Tafelberg gemeente: leraar se legitimasie word beëindig

Op 24 September 2023 deel die leraar van Tafelberg gemeente, ds Chris Saayman, die volgende op Facebook en hulle gemeente se Whatsapp groep:

KANSELMEDEDELING 24 SEPTEMBER 2023

Soos almal weet het daar in Juniemaand vervolging van die plaaslike NG Ring teen my begin in ‘n poging om van my ontslae te raak.

Danksy die Kerkraad se Akte van Opskorting is dit afgeweer. Die kerkraad het betyds en effektief gehandel deur die gemeente se verbintenis met die NG Kerkverband op 22 Junie op te skort.

Sederdien het die Ring egter besluit om die vervolging – ongeag grondige besware – op onkerkordelike en onwettige wyse voort te sit, selfs al is ek (en die gemeente) nie meer deel van die kerkverband nie.

Die ondersoek het onlangs in my afwesigheid plaasgevind en daar is besluit om my legitimasie in die NG Kerkverband te beëindig. ‘n Besluit wat ons nie raak nie omdat ons buite die verband is.

Sou die Kerkraad die opskorting van die kerkverband ophef, sal die Ring hulle sin kry om my uit diens van die Gemeente te stel.

Dit het tot gevolg dat die aandrang van sommige lidmate dat die kerkverband herstel moet word, glad nie meer oorweeg kan word sonder dat dit persoonlike gevolge vir my en my gesin het nie.

Danksy ons Akte van Opskorting kan ek dus as leraar onbevlek en ongehinderd in die diens van die Here voortgaan en ook die gemeente kan voortgaan soos voorheen.

36 jaar gelede het ek die Legitimasie-eed onderteken –ek het altyd daaraan getrou te bly – en vanoggend herbevestig ek dit voor al die getuies hier teenwoordig:

HERBEVESTIGING VAN LEGITIMASIE-EED

Ek, die ondergetekende, beroep en bevestig as bedienaar van die Woord in die Ned Geref Kerk Tafelberg, verklaar hiermee in alle opregtheid voor die Here dat ek van harte glo dat al die artikels en stukke van die leer vervat in die Belydenisskrifte en Formuliere van Eenheid – naamlik die Nederlandse Geloofsbelydenis, die Heidelbergse Kategismus en die Dordtse Leerreëls, ooreenkom met die Woord van God. Ek belowe om die voornoemde leer ywerig en volhardend te leer en in my wandel getrou te handhaaf, sonder om iets teen dié leer, hetsy regstreeks of onregstreeks te leer of te skrywe. En net soos ek hierdie leer te goeder trou aanneem en van harte glo, so verwerp ek alle dwalings wat teen hierdie leer stry en beloof ek om dit te weerlê, teë te spreek en alles in my vermoë te doen om dit uit die kerk te weer.

Geteken te Kaapstad op 24 September 2023

Chris Saayman

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui