Kennis van revisie

Wanneer die NG Kerk se Algemene Sinode (AS) ’n besluit geneem het, dan kan die besluit slegs omgekeer word nadat kennis van revisie gegee is. Die proses werk soos volg:

  1. Die aansoeker verwys die kennisgewing van revisie na die Tydelike Taakspan Regte (TTR) voor die vergadering.
  2. Die TTR maak ’n aanbeveling wat na die AS geneem word wat tot stemming gebring word:
    1. Indien die meerderheid van die vergadering ten gunste van die voorstel stem, kan die kwessie weer bespreek word en kan daar weer ’n besluit geneem word.
    2. Indien die meerderheid nie ten gunste stem nie, word die besprekingspunt nie verder bespreek nie. Aansoekers moet dan wag tot die volgende vergadering om weer te probeer om die saak op die tafel te kry.

Dit is dus nie ’n lang proses nie, maar belangrik sodat daar nie tyd tydens die AS gemors word op dieselfde besluite wat aanhoudend op die tafel geplaas word nie.

Hier volg die amptelike beskrywing van die proses volgens die 2019 Kerkorde, bladsy 39:

9. HERSIENING

9.1 Besluite wat geneem is, mag alleen na voorafgaande kennisgewing en met die toestemming van die vergadering op ’n tyd wat deur die moderatuur bepaal is, in revisie geneem word.
9.2 Kennisgewing van revisie:
9.2.1 Revisie kan toegestaan word indien oortuigend aangevoer word dat:
9.2.1.1 daar in die bespreking van die saak waarom dit gaan, aan sekere aspekte daarvan nie voldoende aandag gegee is nie of glad nie aandag gegee is nie;
en/of
9.2.1.2 daar later inligting na vore gekom het wat hersiening van die besluit noodsaaklik maak.
9.2.2 Elke kennisgewing van revisie word na die Tydelike Taakspan Regte verwys om oor die meriete daarvan te oordeel teen die agtergrond van 8.2.1.
9.2.3 Die aansoeker stel die rede(s) vir die aansoek om revisie aan die Tydelike Taakspan Regte.
9.2.4 Die Tydelike Taakspan Regte doen ’n aanbeveling aan die vergadering ten opsigte van elke kennisgewing van revisie.
9.2.5 Die vergadering beslis met meerderheidstem of die revisie toegestaan word. Indien toegestaan, word die saak weer oopgestel vir bespreking en kan die vergadering tot ’n ander besluit kom of die vorige besluit kan gehandhaaf word.
9.3 Wanneer revisie by wyse van die proses soos beskryf in 8.2 of by wyse van ’n verslag soos beskryf in 6.9 behandel word is die saak waaroor dit gaan oop vir bespreking en word voorstelle en amendemente opnuut ingedien (sien paragraaf 4).
9.4 Indien ʼn nuwe voorstel goedgekeur word, vervang dit die vorige besluite.

Kyk ook Reglement 23: Reglement vir hersiening (revisie), appèl, beswaarskrif (gravamen) en prosedurele beswaar, bladsy 117

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui