Rugby het mos spelreëls – die NG Kerk ook

Kyk ook KOMMENTAAR onderaan.

*******

Rugby het mos spelreëls – die NG Kerk ook | Netwerk24

Gerhard Mahne, Kaapstad

22 September 2023

Die algemene sinode van die NG Kerk vergader eersdaags tussen 15 en 20 Oktober in Boksburg. Weer eens gaan omstrede sake bespreek word wat spanning gaan meebring. Dis soos in ’n rugbywedstryd waar die manne mekaar soms aanvat in plaas van om die bal te speel.

Daarom word daar voor elke kerklike vergadering van die afgelope twee dekades kort-kort gevra dat “sinodespelers” tog liefdevol en verdraagsaam teenoor mekaar moet optree en vir mekaar ruimte moet maak. Die geheim van ’n goeie kerklike “wedstryd” lê in die nakoming van spelreëls, soos in rugby.

Die kerk se spelreëls is sy Kerkorde. Daarin is byvoorbeeld ’n spelreël wat die reël oor beswaarskrifte genoem word. Dis vir ernstige leerverskille. In die NG Kerk is dit Kerkorde Reglement van Orde, 2.1-2.4. Ernstig in rugby beteken mos dat oortreders ’n geel- of rooikaart kry. Die algemene sinode-“skeidsregter” lol egter met hierdie Kerkordespelreël.

Dit het in 2015 [Hierdie moet 2019 wees] gebeur toe 600 bladsye beswaarskrifte ingedien is, maar tot op hede nie volgens die Kerkordereëls hanteer is nie. By vanjaar se sinode gaan daar weer beswaarskrifte op die agenda wees. Ons moet maar wag en kyk wat dié keer met hierdie beswaarskrifreël gaan gebeur.

Wanneer beswaarskrifte as gevolg van tydsbeperking nie behandel kan word nie, behoort ’n buitengewone vergadering daarvoor belê te word. Maar die algemene sinode se moderamen/dagbestuur (skeidsregterskomitee) het dit die afgelope jaar of twee geweier, met die verskoning dat “ ’n Spesiale AS-sitting te duur is” (Rapport, 20.03.2022).

Te duur? En dan vra hierdie “sinodeskeidsregter” oor en oor vir die spelers “dat ons met mekaar moet praat en mekaar tog net nie moet verloor nie”.

Terselfdertyd sê hy ook dat die NG Kerk nooit weer ten opsigte van selfdegeslagverhoudings (en ander) van besluit sal verander nie (Kerkbode 20.01.2021). Te duur! Nooit verander nie! Kom ons praat! Dis mos ’n klug. Dis soos Henry Ford wat vir sy fabriekswerkers gesê het: “Julle mag ’n Ford enige kleur verf, solank dit swart is”.

Dis tyd dat die “ref” en nie die spelers nie ’n Kerkorde art. 37-rooikaart moet kry wat sinodes se losmaking van die algemene sinode beteken. Die rakleeftyd vir kerklike outokrasie van bo na onder het nie meer ’n plek in ons moderne kerklike samelewing nie, ook nie in die burgerlike samelewing nie. Behou hom as deel van ’n forum vir teologiese debatvoering, maar vat sy fluitjie weg en gee dit terug aan die kerk se tien streeksinodes soos voor 1962.

Kommentaar

Daniel Louw

Daar word verwys na “Kerkorde Reglement van Orde, 2.1-2.4.” Dit kan op bladsy 33 van die kerkorde van 2019 verkry word. Daar staan:

2. BUITENGEWONE ALGEMENE SINODE

2.1 Die ASM het ’n mandaat om ‘n buitengewone vergadering van die Algemene Sinode byeen te roep. Dit geskied met skriftelike kennisgewing van vier weke aan al die samestellende sinodes.

2.2 ‘n Buitengewone vergadering van die Algemene Sinode konstitueer met dieselfde personeel as by verdaging van die vorige gewone vergadering van die Algemene Sinode. Dit staan samestellende sinodes egter vry om die afvaardiging aan te vul. In alle gevalle moet geloofsbriewe ingehandig word.

2.3 Die voorsitter van die ASM open die vergadering en lei die vergadering.

2.4 Die buitengewone Algemene Sinode kan net die sake hanteer waarvoor die vergadering byeen geroep is.

Dit is onseker wat die punt is wat gemaak wil word.

Kyk ook Kennis van revisie en bladsy 39 en 117 van die Kerkorde van 2019.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui