Skoen wil voet nie pas

********

Skoen wil voet nie pas | Netwerk24

Deur Johann Ernst

25 Julie 2021

Die openbare en kerklike pers het uit die pad gegaan om die klaer in die saak teen André Bartlett die eintlike skuldige in die saak te probeer maak, skryf Johann Ernst.

Neels Jackson se artikel “En balk in eie oog?” op hierdie blaaie verlede week kan nie onbeantwoord gelaat word nie.

Dit is nie gebruik om die uitslag van kerklike ondersoeke in die openbare media te bespreek nie. Maar wat gemaak as ’n getuie in die saak, nadat die bevinding gemaak en die uitspraak gelewer is, net voortgaan om die bewese onwaarhede te herhaal, nuwe onwaarhede op te dis en die persoon teen wie die valse getuienis gelewer is net verder beswadder?

Jackson is óf onkundig óf hy probeer sy eie wanoptrede regverdig. Hy was redakteur van die Kerkbode toe die storm om die kop van dr. Chris van Wyk losgebars het. Hy was die eerste wat die strooipop opgestel het en die valse narratief verkondig het dat Van Wyk se opmerking oor pedofilie op haatspraak neerkom en dat gay mense daardeur gekrenk is.

Jackson hou vol daarmee dat pedofilie nie deur sielkundiges as ’n seksuele oriëntasie beskou word nie en gee daarvoor sy geselekteerde bronne. Indien Jackson hom van ondersoekende en eties-verantwoorde joernalistiek laat bedien en sy eie vooroordele opsy skuif, sal hy tot die verrassende ontdekking kom dat hy van die begin af die kat aan die stert beet het.

Daar is wêreldwyd ’n uitgerekte debat onder sielkundiges en psigiaters aan die gang oor pedofilie as seksuele oriëntasie. Daar word toenemend aanvaar dat pedofilie inderdaad as seksuele oriëntasie beskryf kan word – in elk geval onder sekere gekontroleerde omstandighede. Die artikels daaroor is legio, terwyl niemand nog op teologiese gebied met gesag en oortuiging kon aanvoer dat seksuele oriëntasie, soos ds. Nelis Janse van Rensburg op eie insig en Skrifverstaan die ontspoorde kerklike debat begin het, as ’n goeie gawe uit God se hand met dankbaarheid ontvang en met sorg gekoester moet word nie.

Dit is nie waar dat die Sielkundevereniging van Suid-Afrika hom teen Van Wyk se standpunt uitgespreek het nie: Dit was die gender-afdeling van hierdie vereniging en slegs die verklaring van twee persone wat aktief by pro-gay aktivisme betrokke is. Dit is nie waar dat die American Psychiatric Association (APA) se nie ruimte laat vir pedofilie as seksuele oriëntasie nie.

Weens sosiopolitieke druk is “oriëntasie” wel in die vyfde uitgawe van 2013 met “aangetrokkenheid” vervang, maar eintlik beteken dit nog presies dieselfde.

Jackson sal by die lees daarvan dadelik sien dat pedofilie nie sonder meer as versteuring (“disorder”) geklassifiseer word nie, tensy die persoon aan sekere kriteria voldoen.

In 2019 word in Psychology Today South Africa geskryf: “For the condition to be diagnosed, an individual must either act on their sexual urges or experi­ence significant distress or interpersonal difficulty as a result of their urges or fantasies. Without these two criteria, a person may have a pedophilic sexual orientation but not pedophilic disorder.”

K. Jordan en andere, almal forensiese sielkundiges verbonde aan die Kliniek vir Psigiatrie en Psigoterapie van die Mediese Sentrum van die Universiteit van Göttingen in Duitsland, skryf in ’n artikel gepubliseer in 2020: “ . . . if persons report an absence of feelings of guilt, shame, or anxiety about these impulses and are not functionally limited by their paraphilic impulses, and their selfreported and legally recorded histories indicate that they have never acted on their impulses, then these individuals have a pedophilic sexual orientation but not a pedophilic disorder.”

Minder as ’n maand ná Van Wyk se opmerking het prof. Dap Louw op Netwerk24 geskryf: “Pedofilie is ’n psigiese versteuring, maar dit is nie verkeerd om daarna te verwys as ’n seksuele oriëntasie nie. Dit is ook nie ’n misdaad opsig self nie totdat iemand wat aan die versteuring ly, wel ’n misdaad pleeg.”

Niemand het Louw vir die opmerking vervolg nie.

Daar moet dus ’n ander motief agter Jackson en ander se volgehoue aanvalle op Van Wyk wees.

Jackson beskuldig Van Wyk dat hy ’n drogredenasie op ’n onwaar stelling bou. Ongelukkig vir Jackson, blyk die stelling die waarheid te wees. Jackson is die drogredenaar. Sy probleem is dat indien Van Wyk se stelling waar is, hy homself in ’n hoek geredeneer het.

Omdat Jackson nie die verskil tussen seksuele oriëntasie en seksuele gedrag ken nie, en die een vir hom noodwendig tot die ander lei, kom sý drogredenasie op die volgende neer: As seksuele oriëntasie Godgegewe is, is die uitlewing van daardie oriëntasie ook Godgegewe. Want hoe sal God iets gee wat nie ook gebruik mag word nie.

Dit pas Jackson om so te redeneer as dit by gay mense kom, maar die skoen wil nie die voet pas as dit by ander seksuele oriëntasie kom nie. Nou is dit nie die skoenmaker se skuld nie, maar moet die voet liefs afgekap word en moet daar op die een voet vorentoe beweeg word.

Van Wyk het hom géénsins uitgespreek oor die skadelike seksuele gedrag van pedofiele nie. Hy het bloot gewys op die konsekwensie van ’n inkonsekwente redenasie wat mislei en bedrieg. Dit is bekend dat Van Wyk nie seksuele oriëntasie as uitgangspunt handhaaf nie, ongeag wie ook wat daaroor te sê het. Vir hom ken die Bybel net geslagtelikheid as Godgegewe en nét die huwelik as verbond waarin die seksuele uitgeleef kan word. Dit aanvaar Jackson uiteraard nie meer nie en moet hy om redes van sy eie vir Van Wyk daaroor teenstaan en beveg: Maak die boodskapper dood as jy nie van die boodskap hou nie!

Jackson besef duidelik nie dat dit juis hy en sy navolgers is wat die skade verrig het met die valse aanklag van haatspraak teen Van Wyk en die valse narratief dat Van Wyk die slegte van pedofilie met die goeie van homoseksualiteit in verband gebring het nie.

Jackson-hulle moet ’n keer verantwoordelikheid aanvaar vir die gevolge van hul eie uitsprake en optredes. Om iemand vals te beskuldig van iets wat hy nóg gesê nóg bedoel het, is erg. Om daardie persoon te gaan sleg maak in die openbare oog, is nog erger.

Natuurlik kan die verantwoordelikheid vir Van Wyk se pyn nie alleen op dr. André Bartlett se brood gesmeer word nie. Jackson moet dit ook op sy brood kry! Die verwysing na leerdwaling is ook Jackson se eie ongegronde gevolgtrekking. As Van Wyk vir iemand sê dat sy standpunt nie met die Bybelse lering oor ’n saak ooreenkom nie, is dit daardie persoon se verantwoordelikheid om te verduidelik hoe hy of sy die kloutjie by die oor bring.

Jackson sal ook onthou word vir die sensuur wat hy weens sy vooroordeel en wanvertolking toegepas het in ’n tyd waarin vryheid van spraak konstitusioneel baie hoog geag word. Maar so werk ’n mens as jy jou posisie misbruik om jou teenstander die mond te snoer. Die regsadvies wat hy na bewering gekry het, was duidelik verkeerd: Van Wyk het hom nie aan haatspraak skuldig gemaak nie. Hy word onregverdig daaroor vervolg.

Nóg die Qwelane-saak nóg die gelykheidswet se definisie het met die meriete van die saak iets te doen.

Jackson gryp hier na strooihalms.

Die openbare en kerklike pers het uit die pad gegaan om die klaer in die saak teen Bartlett die eintlike skuldige in die saak te probeer maak. Jackson en sy navolgers het die tegniek van skuldverplasing bemeester. Hy begin ook sy artikel met wat die tugliggaam oor die klaer sou gesê het. Hy verdraai die tugliggaam se woorde en plaas dit buite konteks. Miskien het Jackson ook nie die woord “moontlike” daarin raakgesien nie. Gelowiges is daagliks besig met selfondersoek en maak reg waar hulle verbrou het.

Bartlett het egter nie vir Van Wyk “moontlike” skade aangedoen nie. Die skade wat Bartlett vir Van Wyk aangedoen is, is nou bewys. En die skade wat Jackson vir Van Wyk aangedoen het en steeds aandoen, kan ook nou op dieselfde gronde bewys word.

* Dr. Johann (Tokkie) Ernst was die klaer in ’n saak waarin dr. André Bartlett beskuldig is dat hy die negende gebod oortree het, ’n saak waarin Bartlett uiteindelik op een van die vyf klagte skuldig bevind is.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui