Teologiese opleiding by Tukkies

*******

Teologiese opleiding by Tukkies

1 Uitgangspunte

Die Kuratorium van die NG Kerk van Transvaal verklaar graag met oortuiging dat teologiese opleiding so goed moontlik moet geskied op so ‘n wyse dat dit predikante voorberei om gemeentes en die wye verskeidenheid lidmate effektief te bedien.

Die opleiding aan die Universiteit van Pretoria is steeds Skrifgetrou en Gereformeerd in ooreenstemming met die aanvaarde Gereformeerde beskouings oor die Skrif, die belydenisskrifte en, in soverre dit die studente van die NG Kerk raak, met die besluite van die NG Kerk se Algemene Sinode. Verder wil dit op ‘n eietydse die eise van die tyd wat aan die teologie gestel word, verreken.

Hierdie verklaring word uitgereik omdat die Kuratorium onderneem het om terugvoering aan die kerkverband te gee.

2 Situasie met betrekking tot dosente

Die Kuratorium is derhalwe baie dankbaar dat twee verskillende kerkvergaderinge (Die Ring van Pretoria-Oos en die Ring van Pretoria Faerie-Glen) die drie dosente wat van leerdwaling aangekla is, vrygespreek het. Die betrokke dosente se sake is hanteer deur die Ring van Pretoria-Oos, in die geval van proff. Jurie le Roux en Julian Muller, en die Ring van Pretoria Faerie-Glen, in die geval van prof. Dirk Human. Die Kuratorium is dankbaar dat hierdie uitsprake die vertroue wat die Kuratorium nog altyd in al die dosente gehad het, herbevestig het.

Die volgende uittreksel uit die bevinding van die Ring van Pretoria-Oos is vir die kerkverband van belang:

“Dit was vir die kommissie van meet af aan duidelik dat die aanklag en prof Müller se verweer in ‘n bepaalde spanningsveld staan, naamlik dié tussen “tradisie” – wat een klaer (ds Maritz) “ou, vaste waarhede” noem – en krities-teologiese (geloofs)verantwoording.
Daarmee word bedoel dat die klaers die “tradisie” verteenwoordig, terwyl prof Müller se verweer in die teken van “krities-teologiese verantwoording” staan. Dit spreek dan ook vanself dat die genoemde spanningsveld ‘n breedlopende werklikheid is in die lewe van die kerk en in die harte van gelowiges en dat die kommissie daarop ag moet slaan.
Die kommissie het in die aanhoor en bestudering van die klagte en die verweer, deurlopend rekening gehou met die besluite van die Algemene Sinodes (1998, 2000, 2002) rakende die gesag van die Skrif en die Belydenisskrifte as historiese dokumente.
Die kommissie het van die standpunt uitgegaan dat die Algemene Sinode se formulering van besluite oor bogenoemde twee sake die gepaste toetssteen is om die meriete van die klag teen die aangeklaagde te ontleed en tot ‘n besluit te kom.

Selfs ‘n oorsigtelike “lesing” van die Algemene Sinode se besluite, waarna hierbo verwys is, toon dat die Sinode hom geroepe gevoel het om in die tyd waarin ons leef die weg van openhartige kritiese debat oor geloofsake te volg.

Bloot hieraan geoordeel het die kommissie eenparig geoordeel dat prof Müller – in dit wat die klaers hom ten laste lê – binne die gees en letter van die tersaaklike Sinodale besluite opgetree het.

Die kommissie is van oordeel dat prof Müller in sy taak as teoloog hom kan beroep op die uitsprake van die Algemene Sinode. Dit is duidelik dat die Sinode in sy uitsprake oor skrifgesag en belydenisskrifte ‘n brug bou tussen “die tradisie” en “kritiese geloofsverantwoording.” Die kommissie is van oordeel dat dit presies is wat prof Müller probeer doen. Prof Müller sien sy eie teologiese posisie, wat hy as “post-fundamenteel” beskryf, as een waarin sowel fundamentalistiese teologie as relativistiese teologie vermy word.

Dit is ook vir die kommissie duidelik dat die klag teen prof. Müller in ruim mate berus op ‘n gebrek aan begrip van die konvensies waarvolgens teologiese debat gevoer word en erkende beginsels van die retoriek.”

3 Situasie met betrekking tot student Mulder

Die feit dat daar dissiplinêr teen student Mulder opgetree is, is nie ligtelik geneem nie. In hierdie verband het die Kuratorium steeds probeer om dit op ‘n kerklike wyse te laat geskied. Op versoek van die student en sy regsverteenwoordiger is ooreengekom om die saak op ‘n juridiese manier te hanteer. Die student is in ‘n dissiplinêre saak skuldig bevind aan oneerlikheid op verskeie klagtes vir sy aandeel aan die opstel en verspreiding van die Status Confessionis dokument. Hy is geleentheid gegee om verskoning te vra. Tot op datum is daar geen woord van verskoning of spyt oor die toedrag van sake nie.

4 Openbare belangstelling in teologiese opleiding aan UP

Hoewel elkeen die reg het om vrae te vra oor die regsinnigheid van die teologiese dosente aan die Universiteit van Pretoria, is dit jammer dat die saak nie in ‘n gees van broederlike gesprek kon plaasvind nie maar in die openbare media aanhangig gemaak is.

Die historiese aanloop is kortliks die volgende:

‘n Koerantberig in Mei 2005 het aanleiding gegee tot ‘n RSG opname een Sondagaand in Mei 2005. By hierdie opname was een student, mnr Ferdie Mulder, teenwoordig en het ook ‘n vraag gevra. Die opname sou die volgende Sondagaand uitgesaai word. Gedurende die week tussen-in het die student verskeie predikante per e-pos laat weet om die komende Sondagaand te luister na hoe “liberaal” die teologiese opleiding by die Universiteit van Pretoria is.

Dieselfde gedagtes is deur hom uitgespreek by die Predikantebyeenkoms in Bloemfontein wat ‘n geleentheid uitsluitlik vir gelegitimeerdes was. Tydens hierdie byeenkoms is die Status Confessionis aan ‘n paar predikante uitgedeel.

Die dag na die Bloemfontein byeenkoms was daar ‘n fotosessie by die Presbiteriaanse studente se woonplek in Pretoria belê sodat daar ‘n berig die eersvolgende Sondag in ‘n Sondagkoerant kan verskyn oor die Status Confessionis.

Nadat die koerante “Burger” en “Beeld” die sogenaamde Status Confessionis se inhoud gepubliseer het, het die Dagbestuur van die Kuratorium ‘n ope uitnodiging tot kommentaar gerig. Om verdere reaksie te bewerk het ‘n teologiese student vyf artikels van bekende teoloë – waaronder drie Tukkie dosente – wyd versprei met die versoek om kommentaar te lewer. Hierdie uitnodiging het verkeerdelik (valslik) die indruk gewek dat dit die Kuratorium is wat die kommentaar aanvra. Die uitnodiging is afgesluit in die naam van “n Kollega”.

Op die ope uitnodiging van die Kuratorium maak student Mulder en dr. Jan Grey van die geleentheid gebruik om hulle dokumente nie in die eerste instansie aan die Kuratorium aan te bied nie, maar om dit in die openbaar op groot skaal te versprei. Elektronies is dit na bewering aan ongeveer 1800 predikante en lidmate versprei in Suid-Afrika en oorsee – benewens talle harde kopieë en die beskikbaarstelling van student Mulder se dokument op die internet.

Hierdie dokumente bevat talle eensydige stellings en ongeregverdigde aannames en betrek selfs persone van ander kerke op ‘n wyse dat hulle verdag gemaak word. Hoewel dr Grey in gesprek met ‘n kommissie van die Ring van Elarduspark erken het dat hy prof. Johan Buitendag verkeerd verstaan het, het hy nie met dieselfde ywer hierdie verskoning aan al die ontvangers van die dokument uitgereik nie – ook op geen wyse persoonlik vir prof Buitendag om verskoning gevra vir sy optrede of die verdraaiing van feite nie.

5 Dankbaar vir kommentaar

Die Kuratorium was baie dankbaar vir die ingekome kommentaar en het dit aan ‘n kommissie voorgelê om dit deeglik deur te gaan. Bepaalde leemtes in ons prosesse (veral kerkregtelik van aard) is uitgewys en sal verdere aandag geniet.

6 Ander sake wat moet aandag geniet

Die Kuratorium wil graag die beste belange van die kerk dien. Die Kuratorium het ‘n verantwoordelikheid teenoor die studente, die dosente en die Fakulteit en het probeer om die belange van alle partye namens die kerk die beste te dien.

Daar is beslis sake wat ernstige aandag moet geniet. In die besonder geld dit ten opsigte van die bestaande kurrikulum waar die beoogde nuwe gradestruktuur wat ten opsigte van teologiese opleiding in die landswyd gaan verander, bepaalde invloed het.

7 Verskoning aanbied

Die Kuratorium wil graag verskoning aanbied in soverre sy optrede en die van studente, en die sake rondom die dosente nie die saak van die koninkryk van God die beste gedien het nie. In die mate waarin die gebeure ‘n groot openbare verleentheid veroorsaak het, vra die Kuratorium as die verantwoordelike kommissie in opregtheid verskoning.

Dit is uiters jammer dat van ons broers uit die Nederduitsch Hervormde Kerk en die studente van die Presbiteriaanse Kerk by die saak betrek is. Die Dagbestuur van die Kuratorium bied graag sy verskoning aan hulle aan. Dit geld in die besonder proff Johan Buitendag, Ernest van Eck en dr Daan van Wyk, jr. (Voorsitter van die NH Kerk se Kuratorium).

8 Met vertroue vorentoe

Die Dagbestuur van die Kuratorium wil graag voortgaan om toe te sien dat die saak van die koninkryk van God en die belange van die kerk in hierdie uitdagende tye die beste gedien sal word deur ‘n wetenskaplike goed gefundeerde en Skrifgetroue teologiese opleiding. Daarvoor het ons die onderteuning en voorbidding van die kerk baie nodig.

Drr JJ Gerber (Voorsitter van die Kuratorium) en
PR du Toit (Predikant vir Teologiese Opleiding)

Namens die Dagbestuur van die Kuratorium van die NG Kerk van Transvaal
Pretoria

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui