Bevindings van die ondersoekliggaam oor klag teen prof Dirk Human

*******

Bevindings van die ondersoekliggaam van die Ring van Pretoria-Faerie Glen t.o.v. gerugte van leerdwaling oor prof. D.J. Human

7 Junie 2006

Vir ‘n geruime tyd het gerugte reeds die rondte gedoen dat daar sekere fasette van ons geloof is waaroor prof. Human anders dink as ons belydenis. Die ondersoekliggaam het die volgende gerugte ondersoek:

1 Die opstanding van Jesus Christus. Die gerug lui dat prof. Human nie die letterlike, historiese, fisiese, liggaamlike opstanding van Christus bely nie, en dus ook nie dat die graf na sy opstanding leeg was nie.

Vrae oor prof. Human se beskouing van die opstanding het grootliks gespruit uit sy artikel Jona se ‘opstanding uit die dood’: Perspektiewe op die ‘opstandingsgeloof’ vanuit die Ou Testament. Die artikel is na vier onafhanklike teoloë verwys. Hoewel aangedui is dat sekere vrae en onduidelikhede opgeklaar moes word was daar eenstemmigheid dat hierdie artikel nie met die Skrif en die Belydenisskrifte in stryd is nie.

Terwyl die ondersoekliggaam dit in gedagte gehou het dat hierdie ‘n wetenskaplike artikel is wat vir ‘n wetenskaplike tydskrif bedoel was, moet toegegee word dat formulerings wat gebruik word vir die leek (en ook vir gewone predikante) verwarrend kan wees. Die noue verband wat skynbaar veronderstel word tussen die ‘opstanding’ van Jona en ons ‘opstandingsgeloof’ oor Jesus is vreemd omdat daar nêrens in die Bybel ‘n verband tussen die twee sake gelê word nie, en omdat Jesus se opstanding totaal verskil van die ervaring van Jona. Dit is uniek en heeltemal anders as gevalle van iemand wat dood was en weer lewendig geword het.

Prof. Human se aanvanklike huiwering om homself in ondubbelsinnige terme oor die opstanding van Jesus uit te druk omdat hy ‘n verskraling van die betekenis van die opstanding wil verhoed, het nie bygedra om duidelikheid oor sy standpunt te bring nie.

Nadat die saak indringend met hom bespreek is en in die lig van die evaluering van die genoemde teoloë is die ondersoekliggaam egter oortuig dat prof. Human in die artikel nie die opstanding van Jesus uit die dood ontken nie.
Die ondersoekliggaam het verder ook ondersoek ingestel na prof. Human se persoonlike siening van die opstanding van Jesus. Naas dit wat hy in dokumente voorgelê het, het hy ook op die volgende belydenis bevestigend gereageer en verklaar dat alles alreeds in sy eie geloofsomskrywing vervat is:

  • Ek bely dat die liggaam van Jesus Christus wat in die graf ingegaan het, weer opgestaan het / opgewek is.
  • Ek aanvaar dat die opstanding van Jesus Christus liggaamlik was.
  • Ek bely dat die leë graf sowel ‘n historiese as teologiese verstaan van die opstanding inhou.
  • Ek bevestig dat die opstanding van Jesus Christus nie net geestelik verstaan kan word nie.
  • Ek bevestig dat die aard en die inhoud (betekende saak) van die opstanding albei van fundamentele belang is vir die teologiese verstaan van die opstanding van Jesus Christus.

In ‘n dokument opgestel deur prof. Human stel hy dit soos volg:

1. Oor my persoonlike geloofsoortuigings ten opsigte van die opstanding van Christus en die leë graf herhaal ek die volgende: ek glo en bely die opstanding van Jesus soos die kerk van alle eeue, volgens die Skrifte. Ek bely dus die opstanding van Christus soos dit in die Bybel en in die NG Kerk se erkende belydenisskrifte formuleer word.
Die opstanding van Jesus kom deur die verkondiging en deur die interpretasie van die Skrifte na mense toe (vgl. Luk 24; Hand 2 en 13; 1 Kor 15. Nicea formuleer ‘en op die derde dag opgestaan het volgens die Skrifte’). Dit verwoord ‘n historiese werklikheid wat hoop aan hooploses gee. Verder maak dit ‘n appèl op mense se geloof in die God, wat die onmoontlike moontlik maak – die God wat alle mag oor dood en chaosmagte besit. Die Jesus verhale skilder dit bevestigend.

God se krag oor alle ander kragte word dus in Jesus en in sy opstanding bevestig. In die Nuwe-Testamentiese leë-graf verhale is die motief van die leë graf ‘n teken (semeion) van die misterie en werklikheid van die opstanding.

2. Oor my interpretasie van die opstandingsverhale in die Evangelies die volgende:

In die Evangelies is daar twee soorte vertellings oor Jesus se opstanding: Verskyningsverhale en leë-graf verhale. Hierdie verhale bied meervoudige perspektiewe op die opstanding en relativeer ‘n enkelvoudige omskrywing van die aard van die opstanding. Ons kan sê dat die Nuwe-Testamentiese (Evangelies ingesluit) getuienisse oor Jesus se opstanding aantoon dat een enkele beskrywing van die opstanding nie voldoende is nie. Een beskrywing roep altyd ‘n ander omskrywing op. Om die waarheid te sê, menslike woorde ontbreek om ‘n greep op die beskrywing van die opstanding te kry. Dit word duidelik uit die Evangelies se beskrywing van Jesus se opstandingsliggaam. Natuurlik is daar sprake van ‘n liggaam by die opstanding van Jesus. Ek glo dit ook. Die Evangelies bied verskillende perspektiewe op die aard van hierdie liggaam: dit word beskryf as een van vlees en bene (sarka kai ostea …Luk 24:39), gees (pneuma …Luk 24:37), of ‘n liggaam met ‘n ander vorm (en hetera morfe …Mark 16:12). By verskeie geleenthede en by herhaling het mense Jesus nie erken wanneer hulle hom gesien of met Hom gepraat het nie. (Luk 24:16; Joh 20:15; Joh 21:4)

Die meerduidigheid van Evangeliese getuienisse bevestig dus die misterie en werklikheid van die opstanding en maak duidelik dat nie die aard van die opstanding nie, maar die betekende saak van die opstanding ‘n bevestiging is van God se krag tot die onmoontlike – nie net vir die Jode nie, maar in Jesus ook vir die heidene (alle nasies). Daarom loop die saak van die opstanding van Jesus altyd op die verkondiging van die evangelie aan die heidennasies uit (Matt 28:19; Mark 16:15; Luk 24:47). By Johannes (20:31) vir wie die opstanding een van die tekens (semeia) is, dien die opstanding as ‘n teken sodat mense kan glo dat Jesus die Christus is en in sy Naam die lewe kan hê. Daarom roep die opstanding van Christus tot hoop en lewe en geloof. Hiermee verkry die opstanding van Jesus verder ‘n eskatologiese karakter. Dit beteken Jesus se opstanding verkondig die opstanding van die dode aan die einde (HK Sondag 17, vraag 45; vgl 1Kor 15)
In die lig van bogenoemde en in die lig van die gesprekke wat die ondersoekliggaam met prof. Human gevoer het, word bevind dat hy nie skuldig is aan die gerug nie.

2 Die maagdelike geboorte van Jesus. Die gerug lui dat prof. Human nie bely dat Jesus se geboorte bonatuurlik was nie.
Die gerug spruit onder andere uit ‘n verwysing wat prof. Human maak in sy artikel Die Skrifvraagstuk en die Nuwe Hervorming. Die ondersoekliggaam bevind dat hierdie verwysing nie ‘n vraag plaas oor sy beskouing van die leer oor die maagdelike geboorte nie.

Tydens die ondersoek het prof. Human die ondersoekliggaam tereg daarop gewys dat die geboorte van Jesus inderdaad natuurlik was, maar dat sy ontvangenis bonatuurlik was. Prof. Human het verklaar dat die Heilige Gees by die ontvangenis van Jesus betrokke was, dat dit beteken dat die geboorte van Jesus volledig God se kragtige werk was, en dat dit Jesus se ware goddelikheid onderstreep. Hiermee het hy die ondersoekliggaam daarvan oortuig dat sy verstaan van die maagdelike geboorte volledig in ooreenstemming is met die Belydenisskrifte

Die ondersoekliggaam bevind dus dat prof. Human nie skuldig is aan die gerug nie.

3 Die uniekheid van die God van Israel. Die gerug lui dat prof. Human nie bely dat die God van Israel die enigste ware God is nie

Die gerug spruit onder andere uit artikels wat prof. Human gepubliseer het: Aspects of monotheism: A continued debate en Monolatries-monoteïstiese perspektiewe in die Psalms: Konsep vir ‘n teologiese ontwerp uit Eksodus 15:1b-18. Die ondersoekliggaam bevind dat hierdie artikels geen rede bied om te vermoed dat hy die uniekheid van die God van Israel ontken nie of dat hy nie sou bely dat Hy die enigste ware God is nie.

Voor die ondersoekliggaam het prof. Human daarop gewys dat hy juis in die bespreking van bepaalde Psalms aandui hoe die Here as die enigste ware God verhewe bo alle ander gode geteken word. Jahwe word as die enige, onvergelyklike God teenoor ander gode gestel. Dit het die ondersoekliggaam daarvan oortuig dat hierdie gerug ongegrond is.

Die ondersoekliggaam bevind dus dat prof. Human nie skuldig is aan die gerug nie.

4 Die gesag van die Bybel. Die gerug lui dat prof. Human die Bybel as ‘n bloot menslike boek beskou.

Die gerug spruit onder andere uit prof. Human se artikel Die Skrifvraagstuk en die Nuwe Hervorming. In die artikel word verwys na die Bybel as geloofsboek asook menslike boek. Die ondersoekliggaam wys daarop dat hierdie formulering vir misverstand vatbaar is. In ons belydenis word na twee kante van die Bybel verwys: na die menslike kant, én na die goddelike kant. Die twee begrippe wat prof. Human gebruik, verwys albei net na die menslike kant, en die vraag ontstaan dan wat van die Goddelike kant van die Bybel.

Voor die ondersoekliggaam het prof. Human verklaar dat die Bybel ‘n versameling geloofsgetuienisse is waarin gelowiges die stem van God hoor. Hy aanvaar die Bybel as die Woord van God, maar verwerp enige fundamentalistiese en meganiese inspirasiebeskouing. Hy sien die opskrifstelling en kanonvorming van die Bybel as ‘n lang proses wat God se werk deur gebroke en feilbare mensehande illustreer.

Die gesprek wat die ondersoekliggaam hieroor met prof. Human gevoer het, het ons daarvan oortuig dat hy nie skuldig is aan die gerug nie.

Die ondersoekliggaam van die Ring van Pretoria-Faerie Glen bevind dat die vier gerugte wat teen prof. Human ondersoek is, ongegrond is, en vind prof. Human hieraan onskuldig.

Prof. Human word die seën van die Here toegebid vir sy taak in die amp waartoe hy geroep is.

Lede van die ondersoekliggaam:

Ds A Fitzgerald (Voorsitter)

Dr JHF Taute (Skriba)

Ds JG Burger

Prof. A König

Ds GF van der Berg

Ds R Wassermann

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui