Retrospeksie op die pad van ’n teologiese student 13 jaar later

Kyk ook:

Geagte leser

Ek is deur die redaksie van glodiebybel.co.za versoek om te vertel wat ek wedervaar het in my studiejare as student in die teologie aan die Universiteit van die Vrystaat. Ook is van my versoek om die brief wat ek aan die Kuratorium van die NGK in die OVS geskryf het te plaas. Hier is dan die brief:

KURATORIUM VAN DIE NG KERK IN DIE OVS

Probleemstelling rondom die Skrifbeskouing en aanvegbare standpunte van Prof SD Snyman.

1. DIE BEDOELING VAN DIE SKRYWE

Die bedoeling van hierdie skrywe is om die Kuratorium van die NG Kerk in die OVS in te lig van my probleme rondom die vakgebied Ou Testament en dan by name die wyse waarop dit doseer word. Dit was egter vir my ’n moeilike besluit om hierdie probleem al op hierdie vlak bekend te maak, maar ek is daarvan oortuig dat die belangrikheid van die sake nie oorbeklemtoon kan word nie.

Hierdie skrywe is glad nie op grond van persoonlike sienings en twispunte nie, maar is gegrond op die feit dat die betrokke dosent willens en wetens afdwaal van die Skrif en die Drie formuliere van Enigheid wat die NG Kerk bely. Ek wil dit dus beklemtoon dat dit vir my nie oor die persoon gaan nie, maar oor die standpunte wat hy verdedig. Hierdie Skrifbeskouing hou uiters dramatiese gevolge vir die Kerk van onse Here Jesus in.

Hierdie skrywe rig ek ook aan die Kuratorium nadat broeders Retief Botha, Vicce le Roux, Gert Terblanche en Marius Terblanche my pertinent so gevra het by ’n gesprek op Vrydag 11 Februarie 2005. Hierdie broeders het my ook duidelik daarvan verseker dat die Kuratorium, soos ons NG Kerk, die Drie Formuliere van Enigheid quia bely.

2. UITEENSETTING VAN DIE PROBLEEMPUNTE

Ek gaan nou graag voor om die probleme op die tafel te plaas.

1. Prof SD Snyman het Maandag 7 Februarie 2005 ’n uitspraak in die klas gemaak en die teenwoordigheid van die Drie-eenheid ontken in die Genesis 1 Skeppingsverhaal. Hierdie uitspraak volg nadat ’n mede student hom pertinent daaroor gevra het. Prof Fanie Snyman het egter die vraag beantwoord en met alle erns die teenwoordigheid van die Drie-eenheid in Genesis 1 ontken.

Hierdie standpunt gaan lynreg in teen die belydenis van die NG Kerk. NGB art 9 en 10 stel dit vir ons duidelik dat in die geval waar die persoonlike voornaamwoord in die meervoudsvorm aangewend word in Genesis 1, ons in die lig van Johannes 1:3 moet bely dat Christus wel teenwoordig is by die Skepping. “Weliswaar (Gen 1) sê Hy nie hoeveel Persone daar is nie, maar wat vir ons in die Ou Testament enigsins duister is, is in die Nuwe Testament baie duidelik.” {NGB art 9}

2. Jesaja 53 kry ook ’n hele lys van verklaar moontlikhede, behalwe dat Jesaja hier oor ons Here Jesus geprofeteer het. Ek sou dan net wou weet of Moses, Israel, Jesaja of watter ander verklaring die volgende met reg kon vervul, behalwe onse Here Jesus? Jes 53:5 Maar Hy is ter wille van ons oortredinge deurboor, ter wille van ons ongeregtighede is Hy verbrysel; die straf wat vir ons die vrede aanbring, was op Hom, en deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom. Jes 53:9 En hulle het Hom sy graf by die goddelose gegee; en by ’n ryke was Hy in sy dood, omdat Hy geen onreg gedoen het nie en geen bedrog in sy mond gewees het nie.

3. In die lig van die vorige twee punte stel ek die volgende. Ek word daarvan beskuldig dat ek ’n fundamentalistiese teologie bedryf indien ek een teks wil verklaar vanuit ’n ander teks. Ek word dan ook beskuldig dat ek die Bybel A-histories hanteer.

Ek wil dan net weet waarom die Here Jesus self tekste van die Ou Testament gebruik, en sê dat Hy gekom het om die Wet en die Profete te kom vervul? Waarom gebruik die apostels dan die Ou Testament om Christus te verkondig? Probeer ons dan vandag slimmer wees as Christus self? Waarop probeer ons dan ons geloof bou, as Christus nie die Hoeksteen is waarop ons bou nie? Is ons dan nie die bouers wat die belangrikste Steen afgekeur het nie? {Ps 118:22}

4. Nog ’n klas uitspraak deur Prof Snyman is: “Ons wil die Ou Testament verskraal met Christus”. Ek wil dan net by die Kuratorium weet hoe Christus enigiets kan verskraal as dit juis Hy is wat in die volheid van die tyd alles kom vervul het?

5. Ek het Prof Fanie Snyman in sy kantoor gaan sien en hom gevra hoekom die Bybel dan as ’n eenheid deur ons bely word {NGB art 7}. Hy het die Bybel in sy hand geneem en my daarop gewys dat hy een boek vashou. Hierdie boek is tot ’n eenheid gebind deur voorblad, rugkant en agterblad. Hierdie verduideliking oor die eenheid van die Skrif het egter net hier gestop.

Geen melding word ooit deur hom gemaak van die heilshistoriese lyn van die Bybel nie. Ek het in die gesprek oor die eenheid van die Skrif nie eers gehoor van ’n verbondslyn nie.

6. Vir Prof Snyman is die sosio-historiese agtergrond die sleutel waarvolgens ’n teks verklaar word. Ek stem saam dat hierdie agtergrond vir ons baie lig kan werp op die teks waarmee ons werk. Ek wil net daarop wys dat Ou Testamentici wetenskaplik oor die ontstaan van tekste te werk gaan en tussen mekaar met letterlik eeue verskil. Dit sê vir my dat daar oor hierdie sosio-historiese navorsing slegs ’n groot aantal teorieë is. Ander natuurlik meer geldig as ander, maar dit bly teorieë.

Dit sal ’n kwade dag in die kerk wees indien teorieë meer gesag dra as die Openbaring van God in die Heilige Skrif. In hierdie verband haal ek graag weer die Bybel aan: Ps 62:10 Ja, nietigheid is die mensekinders, leuens is die aansienlikes; in die weegskaal moet hulle opgaan, almal saam is hulle minder as nietigheid.

3. SAMEVATTING

Ek vra die Kuratorium om in die lig van die Skrif vir my met die bogenoemde probleme te help. Hierdie bogenoemde uitsprake het ’n geweldige impak op die geloof wat ons bely. Indien ons nie meer saamstem oor die leer soos vervat in die Drie Formuliere van Enigheid nie, sou dit volgens my net eerlik gewees het om ’n gravamen in te dien daarteen.

Ek plaas my legitimasie op die spel deurdat ek weier om klas toe te gaan, voordat hierdie sake nie uitsluitsel gekry het nie. Ek probeer liewer aan ons Hemelse Vader gehoorsaam wees as aan mense of instansies. In die lig van die volgende teks staan ek by wat ek staan:

2 Joh 1:9-10 Elkeen wat ’n oortreder is en nie bly in die leer van Christus nie, hy het God nie. Wie in die leer van Christus bly, hy het die Vader sowel as die Seun. As iemand na julle kom en hierdie leer nie bring nie, ontvang hom nie in die huis nie en groet hom nie.

Ek vertrou dat die Kuratorium in alle erns oor die Skrifbeskouing en uitsprake van Prof SD Snyman sal besin. Ek vertrou ook dat u my deurentyd op hoogte sal hou van die stand van sake.

By voorbaat dank

In Hom

JP Le Roux (vierdejaar student B.Th)

Vergun my die geleentheid om verder enkele insigte wat ek op die pad wys geraak het t.o.v. teologie en teologiese opleiding oor te dra.

My doel is nie om af te kraak en te beledig nie, ek wil in alle ootmoed en in diens van ons Koning Jesus Christus help om toekomsgerig by te dra tot die saak van die toerusting van ampsgawes. Ek is oortuig daarvan dat hierdie saak indringende aandag nodig het in ons liefdesgehoorsaamheid aan God.

Kom ek gee eers ’n kort agtergrond: Ek is ’n Woordbedienaar in Namibië en bedien drie Gereformeerde Kerke, n.l. Aranos, Namib Kus en Khomas Hoogland. Ek erken dat ek nou in retrospeksie (13 jaar later) skryf oor een van die moeilikste tye van my lewe.

My pad as voornemende Woordbedienaar in die NG Kerk het na drie en ’n half jaar se studie tot ’n einde gekom in Bloemfontein. My persoonlike worsteling en besluit om die NG Kerk te verlaat het om een saak gegaan, naamlik die vraag van die Here Jesus aan Sy dissipels in Matteus 16:15: “Maar julle, wie sê julle is Ek?”. Dit was veral die vakgebied Ou Testament wat die bron van my worstelinge was. Die Here Jesus wat ek, volgens my leermeesters mag verkondig, was nie die Messias van die Bybel nie, nié die Woord wat mens geword het en onder ons kom woon het nie. U sal in die onderstaande brief sien wat is die leerstellige probleme wat ek ondervind het.

Vandag is ek versigtig om oor die NGK te praat, aangesien ek op daardie punt in my eie gewete tot die slotsom gekom het: My belewenisse was dat ek in die NG Kerk met die valse kerk te doen het. NGB 29 se merktekens van die valse kerk het my teen die spreukwoordelike mure uitgedryf. Ek haal dit graag aan: “Wat die valse kerk betref: dit skryf aan homself en sy besluit meer mag en gesag toe as aan die Woord van God; dit wil homself nie aan die juk van Christus onderwerp nie; dit bedien die sakramente nie soos Christus dit in sy Woord beveel het nie, maar neem weg en voeg by na eie goeddunke; dit vertrou meer op mense as op Christus, en dit vervolg hulle wat volgens die Woord van God heilig lewe en wat die valse kerk oor sy euwels, gierigheid en afgodery bestraf.”

Hiermee bedoel ek allermins dat elke lidmaat in die geledere van die NGK valse Christene is. Die hantering van my geloofskrisis as student, asook die feit dat die Kuratorium ’n spesifieke professor gelyk gegee het, het gemaak dat ek met ’n vrye gemoed oorgegaan het na die Gereformeerde Kerk Bloemfontein Noord en my studies, kort daarna in Potchefstroom voortgesit het. Daaroor is ek vandag nog die Here diep dankbaar. Dit is Sy genadepad met my lewe.

Sou ek dinge miskien anders gedoen het as ek nou dieselfde pad moes loop? Inderdaad. Ek glo dat ek op die pad van heiligmaking gegroei het. Daardie tyd was ek baie opstandig! Ek het alle mense totaal wantrou (veral as hulle die status van ds., dr. of prof. gedra het). Ek het superkrities met alle inligting vanuit die Fakulteit omgegaan en met selfstudie (buite kurrikulêr) die geskrifte van die gereformeerde vaders ernstig bestudeer. Ek was naderhand onverbiddelik en op die oorlogspad. Ek het myself heeltemal te ernstig opgeneem (hoogmoed) en in die proses baie van my naby mense seergemaak. Dit was ’n donker worstelende hoofstuk in my lewe.

Ek was nie die enigste student wat hierdie soort worstelinge moes deurmaak nie. My moedeloosheid was dat die oomblik as jy teen die “strukture” gaan, dan word jou naam deur die modder gesleep. En jou swakhede en persoonlikheidstipe word skietgoed in die “geleerdes” se hande, om die sake wat ter tafel geplaas is af te vee.

Is ek vandag spyt oor wat gebeur het? Beslis nie. Vir my die wonderlike is dat die belydenis oor die voorsienigheid van God my genadige belewenis is – ja, dat die troue Vader selfs die kwaad wat Hy in hierdie jammerdal oor my beskik … dat Hy dit ook tot my beswil verander (Heidelbergse KategismusSondag 9 en 10).

Deur die jare het ek ook tot nuwe insigte gekom vanuit die Woord oor Teologie en Teologiese skoling. In die eerste plek glo ek van harte dat ons Koning Jesus in Sy gemeente (Sy bruid wat Hy met Sy bloed gekoop het), alle gawes en bedieninge gee wat nodig is – sodat die gemeente kan skitter tot Sy heerlikheid. Die Geesvervulde bruid ontvang uit die rykdom van Sy heerlikheid om vol te word van Hom en die volle erfenis in die Here Jesus – en te antwoord in ware liefdesgehoorsaamheid. Dis waarvoor bv. die apostel Paulus bid vir die kerk in Efese (Efesiërs 3:14-21).

“Teologiese opleiding” is m.i. ’n aanmatiginge term, aangesien ons nie gawes (wat insluit Woordbedieningsgawes) kan “skep/vervaardig” deur ’n akademiese proses/kurrikulum nie. Gawes word erken deur die lede van die liggaam van Christus. Met blymoedige dankbaarheid roep die bruid “U het gegee!” en “U versorg en begenadig ons!” Daarin erken die plaaslike gemeente (wat die volledige uitdrukking van die kerk op ’n spesifieke plek is), dat Hy nie net die ampsgawes gegee het nie, maar ook dat die kerk/gemeente ’n Goddelike roeping en verantwoordelikheid het om die gawes toe te rus vir die dienswerk.

Hierdie toerusting geskied in die kerk/gemeente. Hierin vertrou die gemeente dat haar Hoof alles genadiglik gee om Hom te dien. Ek is oortuig dat ’n interkerlike amp (professore), waarvan ek nie in die Bybel lees nie, saam met ’n interkerklike liggaam van uitgesoekte predikante (die kuratorium), ongehoorsaamheid is aan ons Koning se Woord. Soveel te meer nog as die selfuitgedinkte tussenkerklike amp en tussenkerklike liggaam hom met die sekulêre staatsinstellings ondertrou – vir die doel om die evangelie uit te dra nie.

Die apostel Paulus roep die jonge Timoteus eenvoudig op om toe te sien dat bekwame manne toegerus word vir die voortgang van die evangelieverkondiging. Die opdrag van die Here aan die kerk van Efese is baie eenvoudig in die woorde van Paulus aan Timoteus (2 Timoteus 2:1-2): Jy dan, my seun, wees sterk deur die genade wat in Christus Jesus is; en wat jy van my gehoor het onder baie getuies, vertrou dit toe aan getroue manne wat bekwaam sal wees om ook ander te leer.

Vir my is dit die eenvoudigste wegtrekpunt om oor die saak van toerusting van ampsgawes te dink. Toerusting geskied deur die Woord te bring aan die gelowiges wat die Here gegee het met leergawes. Dit geskied ook nie los van die gemeente nie, maar in die gemeente. Ja, Koning Christus gee gawes in die kerk, t.w.v. die kerk.

Hoe gehoorsaam is ons in ons selfuitgedinkte ampte en strukture, wat inderdaad niks anders is as die Roomse hiërargieë nie! In plaas van die persoon van die pous as hoogste gesag, koester ons onder die vaandel van gereformeerdheid ’n wêreldse wysheid, wat letterlik die kruis van Christus as “dwaasheid” beskou – as die hoogste en beslissende gesag vir die bruid. Hoe is ons nie deur die duiwel gevange geneem nie! So my geliefde broers en susters in Jesus Chirstus, kan dit tog nie wees nie.

Reformasie is om terug te keer na die Skrif. Om in ware ootmoed en nederigheid alleen maar op God te vertrou wat deur Sy almagtige en vertroosende Gees in ons werk.

Is Hebreeus en Grieks vir Hom ’n vereiste vir die verkondiging van die evangelie? Beslis nie! Anders sou nie een lidmaat sout en lig wees nie, alleen maar die hoogsgeleerde dominees en professore wat vol is van sekulêre akademie! Is Hebreeus en Grieks belangrik? Beslis ja! Dis tog belangrik dat ons die dieptes van die Woord sal ondersoek en dit breedvoerig aan ons verkondig word. Maar studie is nie ter wille van die mens en sy kwalifikasies of sy vindingryke preke en studiestukke wat op wereldse wysheid steun en hoogmoedig wil roem verwerf nie! In alle dinge gaan dit vir die gelowige individueel en versamel as gemeente nét oor soli Deo gloria!

Reformasie is nie ’n interkerklike besluit nie, dis die ootmoedige belydenis van ’n veranderde hart wat uitroep: So verheerlik ek Hom wat my uit die duisternis oorgebring gebring het na Sy wonderbare lig! – Hier staan ek, ek kan nie anders nie! In U lig sien ek die lig! En dan alleen gaan dit nie meer oor myself nie, maar oor die ontferming van die alleen ware God wat besluit het om Homself in Sy lewewekkende Woord aan my bekend gemaak het.

Word ek nou uitgekryt as ’n fundamentalis as ek so skryf, dan dra ek dit as ’n eretitel. Eerder dít, as gereformeerd met die inhoud wat aan gereformeerdwees gegee is in die laaste dekades.

Reformasie beteken terug na die Skrif! Reformasie is niks anders as bekering nie – en bekering is ’n bloedig pynlike proses waarin ek deur die krag van die Heilige Gees my ou mens kruisig/doodmaak en die nuwe lewe in Christus aantrek. My gedagtes verander, my lewe verander, my werke verander!

En daarom roep ek vir verandering met hierdie skrywe. Ons het nodig om aan ons eie ampte en strukture te sterf. Ek roep dat elke gelowige op God sal vertrou wat besluit het om die getuienis van die evangelie aan ons toe te vertrou. Ek roep dat ons die Heilige Gees meer sal vertrou in ons kerkwees. Ek roep vir die ootmoedige en nie hoogmoedige omgang met die Bybel. Ek roep vir bediening van die evangelie van Christus en Hom as die gekruisigde, tydig en ontydig. Ek roep dat gemeentes ouderlinge en diakens sal erken as gawes uit die hemel aan ons. Ek roep gelowiges om erns te maak met die toerusting van die gawes wat die Here gee. Daarvoor sola Scriptura alleen – en nie nuttelose strydvrae wat net dien tot die ondergang van die hoorders nie (2 Timoteus 2).

Ek erken dat selfs ons beste werke nog vol sonde is, daarom dat my plasing op die webwerf onderworpe is aan toetsing aan die Bybel. U kan ook gerus met my kontak maak per epos by: jacobus.plr@gmail.com . Ek versoek dat u my, indien u my vermaan, vanuit die Skrif sal vermaan.

My bede is dat die Here hierdie skrywe mag gebruik tot die versterking van die geloof en die uitlewing daarvan. Verstaan die onderstaande skrywe asseblief in die lig van wat hierbo vermeld is.

Groete in die Here Jesus Christus vanuit Windhoek, herfstyd 2016.

Koos le Roux

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui