NGK: Oostelike sinode wil ‘nuwe kerk plant’ weg van AS

Kyk kommentaar onderaan.

*******

NGK: Oostelike sinode wil ‘nuwe kerk plant’ weg van AS | Netwerk24

Arisa Schamrel

Beeld, 5 Augustus 2022

Die oostelike sinode (OS) sê hy wil ’n “nuwe kerk plant” wat onafhanklik van die NG Kerk se algemene sinode (AS) funksioneer, maar steeds “in assosiasie” is met die NG Kerk self.

In dié stadium blyk dit vir hom dit sal gedoen word deur ’n nuwe, afsonderlike streeksinode te stig.

Die OS het tydens vandeesweek se sinodesitting gesê hy is nie daar om oor “standpunte of persepsies” te argumenteer nie, maar eerder om werkbare oplossing te kry vir gemeentes wat ontevrede is met die stand van sake binne die AS. Die OS bestaan uit 84 gemeentes in Pretoria en Mpumalanga.

Hy sal egter goedkeuring vir die nuwe sinode by die AS moet kry deur middel van ’n tweederdemeerderheidstem.

Die besluit kom te midde van gerugte van kerkskeuring oor die AS se 2019-besluit om ruimte te skep vir selfdegeslagverhoudings in die NG.

Ds. Francois Retief, uitvoerende amptenaar van die OS, het dit egter benadruk daar “is nie sprake van skeuring of konflik nie. Ons familie-metafoor vra juis dat ons saam probeer kyk na ’n moontlike model wat ons kan help.”

Volgens hom moet die model wat op die tafel is, naamlik die stigting van ’n nuwe sinode, eers goedkeuring by gemeentes kry voordat hulle tot aksie oorgaan.

Die pad vorentoe

’n Werkgroep het drie keer voor die afloop van die sinode vergader om verskeie moontlikhede te bespreek. Die sitting het tot Woensdag geduur.

Luidens die vorderingsverslag wat by die sinodesitting voorgehou is, is daar gemeentes wat voel dit is “onmoontlik om met gewetensvryheid die pad vorentoe onder die sambreel van die AS te kan loop”.

Die gemeentes se besware spruit uit die AS se 2019-besluit en die daaropvolgende hofsake wat ook in die guns van selfdegeslagverhoudings beslis is.

Die gemeentes het egter geen besware teen die OS nie.

Moontlike tydlyn vir die vestiging van die nuwe model

Augustus 2022

Sinodesitting — Inligting en vir kennisname. ’n Span word saamgestel om formeel die model te beplan met insluiting van onsekerhede oor bevoegdheid, lidmaatskap, teologiese opleiding insluitend opleiding wat eie is aan die NG Kerk, die pensioenfondse van predikante en amptenare en so meer.

4 Augustus tot Desember 2022

Padberade waartydens gesprek gevoer word met kerkrade en leraars oor ’n nuwe model vir kerkverband en die aard van die verhouding wat die assosiaat met die Oostelike Sinode sal hê.

Februarie 2023

‘n Buitengewone sinodesitting waar daar ’n besluit oor ’n nuwe model vir kerkverband geneem word. As mense instem tot die model sal dit in Maart 2023 voor die AS se moderamen dien.

Oktober 2023

Die algemene sinode se sitting hanteer die formele aansoek.

2024

Nog ’n sinodesitting van die Oostelike Sinode vind plaas waar die gekose model gestalte sal kry.

Bron: NG Kerk se Oostelike Sinode

Theuns Kruger, Grafika24

Luidens die verslag is daar na verskeie moontlikhede vir die gemeentes gekyk, onder meer om na die dormante NG Kerk van Transvaal weg te breek.

Daar is egter beslis dat die entiteit regskwessies teweeg kan bring en die vestiging van ’n nuwe sinode blyk die beste uitweg te wees.

“Die werkgroep het die moontlikheid ondersoek dat die OS ’n nuwe streeksinode stig bestaande uit gemeentes wat nie verder onder die sambreel van die AS wil funksioneer nie maar tog nog in ’n verband met OS wil wees.

“In die taal van die missionêre beweging sou hierna verwys kon word as die “plant van ’n nuwe kerk met ’n eie naam en identiteit maar onafhanklik van die AS”, lui die vorderingsverslag.

Die kerk staan in assosiasie met die NG Kerk, beroepbaarheid van leraars word oor en weer erken en lidmaatskap van lidmate word heen en weer gedoen.

“Sake waaroor uitsluitsel verkry sal moet word, sluit in ampsbevoegdheid, die pensioene van leraars en amptenare, teologiese opleiding, gesamentlike bediening soos die CMR en moontlike administratiewe samewerking met die OS,” lui die vorderingsverslag.

Die model sal egter eers in 2024 gestalte kan kry, indien dit deur verskeie gemeentes aanvaar word en dit ’n tweederdemeerderheidstem van die AS kry.

Kairos bly blymoedig

Die moontlikheid van die stigting van ’n nuwe sinode binne die NG Kerk is goed ondersteun by die onlangse vergadering van die Kairos Netwerk, ’n gemeenskap van behoudende lidmate en gemeentes.

“Indien die OS se model gemeentes in staat gaan stel om los te kom van die AS in sy huidige formaat sonder om hul bates, regte en voorregte of hul identiteit as NG gemeentes te verloor, kan dit ’n positiewe bydrae wees om die huidige verdeeldheid in die NG Kerk aan te pak,” sê dr. Anton Knoetze, Kairos se voorsitter.

Hy sê hulle weet egter in dié stadium nog te min oor die model om “sinvolle kommentaar” te lewer.

AS ook aan boord?

Dr. Gustav Claassen, algemene sekretaris van die AS, sê hy is bewus daarvan dat die proses nou begin het.

“Ons gaan kyk hoe dit werk en hoe dit vorder en wat die uitkomste van die gesprekke is,” sê Claassen.

Hy benadruk ook dat daar nog geen amptelike besluite geneem is nie.

Kommentaar

In wese staan behoudende lidmate in die NG Kerk voor twee keuses:

  • Reformeer die kerk van binne (draai die NG Kerk om)
  • Skeur/breek weg

Om slegs weg te breek van die algemene sinode en steeds NG Kerk te bly, is nie ’n opsie nie. Daar kan nie totaal uiteenlopende sieninge binne een denominasie wees nie (kyk Dit help nie om algemene sinode te ontbind).

Hierdie is egter ’n baie positiewe verwikkeling wat hopelik op ’n grasieuse/welwillende/vreedsame skeiding (“graceful separation”) sal uitloop.

Presies hoe dit gaan uitspeel, weet ’n mens nie. Tyd sal leer…

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui