Reaksie op vrae uit Goudland

Kyk ook:

Verlede week het Goudland Sinode ’n spesiale sinodesitting gehad om die 2019 NGK homoseksuele besluit te bespreek. Dié sinode het amper oorgegaan tot stemming om uit die verband te tree met die NG Kerk se algemene sinode volgens artikel 37 van die kerkorde. Daar is egter besluit om eers in gesprek te gaan met die moderamen (ASM) van die algemene sinode voor so ’n drastiese stap geneem word.

Goudland hét toe in gesprek gegaan met die ASM en het met die skrywe hieronder gereageer.

Dit is ’n niksseggende skrywe, maar wat kon ’n mens anders verwag. Die verskille is te groot:

Goudland wil (met reg) nie hê dat daar ruimte gemaak moet word vir homoseksualiteit in die NG Kerk nie.

Die algemene sinode (en ASM) wil ruimte maak. Dit is waarvoor Nelis geveg het. Net voor die vergadering tussen Goudland en die ASM by Emseni-konferensiesentrum in Bonaeropark (11-13 November) is die volgende drie persone is verkies as bykomstige lede van die ASM:

Hulle dien saam met die reeds verkose lede:

Daar kan nie versoening kom in die NG Kerk nie. Dit sal ’n ewigdurende geveg wees.

Goudland, breek asseblief weg! Dit is die regte ding om te doen.
Daar is baie gemeentes wat agter julle staan.

Opdatering: Op 20 November 2019 het Goudland sinode besluit om nie weg te breek nie (kyk Goudland sinode breek nie weg nie en doleer ook nie)

*********

Reaksie op vrae uit Goudland | Kerkbode

13 November 2019

Die amptelike persverklaring wat hieronder ingesluit word, is nie ’n nuusberig deur Kerkbode nie. Die persverklaring word in sy geheel hier gepubliseer vir die rekord en ter wille van lidmate se vrye toegang tot amptelike inligting in die kerk.

13 November 2019

Liewe broers en susters van Goudland Sinode

ANTWOORD VAN DIE ALGEMENE SINODE SE MODERAMEN (ASM).

’n Afvaardiging van die Sinode van Goudland het die ASM besoek tydens sy vergadering op 12 November 2019. Die besoek het gespruit uit die Sinode van Goudland se besluit om met die ASM in gesprek te tree oor die betekenis en implikasies van die Algemene Sinode 2019 se besluit oor selfdegeslagverbintenisse.

Ons spreek hiermee ons waardering uit vir die wysheid van die Sinode van Goudland om die Christelike weg van gesprek te volg, asook vir die waardigheid en openhartigheid waarmee die gesprek plaasgevind het.

Ons reageer ter inleiding graag soos volg:

i. Ons aanvaar dat persone van die verskillende oortuigings en standpunte oor selfdegeslagverbintenisse erns maak met die Bybel as Woord van God.

ii. Ons is oortuig dat persone van verskillende standpunte op grond van die evangelie ernstig is oor die menswaardigheid van alle mense.

iii. Ons is oortuig dat ons juis almal saam op weg moet bly in ons voortgaande onderskeidingsproses oor God se wil vir menslike seksualiteit.

Ten aansien van die vrae wat deur die afvaardiging aan ons gestel is, reageer ons soos volg:

  1. Die 2019-besluit van die Algemene Sinode oor selfdegeslagverbintenisse neem geen voorkeurstandpunt vir of teen selfdegeslagverbintenisse in nie.
  2. Die 2019-besluit het die status van ’n beleidsraamwerk. Dit is nie voorskriftelik nie. Geen standpunt word dus op gemeentes afgedwing nie. Die inhoud van die beleid is juis dat ’n diversiteit van standpunte oor hierdie aangeleentheid moontlik is.
  3. Kerkregtelik is dit moontlik vir gemeentes en sinodes om selfstandig beleidstandpunt in te neem oor aangeleenthede soos hierdie.
  4. Die ASM wys ook op die besluit van die Algemene Sinode 2019 dat die huwelik as ’n verbintenis tussen een man en een vrou gehandhaaf word.
  5. Die Algemene Sinode is daartoe verbind om nie die reg van leraars en kerkrade om nié selfdegeslagverbintenisse te voltrek nie, te kompromiteer deur die Algemene Sinode se aansoek hieroor by Binnelandse Sake nie (Besluit 24 van 2019).
  6. Kerkrade het die reg om arbeidsregtelik met hulle leraars ooreen te kom oor die vraag of selfdegeslagverbintenisse plaaslik voltrek kan word.
  7. Al die toepaslike notules wat verband hou met die beskrywingspunt oor selfdegeslagverbintenisse wat by die Algemene Sinode gedien het, is ter insae beskikbaar. Die Algemene Taakspan Regte het die korrektheid van die prosedures ondersoek en geoordeel dat dit kerkregtelik in orde is.

Die ASM vertrou dat bostaande toeligting getuig van die respek en begrip wat die Algemene Sinode vir die plaaslike kerk het. Ons glo dat die Here ons roep om as kerkverband saam in Suider-Afrika die Koningskap van Christus te verkondig. Ons het Goudland Sinode en al ons ander sinodes nodig om as navolgers van Christus hierdie roeping te beliggaam en uit te leef.

Met waardering

Ds Nelis J van Rensburg
Namens die ASM

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui