Willie Spies: Kerke moet liefs ideologie uitlos

*******

Willie Spies: Kerke moet liefs ideologie uitlos | Netwerk24

Willie Spies

5 Augustus 2022

Dinsdagaand op kykNET se Prontuit is gesels oor die onderwerp: “Waarom verloor dominees hul geloof?”

Die gas in die ateljee was dr. Ben du Toit, afgetrede leraar en kommunikasiehoof van die kerk wat hom vir die volle duur van sy werkloopbaan onderhou het.

In die onderhoud het hy nie werklik ’n duidelike antwoord op die vraag gegee waarom hy sy geloof verloor het nie, behalwe om die vrae waarmee mense gereeld worstel, soos “waarom gebeur tragedies?” en “waarom gaan kinders in motorongelukke dood?” te herhaal.

Kabous Meiring, aanbieder, het in verwondering geluister na die geykte retoriek en opnuut Du Toit se boek van Desember 2020, God, is daar ’n ander antwoord?, bemark.

Du Toit is reeds in 2000 deur lidmate van die kerk aangekla dat hy sy legitimasie-eed verbreek het.

Die legitimasie-eed van die NG Kerk lui soos volg: “Ek, . . ., verklaar hiermee in alle opregtheid voor die Here dat ek van harte glo dat al die artikels en stukke van die leer vervat in die Belydenisskrifte . . . ooreenkom met die Woord van God.

“Ek belowe om die voorgenome leer ywerig en volhardend te leer en in my wandel getrou te handhaaf sonder om iets teen die leer, hetsy regstreeks of onregstreeks, te leer of te skrywe.

“En net soos ek hierdie leer te goedertrou aanneem en van harte glo, so verwerp ek alle dwalings wat teen hierdie leer stry en beloof ek om dit te weerlê, teë te spreek en alles in my vermoë te doen om dit uit die kerk te weer.”

Uiteraard het Du Toit in die ondersoek wat gevolg het op die klagtes hewig ontken dat hy hom nie gehou het by hierdie eed nie.

In ’n voetnoot van die boek skryf hy dat hy aangekla is deur ’n argitek en ’n oor-neus-en-keel-spesialis en dat ’n sinvolle argumentatiewe gesprek eintlik onmoontlik was omdat hulle nie oor enige teologiese opleiding beskik het om ’n konstruktiewe beredenering te volg nie.

Die verweer is dus dat kerklidmate, wat verkies om te glo dat die eeue-oue belydenisse van die kerk die grondslag behoort te wees waarvolgens die kerk optree en sy leer rig, eintlik onbevoeg is om dit te doen omdat hulle nie teoloë is nie.

Dis dieselfde sentiment wat die Rooms-Katolieke Kerk in die Middeleeue gehad het, naamlik dat die Bybel slegs in Latyn deur die priesters gelees kon word omdat die “leke” nie die vermoë gehad het om dit te verstaan nie.

[Kommentaar: En dit is ook niks anders nie as om die man te speel in plaas van die bal – Ad hominem.]

In dieselfde TV-program het dr. Isak Burger van die AGS genoem dat hy nie dink mense verloor hul geloof nie.

As ’n mens jare lank in ’n verhouding met God gestaan het, redeneer Burger, kan jy mos nie daardie verhouding net skielik ontken nie – die enigste verklaring is dus dat so ’n persoon God nooit werklik geken het nie.

Die kersie op die koek was die laaste twee ateljeegaste, albei teoloë van dieselfde kerk wat Du Toit ná sy aftrede verwerp het, wat hom albei – nadat hy in 2000 verwoed ontken het dat hy sy eed verbreek het – loof vir sy “eerlikheid”.

Die internasionale skrywer, siel­kundige en akademikus dr. Jordan Peterson­ het onlangs in ’n YouTube-video gesê kerke moet ophou om ideologie te verkondig en hulle eerder besig hou met dit waarvoor kerke daar is. [Kommentaar: Moontlik Message to the Christian Churches.]

Dié verantwoordelikheid van die kerk is volgens Peterson om mense te leer hoe om hul roeping na te kom, om kerk toe te kom en om siele te wen. Die tyd is min en die tyd is nou.

Peterson is reg.

  • Spies is ’n prokureur van Hurter Spies Ing. en voorsitter van Pretoria FM.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui