Oor die 600 bladsye se gravamina wat nooit hanteer is nie

Oor die 600 bladsye se gravamina wat nooit hanteer is nie

Met die aanvang van die NG Kerk se algemene sinode van 2019 is 74 gravamina ingedien oor selfdegeslagverhoudings (SGV). Ten minste twee daarvan was ten gunste van SGV, maar die oorgrote meerderheid van die 74 was gekant daarteen. In totaal het die gravamina meer as 600 bladsye beslaan. Omdat dit so baie was, was dit nie ingesluit by die agenda nie, maar was dit op ’n aparte CD beskikbaar en dit kon ook van die webblad van die NG Kerk afgelaai word (nou beskikbaar op kerkargief.co.za/acta).

Die 2019-sinode het egter nie al hierdie gravamina hanteer nie en sommige behoudendes kritiseer nou die sinode daaroor (kyk byvoorbeeld hier en hier en hier).

Daar is ‘n paar dinge wat in ag geneem moet word:

1. Die sinode het die reg om slegs kennis te neem van gravamina

Iemand het hieroor navraag gedoen by ‘n kerkregkenner. Hier is die vraag en die antwoord:

Vraag: Hoe lank het die sinode om beswaarskrifte en gravamina te hanteer en af te handel? Soos ek dit verstaan is daar tans ongeveer 600 bladsye wat nie hanteer is nie.

Antwoord: Daar is streng gesproke geen tydsbeperking nie, maar wanneer ‘n beswaarskrif of gravamen by ‘n sinode ter tafel was, en die sinode besluit het om slegs daarvan kennis te neem of om watter rede ookal daarvan af te stap, dan is dit afgehandel. Om dit weer op die agenda van ‘n volgende sinode te laat dien, sal spesiale revisie gevra moet word met duidelike motivering waarom dit weer ter tafel moet kom.

2. Kerkorde nie spesifiek

Nêrens stipuleer die kerkorde presies hoe gravamina hanteer moet word nie. Tydens die 2019-sinode was die Kerkorde 2015 geldig. Kyk “Reglement 19: Reglement vir appèl en beswaar”, bladsy 86, wat die voorskrifte vir besware en gravamina bespreek.

3. Sinodegangers was deeglik bewus dat SGV bespreek sou word

Daar moet gelet word op wat voor die sinode alles gebeur het:

  • In 2015 het die sinode besluit om ruimte te skep vir SGV. Dit het vir baie lidmate as ‘n groot skok gekom.
  • In 2016 is die besluit tydens ‘n buitengewone algemene sinode omgedraai. Vir hierdie sinode is oor die 100 beswaarskrifte ingedien.
  • Voor die buitengewone sinode in 2016 het 12 lidmate die NG kerk hof toe gesleep omdat ‘n moratorium op die 2015-besluit geplaas is. Op 8 Maart 2019 het die hof uitspraak gelewer en die NG Kerk het verloor.

Met die aanvang van die 2019-sinode was die kwessie oor SGV dus ‘n uiters aktuele saak en al tot vervelens toe gedebateer en bespreek. Alle sinodegangers het baie goed geweet dat die kwessie van SGV weer op die tafel sou wees. Enige sinodeganger wat sy sout werd was sou alreeds voor die sinode sy eie standpunt geformuleer het oor die kwessie en hy/sy kon die 600 bladsye se gravamina, wat vir almal beskikbaar was, ook gebruik het om dit te doen. Sinodegangers het oorgenoeg tyd gehad om voor te berei vir die bespreking wat sou kom.

‘n Mens moet dus vra of dit enigsins sinvol sou wees om tydens die sinode nog baie tyd aan al die gravamina/beswaarskrifte te spandeer.

4. Hantering van gravamina is bespreek

Tydens die sinode was heelwat tyd spandeer om te besluit hoe die gravamina hanteer moes word. Kyk NGK Algemene Sinode 2019 LiveStream Live Stream op Youtube.

Dit is dus nie onder die tafel ingevee nie.

5. Genoeg geleentheid om opinies te gee

Alhoewel die gravamina nie spesifiek hanteer is nie, was daar oorgenoeg tyd gegun vir die bespreking van die onderwerp. Kyk NGK Algemene Sinode 2019 LiveStream Live Stream op Youtube.

Dus het sinodegangers genoeg geleentheid gehad om al die teologiese argumente wat vervat was in die gravamina, op die tafel te plaas tydens die sinode.

6. Alternatief?

Die vraag is: hoe moes die sinode 600 bladsye se gravamina anders hanteer het? Moes al 600 bladsye voorgelees word? Dit is tog duidelik onrealisties.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui