Nelis Janse van Rensburg | Algemene Sinode 2023: Dán sal die kerk in die nagloed van die ontmoeting met haar Hoof, nuut getuig, nuut sy liefde beliggaam …

Kyk ook KOMMENTAAR onderaan.

*******

Nelis Janse van Rensburg | Algemene Sinode 2023: Dán sal die kerk in die nagloed van die ontmoeting met haar Hoof, nuut getuig, nuut sy liefde beliggaam … | Kerkbode

20 September 2023

Nelis Janse van Rensburg

Die reis van God se volk na Kanaän was ’n moeisame tog. Dit het onder meer aan Moses en Aäron as leiers buitengewone eise gestel. Die geloofslesse wat geleer is, was egter onontbeerlik vir die vorming van die karakter van ’n volk wat tot die uiterste getoets sou word in ’n vreemde land met vreemde gode.

Reeds op die drumpel na die nuwe land moes al hierdie ervaring en kennis nou tot gelding kom. En dan bid Moses: “As u teenwoordigheid nie saamgaan nie, moet U ons nie van hier af laat optrek nie.” “Is dit nie wanneer U met ons saamgaan, dat ons onderskei sal word, ek en u volk, van elke ander volk op die aardbodem nie?” (Eksodus 33). “Gaan voor ons uit, Here.”

Moses het inderdaad baie geleer op die pad na Kanaän.

LEES OOK: #AlgemeneSinode2023: Só lyk die agenda vir saamkoms van 15-20 Oktober

Op Sondag 15 Oktober vergader die Algemene Sinode van die NG Kerk in Johannesburg (Sien die agenda onderaan dié rubriek. – Red). Die tema van die Sinode is deur die Algemene Sinode Moderamen (ASM) vasgestel: Gaan voor ons uit, Here. Soos die volk van God van ouds het ons ’n behoefte aan ’n innige ontmoeting met God. Of hoe heerlik sal dit nie wees om net iets van die heerlikheid van God te kan sien nie. Dan sal ons immers in die nagloed van sy heerlikheid anders dink en leef en droom oor die volheid van God se majesteit. En ons sal anders dink oor mekaar en oor ons land. Ons het immers op pad hierheen geleer dat ons beperkte verwagtinge, denke en drome oor God dikwels ons grootste struikelblok is. Ons het soos Moses geleer dat wanneer God en ons saam op reis is, ons duidelik onderskeibaar is van die wêreld se instansies en strukture, lewenstyl en optredes. Ons het geleer hoe die glans van sy teenwoordigheid afgee en ons gelaat verander.

Daar was diepe luister ook

Die ASM is nie onbewus van die verwagtinge by baie dat die Algemene Sinode eintlik ’n slagveld moet wees in die stryd tussen denkskole, kampe en strydendes nie. Die ASM is ook nie onbewus van die frustrasie van mense wat ontevrede is met bepaalde besluite van die 2019-sinode nie. Die ASM se verwagtinge van die Sinode is egter anders. Die ASM, bestaande uit die 50 leiers van die tien samestellende sinodes van die NG Kerk, en nog 20 persone met waarnemerstatus, het oor die afgelope vier jaar ’n besondere reis onderneem. Daar is diepgaande na mekaar geluister. Die ASM het ook tyd afgestaan aan afvaardigings vanuit die samestellende sinodes en moeite gedoen om seker te maak dat hulle tevrede is met wat ons gehoor het. Daar is onderskeidend saamgedink. Daar is uiteenlopende menings uitgeruil.

LEES OOK: Slypskool 2023 | Lidmaattal: Die 60-plussers staan sterk in die kerk

Daar het leer plaasgevind. Lede het al meer genuanseerd gepraat. Daar is geleer om nie te veralgemeen nie, nie te stereotipeer nie, nie te katastrofeer nie, nie sonder meer mekaar se bona fides te betwyfel nie. Daar is onderskeidend gedink oor diversiteit, daar is protokolle ontwikkel met die oog op regverdigheid en deursigtigheid. Daar was soms frustrasie. Daar was hier en daar jammer oomblikke waarin teruggeval is in slegte gewoontes. Maar telkens het respek en omgee geseëvier. Die omvang van die werk van die ASM met al sy taakspanne, was uiteindelik groot en omvattend. Deur die Covid-pandemie heen kon die ASM voortbou aan verhoudings, onderling, asook met ander kerke en instansies.

Trouens, die wonderlike onderlinge ondersteuning tussen sinodes, ringe en gemeentes oor sinodale grense heen in tye van rampe, het bevestig dat ons verbondenheid aan mekaar veel verder strek as om saam in vergaderings te sit. So het ook ons ekumeniese verhoudings nuwe reikwydtes en hoogtepunte opgelewer waarvan ons vroeër maar net kon droom. Ons bydraes in ekumeniese kringe het meermale standpunte van die ekumeniese kerk versterk of betekenisvol beïnvloed.

Op die reis wat agter ons lê, het ons geleer om die Here te vertrou met ons diversiteit, om te bly vra na sy wil, om te bly omgee vir mekaar, en om te bly liefhê, saamwerk en saam dien. Ons het geleer dat ons nie sonder Hom kan vorentoe gaan nie. Ons het ons afhanklikheid van Hom telkens opnuut begryp. Daarom verwag ons meer van die Sinode as om maar net nog ’n vergadering te wees wat onderworpe is aan onbeheerste magte en belangestryde. Ons verwag dat die Sinode die versoeking sal weerstaan van hoogmoed, van wysheid in eie oë, om kwaad met kwaad te vergeld en onreg met belediging. In ’n opregte ontmoetingsgebeurtenis met God sal daar immers nie ruimte hiervoor wees nie.

LEES OOK: Johan van der Merwe: Beroering ná die Algemene Sinode: Nie nog nie, asseblief

Daar is oor die afgelope termyn uitstekende werk deur die taakspanne van die Sinode gedoen. Hulle verslae bied baie stof tot verdere nadenke en ontsluit opwindende moontlikhede vir die kerk. Die verslag van die Algemene Kuratorium met sy omvattende hervorming van kerklike opleiding, en dié van die taakspanne vir Missionale Roeping, Missionale Diakonaat, Leer en Aktuele Sake, Navorsing en Kategese is maar enkele van die verslae wat die afgevaardigdes se ernstige oorweging en diepgaande onderskeiding gaan vereis.

Die sinode is in 2019 met ’n wysiging van die Kerkorde vergroot. Daar sal gevolglik vanjaar 370 afgevaardigdes wees. Hulle gaan moet hard werk, deeglik besin, die teenwoordigheid van die Here soek, vra na sy wil, sy Woord bestudeer en aan Hom gehoorsaam wees. Dan sal die kerk in die nagloed van die ontmoeting met haar Hoof, nuut getuig, nuut sy liefde beliggaam, sonder vergelding en verwyt, nuut dien en omgee – só dat die wêreld sal weet dat daar ’n lewegewende ontmoeting met God was, en dat die reis tot hier besondere waarde toegevoeg het aan die karakter van die volk van God.

Ds Nelis Janse van Rensburg is predikant van die NG Gemeente Welgemoed en moderator van die Algemene Sinode.

Kyk AGENDA AS 2023 Elektronies (1).

Kommentaar

HENRIETTA KLAASING

20 September 2023 AT 16:31

Wilhelm Jordaan skryf in sy Van alle kante-rubriek “Regtig luister is ons geskenk aan mekaar” (13.09 op Netwerk24). Volgens hom het geuiterde woorde en regtig luister regstellende, terapeutiese krag en is gesprekvoering ‘n manier om stiltes, woede en misverstande weg te neem en verhoudings te genees. Die Dagbestuur van die Algemene Sinodale Moderamen van die NG kerk weier herhaalde versoeke om in gesprek te tree met Kairos Netwerk en van 4 Mei 2023 af ook met 56 gemeentes van Koinonia sinode (30.08 op Netwerk24). As meelewende lidmaat is dit my bede dat die Dagbestuur hier sal lees en veral Wilhelm Jordaan se slotwoorde “Kom ons praat” ter harte neem, sodat daar genesing kan plaasvind.

BERNHARD FICKER

20 September 2023 AT 20:16

Pragtig vernuftig en diplomaties geskryf. Net jammer die Algemene Sinode sit nie ook geduldig, gedienstig en gedwee en kyk presies wat die Bybel te se het nie. Of is die Bybel irrelevant, outyds en uit die oude doos vir hedendaagse teoloee?

HERMIAS NORTIER

21 September 2023 AT 08:43

Hopenlik sal daar nie net geluister word nie, maar ook besluit word. tans is dinge baie ongebalanseerd en word als weggesteek met ‘n aanhoudende “luister”-sousie.

PIETER DE JAGER

21 September 2023 AT 09:59

Die Tema wat die ASM voorstel vir die AS vergadering lui: Gaan voor ons uit Here. Eks. 33.
Dit is vir bykans 10% dolerende gemeentes in die NGK moeilik om in te sien hoe die Here as Hoof van die kerk, kan voorgaan op hulle reis, in die lig van n agenda soos dié van die komende AS. Alles dui daarop dat die afgevaardiges reeds hulle reis vooruit beplan het en die Here maar net wil mee neem. Die tema moet wees: TERUG NA DIE WOORD!

JOHANN

22 September 2023 AT 11:30

Die voorblad van die agenda het reeds ‘n aantal vrae opgeroep. Nou word die tema vir die vergadering bygebring: Moses en die volk! Die veragting sou wees dat daar waar Christene saamkom, Jesus en sy kerk, waarin Hy in elk geval voorloop en gelowiges Hom gehoorsaam volg die vergadering sal beheers. Geestelike onderskeiding en die leiding van die Woord en Gees is nie dieselfde nie. Jesus het ons reeds vooruit gegaan. Moses moes agterbly en slegs ‘n klein oorblyfsel van die volk het tot die kerk geword. Daar is iets nie reg in hoe kerkwees by die komende vergadering gestalte moet vind: Hy moet immers meer word en ons minder. Luister na mekaar vervaag in ‘n intieme luister na Hom: Luister, en julle sal lewe! Volg Hom geHOORsaam.

AMANDA SENNETT

23 September 2023 AT 14:01

Waarom word hier geen melding gemaak van “kom ons gaan kyk na wat God se wil is” nie. Die terugkeer na die Woord van God is dus nie belangrik nie. Al wat belangrik is is dat al die teenwoordigers net in vrede moet saam swem en konflik moet vermy. Dis tyd dat God se wil ernstig opgeneem moet word en dat daar weggedoen moet word van alle goedkeuring van sondes en sondige dade. Die mens se wil moet ondergeskik gestel word aan God se wil, nie andersom nie. Wat is die volgende aspekte wat die ASM wil goedkeur…. Aborsie…. Genadedood…. Prostitusie in die kerk se voorportaal… Ensovoorts. Ek het GEEN vertroue meer in die ASM nie.

DANIEL LOUW

26 September 2023 AT 14:15

Nelis vra ewe vroom: “As u teenwoordigheid nie saamgaan nie, moet U ons nie van hier af laat optrek nie.”
Intussen bulk die goue kalf in die tabernakel.

In 1 Samuel 28 lees ons dat God Saul verlaat het oor sy sondige lewe: “(5)Saul het die kamp van die Filistyne gesien; hy was bang en sy hart het benoud geklop. (6)Hy het die Here geraadpleeg, maar die Here het hom nie geantwoord nie, nóg deur drome, nóg deur die urim, nóg deur profete.”

Die Here sal ook nie die NG Kerk verder lei voor die sondes in die kerk nie eers verwyder word nie.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui