Kerkbode, ek is ’n finale-jaar Teologiese student aan die Universiteit van Pretoria – en ek is moedeloos. My hart is aan flarde want die kerk het vir my ontaard in ’n separatiste sametrekking wat die “in-groep” het en dan is die res van die samelewing wat nie noodwendig konformeer tot die ‘ekklesiologiese status quo’ nie welkom nie, en word dus gebrandmerk as die “uit-groep”. Hierdie sosiologiese dualisme is algemeen in Sosiale Sielkunde, en dit dien as ’n maatstaf wat sekere groepe se gedrag teenoor mekaar bepaal.

Sedert ek begin het met die akademie, het ek al hoe meer begin fout vind met die kerklike benaderinge. Mense rondom my pleeg selfmoord, hulle misbruik alkohol, hulle verdrink in hulle verdriet en smart, want hulle het nêrens waar hulle ’n hawe kan vind nie. Maar hulle is van die wonderlikste mense, en hulle het ’n haat en wrok teen die kerk wat ek deel. Ek is ’n musikant: ’n sanger en violis – ek het my talente vir die kerk gebied, maar elke keer wat ek my mond oopmaak oor die onreg en konserwatisme wat seevier is ek uitgegooi, deure word in my gesig toegeklap omdat niemand my die kans wil gee om gehoor te word nie.
Nou sit ek met ’n graad wat basies niks werd is nie, want die kerk wil my nie hê nie. Hoekom? Wat sê ek wat so verkeerd is? Ek erken nou wel dat die fundamentalistiese siening oor die Bybelse geskrifte wat dit beskou nie die letterlike woord van God is nie, maar denke, gevoelens, idees, stories en poësie uit ’n antieke konteks wat anders gedink en redeneer het as ons. Meeste van die etiek is uitgedateer en kan nie op die moderne samelewing gedwing word nie. Ek het (veral) vriende wat gay is, lesbies is en biseksueel is. Almal het die kerk (verlaat) omdat hulle nie ’n hawe daarin kon vind nie. Die kerk roem homself daarop dat almal welkom is, maar eintlik is dit “net sekeres is welkom”. Hoekom kan ons nie almal innooi om saam met ons ’n gemeenskap te wees vir mense met seer en lyding nie? Ek gee nie om wat hulle doen, wie hulle doen (as ek dit so direk kan stel), en watter idees hulle onderhou wat so skadelik is vir die Christelike geloof nie?

Die kerk is nie ’n eiland nie, maar hy maak asof hy een is (na myns insiens) – mense sterf van die honger en sielkundiges kan nie by hulle uitkom nie, waar is die kerk? Waar is die kerk wat die vreemdeling verwelkom sonder om ’n Bybel onder hulle arms in te dwing nie? Kan ons nie net saam aan die tafel van gemeenskap, menslikheid en liefde sit en samesyn beleef nie? Die Bybel lê weerloos toe in die hande van onkundiges en selfsugtiges wat hul eie ideologieë prys bo die voorbeeld van inklusiwiteit wat Jesus demonstreer het. Ek sit sonder werksgeleenthede, want ek is anders terwyl die kerk baklei, hoekom het ek dan deur al die moeite gegaan om te studeer in ’n rigting waarin ek werklik geglo het? En dit net omdat ek (nes Jesus) saam met “die ander” as een van hulle my tyd, energie en denke op spandeer.
In die “ander” lê die toekoms van die koningkryk…

**********

Kommentaar

Jan Louw

(Die volgende kommentaar het op Facebook op 12 November 2019 verskyn)

’n Student in die Teologie stort sy hart in die Kerkbode uit (12 November 2019). Vir my is dit ’n tragiese voorbeeld van die soort teologie waarin ons jongmense by UP en al die ander Teologiese Fakulteite opgelei word. Ons durf nie toelaat dat ’n nuwe geslag leraars so ankerloos en ontredderd, die kerk ingestuur word nie.

Hierdie jongman is opgelei om op ’n bepaalde manier te kyk na die Bybel, die kerk en die werklikheid. Hy is mislei en nou weet hy nie waar hy is nie. Hy is verdwaald.

Ek leef elke dag tussen Christenmense in die kerk. Hulle is my broers en susters. Ek preek vir hulle en ek bid saam met hulle. Ek is lief vir hulle.

Die Bybel word elke dag vir my ’n groter wonder van die Gees wat aan ons en aan my gegee is. Ek hou Bybelstudies en kan nie uitgepraat raak oor God en sy Woord nie.

Tristán sê: Ek het (veral) vriende wat gay is, lesbies is en biseksueel is. Almal het die kerk (verlaat) omdat hulle nie ’n hawe daarin kon vind nie.

My antwoord daarop is dat die deursnee kerklidmaat deernis het vir mense wat in die tragiese homoseksuele lewensstyl verval het. Hulle is ook oral tussen ons ook hier in die platteland. Ons harte en ons deure staan vir hulle oop en hulle kan dit sien. Ons kan hulle egter nie help deur dit goed te praat nie..

Daniel Louw

Ek stem saam dat die Teologiese Fakulteit deels skuldig daaraan is dat Tristán so voel. In sy ses jaar in die teologiese fakulteit het hy waarskynlik gehoor dat hy nie hoef te verander nie. Die feit dat hy dink dat die Bybel “nie die letterlike woord van God is nie, maar denke, gevoelens, idees, stories en poësie uit ’n antieke konteks wat anders gedink en redeneer het as ons”,  wys watter leiding hy by die Teologiese Fakulteit gekry nie.

Ek kan egter nie help om te dink dat Tristán die slagoffer speel nie.

Ek is glad nie oortuig dat hy nie geweet het dat hy teenstand sou ervaar toe hy ses jaar gelede besluit het om vir predikant te studeer nie. Aan die einde van 2011 (8 jaar gelede) kon Lulani Vermeulen nie gelegitimeer word nie omdat sy ’n uitgesproke gay was. Tristán moes sekerlik daarvan geweet het.

Louis van der Riet, ’n gay predikant, is op 17 Februarie 2019 in Parkegemeente in Kraaifontein (naby Kaapstad) as predikant bevestig.

Philipp Dietmann, ook is ’n gay predikant en getroud met Floris Hanekom, is op 14 Julie 2019 in NG gemeente Stellenberg bevestig is as permanente predikant.

In Oktober 2019 het die NG kerk amptelik ruimte gemaak vir gemeentes om selfdegeslagshuwelike te bevestig en dus volledig ruimte te maak vir homoseksualiteit (kyk 2019 NGK homoseksuele besluit).

Dit lyk vir my of daar oorgenoeg ruimte vir hom is in die NG Kerk.

Het hy werklik gedink dat Bybelgelowige Christene sy sondige leefstyl net so sal aanvaar en ons opinie van die Bybel verander om by hom aan te pas terwyl ons die opdrag gekry het om by die suiwer leer te bly en om heiligwording na te streef? (Kyk Die Bybel oor oordeel en Die Bybel oor sonde.)

Tristán, ek dink jy bluf.

Daniel Louw (2)

Ek het hierdie plasing aanvanklik geplaas met die titel “Gay teologiese student sê: “Ek is moedeloos””.

Die volgende dag (13 November 2019) het Tristán my egter gebel en gesê dat ek misinformasie plaas en dat dit sy reputasie baie skade aandoen. Volgens hom was die misinformasie die volgende:

  1. Hy is nie gay nie.
  2. Hy is glad nie moedeloos nie.

Ek besef ek het verkeerd afgelei dat hy gay is omdat hy gekla het dat hy nie in ’n gemeente werk kry nie. Dit was toe ’n verkeerde afleiding en ek het die titel dadelik verander. Ek wonder net hoekom dit sy reputasie skade sou doen indien mense sê dat hy gay is…

Oor die feit dat hy nie moedeloos is nie… Wel, ek hoef niks daaroor te sê nie.

Hy wou ook hê dat ek sy brief van glodiebybel.co.za moes afhaal, maar ek het begin redeneer dat ’n brief op Kerkbode se webblad in elk geval in die openbare domein is en toe sny sy foon uit.

Wie is Tristán Kapp?

Vir meer oor Tristán, kyk:

twitter.com/wiesjoudominee

facebook.com/wiesjoudominee

atheisminthenameofgod.wordpress.com

Opdatering (22 Nov 19)

Kobus Myburgh het die volgende moontlike misverstand uit die weg geruim:

Dalk misverstand | Kerkbode

Kobus Myburgh, 22 November 2019

Dr Kobus Myburgh (Hoof Kerkeie Op­leiding vir die NGK, UP), skryf:

Ek wil graag ’n moontlike misverstand uit die weg ruim wat kon ontstaan het na aanleiding van ’n brief deur Tristán Kapp. Lesers mag dalk onder die indruk wees dat Tristán, wat tans ’n vierdejaar student by UP is, ’n student van die NG Kerk is. Hy is lidmaat van die NG Kerk en het belydenis by kerksondermure afgelê. Hy het egter nie ’n student van die NG Kerk by UP geword nie.

Om ’n student van die Kerk te word, moet daar onder andere briewe van aanbeveling deur die gemeente en ring, asook ’n verklaring van die persoon se persoonlike geloofsoortuigings en roepingsbewustheid wees. Ons het niks van dié aard by hom ontvang nie.

Daar moet onthou word dat sedert die jaar 2000, die Teologiese Fakulteit by UP nie net NG studente oplei nie. Daar is tans studente by die Fakulteit uit nagenoeg 30 verskillende denominasies. Die Fakulteit bied ook verskillende kursusse aan wat beteken dat studente van ander denominasies nie noodwendig dieselfde klasse loop as NG studente nie. Studente van die NG Kerk en NHK deurloop die strafste kursus, wat bestaan uit ’n BDiv-graad met Hebreeus en Grieks II, ’n MDiv en ’n Nagraadse Diploma in Teologie en Bediening. Die NG Kerk het ’n vennootskapsooreenkoms met die Fakulteit wat aan ons die ruimte bied om naas die akademiese opleiding, ook ’n kerklike vormingsprogram vir studente van die NG Kerk aan te bied.

Studente van die Kerk deurloop ’n vormingsprogram wat oor ses jaar strek. Hierdie program fokus op die voorbereiding van studente vir bedie­ning in die NG Kerk. Studente van die Kerk is verplig om hierdie vorming te deurloop alvorens hulle gelegitimeer kan word. Studente van ander kerke woon van tyd tot tyd ook van hierdie lesings by. Kerklike studente is onder toesig van die Kuratorium en moet aan die Kerk se gedragsvereistes gehoorsaam wees.

Sybrand Strauss

Toets en weeg ou en nuwe teologieë | Kerkbode

22 November 2019, Kerkbode, Briewe

Prof Sybrand Strauss (emeritus), skryf:

Tristan Kapp, ’n finalejaar teologiestudent, skryf ’n belangrike brief aan Kerkbode van 12 November 2019. Ek lig net een punt daarvan uit. Hy verwerp die “fundamentalistiese siening” dat die Bybel die “letterlike Woord van God” is. Bybelse geskrifte is immers “denke, gevoelens, idees, stories en poësie uit ’n antieke konteks wat anders gedink en geredeneer het as ons.” Die “meeste van die Bybelse etiek is uitgedateer en kan nie op die moderne samelewing afge­dwing word nie”.

Met hierdie uitspraak plaas Kapp ons direk in die kern van die huidige debat. Myns insiens is die eintlike saak waarom dit gaan nie selfdegeslagverhou­dings en so meer nie, maar die Skrifbe­skouing. Kapp gee ’n helder definisie van sy postmoderne of liberale Skrifbe­skouing. So ’n nuwerwetse Skrifbeskouing is nodig, want allerlei nuwe dogmatiese leerstellings en nuwe etiese rig­lyne moet mos nou uit die Bybel bewys kan word … Vir baie van ons is dit egter onmoontlik om die pad te bewandel.

En so kom ons dan in twee kampe teenoor mekaar te staan. Die konflik sal ook nie opgelos word deur te beweer dat die verskillende groepe “erns maak met die Bybel as die Woord van God” nie (vgl Verklaring van die ASM, 13 November 2019). Dit gaan hier nie net om verskillende akademiese of teologiese opinies nie. Dié saak raak ons geloof, dit wat ons voor God en die mense bely as ons diepste oortuiging.

Beteken dit nou dat die behoudendes almal fundamentaliste is? Nee, gelukkig nie. Naas fundamentalisme en moder­nisme is daar nog ’n derde moontlikheid: “’n konfessioneel-gereformeerde stand­punt, waarby die aanvaarding van die gesag van die Skrif voorop gestel word” (WD Jonker). Die beproefde uitgangspunt is nie ’n ideologie nie; dit is ’n diepe oortuiging, ’n geloofsbelydenis op grond van die getuienis van die Heilige Gees (NGB Art 5). Dit handhaaf die reformatoriese sola Scriptura: “dié waarheid is bo alles” (NGB Art 7). In die lig daarvan kan en moet alle ou en nuwe teologieë getoets en geweeg word. Het Kapp se professore dit dan nie vir hulle studente geleer nie?

Carel van Secunda

Ek is meer bekommerd as moedeloos | Kerkbode

22 November 2019, Kerkbode, Briewe

Carel van Secunda skryf: Tristan Kapp se brief maak my meer bekommerd as moedeloos. Die Heilige Gees leer ons in Rom 10 dat die mens tot geloof kom deur die prediking van die Woord. Intussen lees ek ’n boek van J. Donald Gordon, “Why Johnny can’t preach.” Die twee kernredes: omdat die teks soos dit gegee word in die Woord, nie oopgemaak word nie en omdat Jesus Christus in sy Persoon, sy werk, sy versoening nie verkondig word as genoegsaam voldoende vir die sondaarmens nie.

Wat moet jou noodwendig moedeloos maak? Eerstens as jy die Bybel nie meer erken as God se openbaring aan ons nie. As jy self reken dat die Bybel denke, gevoelens, idees, stories, poësie uit ’n antieke konteks is wat anders gedink en geredeneer het as ons. Gevolglik word die “ons” die vertrekpunt en dus ook die maatstaf (kanon), want ons ontdek deur ons wetenskap. Wat verkondig (kerugma) jy dan aan wie? En wie kan dan verplig word om na jou te luister? Jy kan in elk geval nie staatmaak op “in die Naam van God nie”.

Hiermee saam kom ’n “prediking” (kerugma is dit beslis nie) van “nes Jesus”. Die ingrypende impak van Jesus se verlossing word gewoon weggevee. Ons moet nes Jesus word. Dit is geen evangelie nie. Dit is gewoon werkheiligheid met ’n Christelike lipstiffie en dit maak mense moeg en moedeloos. Want met hierdie prediking wis ek God uit (met erkenning aan Johan Cilliers).

Hierin is ’n groot dogmatiese probleem. Want die “nes Jesus” verreken nie sy Goddelike natuur nie, wat dit vir enige mens onmoontlik maak om “nes Jesus” te wees. Hierin sou die belydenisskrifte darem ’n goeie GPS kon wees vir jou pad deur die Bybel. Maar nou besluit elkeen self oor die belydenisskrifte as historiese dokumente. In plaas daarvan om hulle te erken as napraat van God se Woord (omdat ons die Bybel nie meer aanvaar as God se Woord nie).

Wat is die noodwendigheid wat vir ons wag?

Prediking is nie meer verkondiging van God, verkondiging van die evangelie nie. En die gevolg is dat geen geloof gebou, gevoed of gevorm word nie.

Prediking word ’n vorm van “social gospel”, waarin die mens alleen maar gewys word op hoe goed en gaaf jy teenoor ander mense behoort op te tree, “nes Jesus”. Jesus het kom demonsteer. Nee, Jesus het NIE. Hy het gekom as Verlosser. En die Heilige Gees werk sy verlossing in sondaarmense deur wedergeboorte en bekering tot geloof. Hiervoor gebruik die HG die prediking van die evangelie. Maar as ons bly by “Jesus demonsteer” en “nes Jesus”, kan jy maar vergeet. Jou hart word nooit verander nie, want die “prediking” sluit die werk van die Heilige Gees toe. Daarom gaan almal praat oor hoe toeganklik die kerk moet wees, maar geslote sondige harte sal nooit oopgaan vir ander sondaars nie. Dit kan gewoon nie.

Wat moet ons dan ook lees tussen die lyne van Br Kapp se brief? Van kateder na preekstoel. Dis die wrange vrugte van ’n teologie wat meer fokus op die wetenskaplike as op God. Hy gaan nog sy tienduisende verslaan.

Ek is bekommerd.

8 thoughts on “Teologiese student sê: “Ek is moedeloos””

  1. Tristán is geensins gay nie… en ek het geen idee waar julle daaraan kom nie… Julle beswader ’n wonderlike persoon se naam.

    1. Zurika ek kon glad nie verstaan waar julle aan die gedagte kom dat ek sou gesê het dat Tristán gay is nie. Ek het weer gekyk na al my kommentare en ek dink ek het agter die kap van die byl gekom.
      My kommentaar hierbo kom van ’n facebook gesprek af waarin ek iemand geantwoord het wat my opinie oor Tristán se brief gevra het. In my antwoord aan die persoon het ek melding gemaak van die gay mense van wie Tristán geskryf het.
      Laat ek dit duidelik stel dat ek vir geen oomblik aan Tristán gedink het toe ek dit geskryf het nie. Ek het bloot verwys na dit wat Tristán in sy brief oor gays geskryf het.
      Ek het die saak op my facebook reggestel en dit is ook hierbo by my kommentaar reggestel.
      As ek dan (onbewustelik) die indruk gewek het dat Tristán gay is en as dit vir hom ’n verleentheid geword het vra ek om verskoning.

  2. Ek kan nie glo dat ń predikant tot so laagtes sal daal om ń student sè naam so in die moder tè sleep nie, Amal is geregtig aan hulle opinies en in my persoonlike ervaaring het ek beleef hoe die godsdienstige gemeente/kerke baie het om aan tè werk. Die bybel was geskryf jare gelede maar ons lewe steeds volgens dit,Die bybel is nie gebaseer op ons samelewing nou nie en ek voel dit moet aangepas word tot vandag. Die bybel moet ook gelees en bestudeer in sy antieke tekste om dit werklik tot volle tè verstaan. Alles rondom ons is heeltyd besig om tè verander en verbeter maar juis bly die manier hoe ons godsdiens betree dieselfde.Ek voel dat mense wat ń (PHD in theology) het mag hulle opinies lewe oor hierdie saak want hulle het meer as genoeg kennis om die regte feite voor tè stel.
    In die toekoms dink asblief wat jy werlik aan iemand sè lewe doen voordat jy verkere feite op die webblad publiseer. Die here sal nie trots wees op Meneer Jan louw nie.

  3. Solank mens se naam op hierdie fundamentalistiese webwerfie in ’n negatiewe lig verskyn is jy op die regte pad. Dis wanneer hulle jou prys dat jy moet bekommerd wees 🤣

  4. Tristan Kapp is n jongman vir wie ek die hoogste respek het. Ek en hy het op facebook vriende geword. Ons het saam koffie gedrink en wat my so van hom beïndruk het, is sy liefde vir die Here, sy liefde vir die Bybelse geloofsgemeenskap, die roeping van hierdie gemeenskap en die uitlewing daarvan teenoor almal rondom hom! Tristan is nie geidoktrineer deur kerkisme en institutionalisme nie. Tristan is n jong stem wat roep in die wildernis van n NG Kerk wat vasgeloop is en nie weet hoe om los te kom nie. Ons almal weet die NG Kerk is besig met n lang en duur begrafnis, maar niemand het die moed om uit te roep: Die koning is kaal nie! Tristan se weemoed moet ernstig aangehoor word. Hier is n profeet wat die ongekarteerde vaarwaters vir die kerk kan navigeer!

  5. Ek het hierdie op facebook geskryf:
    Jeandré Slabbert. Ek wil nou terugkom na jou plasing toe. Jy praat van Tristán se pyn. Tristán beleef die kerk as ’n separatistiese sametrekking van die “in”-groep”. Mense verdrink in hulle smart, want hulle het nêrens ’n hawe nie. Hy het ’n graad wat niks werd is nie.
    Tristán sê hy het sy talente vir die kerk gebied, maar elke keer wat hy sy mond oopmaak oor die onreg en konserwatisme wat seevier word hy uitgegooi, deure word in sy gesig toegeklap omdat niemand hom die kans wil gee om gehoor te word nie.
    Ek kan verstaan dat Tristán moedeloos is en my hart bloei daaroor. Ek sê dit in opregtheid, want ek bid 1x per week vir die teologiese studente en die proponente wat nie werk kry nie. Ek bid vir julle omdat ek weet daar is ’n groot skroef los by ons teologiese opleiding. Die moedeloosheid en die uitkyk van Tristán op die lewe en die kerk is vir my andermaal ’n bewys van die die implikasies van wat korrupte teologiese indoktrinasie aan ’n jongmens kan doen.
    Tristán spel die kern van die probleem uit as hy sê: “Ek erken nou wel dat die fundamentalistiese siening oor die Bybelse geskrifte wat dit beskou, nie die letterlike woord van God is nie, maar denke, gevoelens, idees, stories en poësie uit ’n antieke konteks wat anders gedink en redeneer het as ons. Meeste van die etiek is uitgedateer en kan nie op die moderne samelewing gedwing word nie”.
    ’n Mens kan nie ’n leraar in die kerk wees met so ’n Skrifbeskouing nie. Wie so oor die Bybel dink en praat het geen fondament waarop jy kan staan nie. Jy kan onmoontlik op die manier met entoesiasme die Woord van die Here verkondig. Hy maak ’n korrekte waarneming as hy sê hy het basies ’n graad wat niks werd is nie. Hy het geleerdheid. Dit blyk uit sy hele skrywe, maar ek maak die afleiding dat sy geleerdheid van hom ’n rebel gemaak het. Dit is die rede waarom die kerk nie na hom wil luister nie.
    My raad vir Tristán en almal wat soos hy voel is om opnuut met jou lewe voor die Here Jesus te kom staan. Jesus sal die geknakte riet nie weggooi nie en die dowwe lamppit nie uitblus nie. Jesus sal die wat na Hom toe kom nooit uitwerp nie (Joh 6:37). Jesus het ’n toekoms vir jou om sy skape op te pas en ’n hawe te bou vir die wat verlore voel soos jy.
    Ek word hier beskuldig dat ek ’n ou dominee is en ek is ’n ou dominee, maar ek kan seker aanspraak daarop dat ek al ’n paar dinge geleer het na ’n leeftyd in die kerk. Ek kom nou van ’n Ringsvergadering af waar ’n hele klomp ouderlinge en predikante teenwoordig was. Ons het met blydskap uitmekaar gegaan, want ons is lief vir die Here, vir sy kerk en vir mekaar.

  6. Dit is hartverskeurend om te sien hoedat vandag se “teoloë” blykbaar opgelei word om met hulle wrede kommentare die Bybel (wat ons aanvaar en liefhet as die heilige, ewige, absoluut-gesaghebbende Woord van die Here) afkraak en verkleineer. Hoe dikwels moes die afgelope tyd al die outoriteit van die Here se Woord die onderspit delf teenoor die menslike wette en regulasies wat gegrond is op die sogenaamde “menseregte”.
    Terloops, lg kom in elk geval van die Satan af, en NIE van die Here NIE.
    Maar toemaar, al hierdie liberaliste en dwaalleraars gaan hulle nog vasloop. Hulle doen hulle voor as engele van die lig en daarom gaan hulle oordeel soveel swaarder wees, omdat hulle so baie ander mense mislei het. Die Almagtige laat nie met hom spot nie !!!

  7. Ek hoor hy is vandag ’n lid van die nuutgestigde Kerk van Satan in Suid-Afrika.

    Veels geluk aan al die ooms en tantes van die kerk.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui