Rant en Dal doop lidmate in swembad

Die volgende artikel het oorspronklik in Kerkbode verskyn.

***********

Rant en Dal doop lidmate in swembad – 22 September 2006

20 September 2006

Die Rant en Dal Gemeenskapkerk op Krugersdorp het ’n nuwe opskudding in die NG Kerk veroorsaak toe ’n aantal lidmate deur middel van onderdompeling in ’n swembad gedoop is.

Elf van die persone wat gedoop is, is ook as kinders gedoop maar het ’n behoefte gehad aan ’n sogenaamde bekeringsdoop. Sewe ander lidmate is vir die eerste keer gedoop en op eie versoek onderdompel. Dit is ongewoon dat dopelinge in die NG Kerk onderdompel word.

Ds Jannie Pelser van die Rant en Dal Gemeenskapskerk het aan Kerkbode gesê daar is eers ’n pastorale gesprek met die lidmate gevoer wat as kinders gedoop is om seker te maak dat hulle die betekenis van die bekeringsdoop verstaan. Volgens ds Pelser wil dié lidmate nie die relevansie en betekenis van hulle kinderdoop ongedaan maak nie.

Rant en Dal Gemeenskapskerk het vroeër vanjaar opslae gemaak toe hulle in ’n ope brief te kenne gegee het dat hulle lidmate tegemoet wil kom wat ’n behoefte aan ’n sogenaamde “grootdoop” het.

Ds Pelser sê die doopviering is deur verskeie lidmate bygewoon. Tydens die seremonie het die dopelinge om die beurt spontaan getuig van wat Jesus vir hulle beteken en waarom hulle ’n behoefte aan ’n herbevestiging van hulle doop het. “Daarna het die persoon spontaan onder die water weggesak,” het ds Pelser gesê.

Ds Pelser sê nadat die persone opgestaan het, is hulle deur die fasiliteerder herinner aan die waarheid dat hulle saam met Christus gesterf het en in ’n nuwe lewe opgestaan het. Hulle is aangemoedig om in dié lewe te volhard. Twee persone het uitbundig getuig dat hierdie geleentheid genesing van innerlike seer in hulle lewe teweeggebring het.

Volgens ds Pelser bring hierdie doopviering ’n einde aan maande van onsekerheid oor hoe lidmate met hulle “doopbehoeftes” binne ’n gereformeerde verstaan van die doop bedien kan word. Hy sê die gemeente gaan groter erns maak dat lidmate die relevansie van hulle doop verstaan en vier.

Die aktuarius van die jongste Algemene Sinode, dr Nelus Niemandt het vroeër vanjaar in sy reaksie op Rant en Dal se voornemens gesê ’n doopviering moet as viering van die doop verstaan word en nie as doopbediening nie.

Die Algemene Taakspan Regte (ATR) het gesê enige ander simboliese handeling druis in met die aard en karakter van ’n sakrament en die belydenis van die NG Kerk. Die ATR het gewaarsku dat ampsdraers wat lidmate “herdoop” tugwaardig is.jean@tydskrifte.co.za

Kommentaar

Daniel Louw

Dit is so ironies: “Die ATR het gewaarsku dat ampsdraers wat lidmate “herdoop” tugwaardig is.”. Nie ’n maand later nie het Ben du Toit en Kobus Gerber, die NGK se parlementêre verteenwoordigers die SA parlement aangemoedig om voort te gaan om homoseksuele huwelike te wettig (kyk NGK vra SA parlement dat homoseksuele huwelike gewettig word (Okt 2006)).

Daarna het nog predikante veel erger dinge kwytgeraak. Kyk NG Kerk se prioriteit is missionaal.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui