Johann van der Westhuizen: Het die Grondwet ’n plek in die kerk?

Kyk kommentaar tussen die teks.

*******

Johann van der Westhuizen: Het die Grondwet ’n plek in die kerk? | Netwerk24

Johann van der Westhuizen

Rapport, Sondag, 6 November 2022

Moet homoseksuele mense toegelaat word om in ’n Afrikaanse kerk te trou? En te preek?

Hieroor stry Rapport­lesers gereeld. “Kies tussen gay-politiek en Bybel” en “Wil Jesus regtig doringdraad om ’n gay kind se hart span?”, lui die opskrifte op die brieweblad. Vir sommiges verteenwoordig dit skynbaar die kruispad tussen geluksalige ewige lewe en ’n nimmereindigende vagevuur. Ander wonder: Maak dit saak?

Oor die Bybel is ek geen deskundige nie. Hierdie stukkie verwys na ons Grondwet en vertel van ’n vriendskap en twee hofsake.

[Kommentaar: ’n Mens hoef nie ’n deskundige van die Bybel te wees om te weet wat die Bybel (maw God) van homoseksualiteit sê nie.]

Van ver links en regs word die Grondwet gekritiseer, gedekonstrueer en selfs ondermyn. Tog hou miljoene Suid-Afrikaners reeds vir byna drie dekades daaraan vas as ons enigste hoop. Dit reël nie net ons politiek nie, maar ook ons beroeps-, kulturele en privaat lewens. Het dit egter plek in die kerk, slaapkamer en hart?

[Kommentaar: Die grondwet is goed. Net soos God se morele wet, skep dit wet en orde in die samelewing. As die grondwet egter teenstrydig begin raak met God se morele wet, dan word dit ’n wesenlike probleem en indien hierdie teenstrydighede op geloofsgemeenskappe afgeforseer word, dan hou dit ernstige gevare in vir godsdiensvryheid.]

Artikel 9 beskerm gelykheid en verbied onregverdige diskriminasie op verskeie gronde, insluitend seksuele oriëntasie. In verskeie daaropvolgende artikels word menswaardigheid, privaatheid, godsdiensvryheid, vryheid van geloof en oortuiging, spraakvryheid en vryheid van assosiasie gewaarborg.

[Kommentaar: Oor die algemeen is diskriminasie sleg en onnodig, maar daar is ’n baie sterk saak uit te maak vir billike diskriminasie.]

Laat een koue, reënerige Kaapse nag in 1996, ná onderhandelings tussen ANC-hoës en manne in kakie wat deur genl. Constand Viljoen ingebring is, is artikel 31 ingevoeg: Mense wat aan onder meer godsdienstige gemeenskappe behoort, mag nie die reg ontneem word om hul godsdiens uit te leef nie.

Weens Suid-Afrika se verlede, waartydens gelykheid wreed vertrap is, nie slegs op grond van ras nie, is bygevoeg dat kultuur- en godsdiensregte nie uitgeoefen mag word op ’n wyse wat ander regte in die menseregtehandves – soos gelykheid – skend nie. Artikel 36 bepaal ook dat regte op ’n redelike en regverdigbare wyse beperk mag word.

Ná die aanvaarding van die Grondwet, het selfdegeslagpare deur middel van verskeie hofsake regte verkry rakende pensioene, kinders, ensovoorts. Die uiteindelike prys was egter die huwelik self. Die enigste belemmering in die Huwelikswet van 1961 was dat tydens die seremonie die paartjie moes sê dat elk die ander as “husband/wife” (“man/vrou”) neem. Die dames Fourie en Bonthuys het die hof genader en in die konstitusionele hof geëindig. Verander bloot “husband/wife” na “spouse”, dan is ons reg, het hulle gepleit.

Godsdienstige instansies kon op daardie stadium nie meer keer dat homoseksuele pare vir talle doeleindes erken word nie. Maar, nooit ooit die heilige huwelik nie, was hul saak. Skep dan maar ’n parallelle instelling met ’n ander naam, is geargumenteer – “so lank mense wanneer ek sê dat ek getroud is net nie dink dat ek een van daai klomp is nie”. ’n Predikantvriend het selfs gesê dat as gays mag trou, mens netsowel met jou perd sou kon trou . . .

[Kommentaar: En hy is reg. Mens het egter deesdae nie meer die vryheid om sulke dinge te sê nie, want jy word vinnig na die menseregtekommissie gesleep – kyk Opsomming van klag van haatspraak teen Chris van Wyk (Okt 2018-Okt 2020) en MRK ondersoek klag oor Steve se uitlatings.]

Die saak het dus oor die etiket, oftewel handelsmerk, “huwelik” gegaan. Mag ’n gay persoon sê: “Ek is getroud”, of “Ons nooi jou uit na ons troue toe”? Regter Albie Sachs se meerderheidsuitspraak het gesê dat, gegewe die kernrol van die huwelik in ons samelewing, die weiering van toegang daartoe op grond van seksuele oriëntasie neerkom op die fundamentele ontkenning van die reg om jou eie identiteit te bepaal. Dit gaan nie slegs oor die praktiese gevolge van ’n huwelik nie, maar die simboliese waarde daarvan. Mense moet hul liefde en eenheid in die openbaar kan vier.

[Kommentaar: Gay regte gaan lankal nie meer oor vryheid nie, maar oor erkenning. Daar is selfs sprake van ’n “gay agenda“. Die feit dat die gaykwessie so sterk gedryf word, laat ’n mens wonder of daar nie waarheid insteek nie.]

Die hof het die spesifieke bepaling in die Huwelikswet as ongrondwetlik bevind en die wetgewer een jaar gegee om dit reg te stel. Toe word die “Civil Union Act” van 2006 gemaak. Ingevolge daarvan kon gays ’n “burgerlike verbintenis” aangaan. Die Huwelikswet het egter bly bestaan. Heteroseksuele pare het die keuse gekry om onder die Huwelikswet te “trou”, of hulle onder die 2006-wet te verbind.

Ek was verbaas dat die homoseksuele gemeenskap dit aanvaar het. In vergelyking met heteroseksuele pare is steeds teen hulle gediskrimineer. Die uitspraak het spesifiek vermeld dat die wetgewer vir gay pare ’n openbare en private status gelyk aan dié van heteroseksuele pare moet gee. Intussen het gay pare egter in ieder geval begin om na mekaar as “my man” en “my vrou” te verwys en te sê dat hulle “getroud” is, verbintenis of te nie. So is die handelsmerk deur alledaagse taalgebruik uit die hande van die wetgewer en howe geneem.

Alles hiervan het vir Fourie en Bonthuys min beteken. Voor die jaar wat die hof beveel het verby was, het Eugène Marais se “Skoppensboer” – die dood – laaste gelag.

Dit laat my dink aan ’n vriend, of dalk verskeie vriende. Haar ma sê dat sy tydens haar swangerskap geweet het haar baba gaan gay wees. Toe sy nog klein was, het sy huilend op die grond neergeslaan wanneer sy ’n rokkie moes aantrek. Alhoewel haar seksuele voorkeur duidelik was, hou sy in matriek van ’n ordentlike seun. By ’n partytjie raak drank betrokke en sy word swanger. Nou is sy ’n ma van ’n volwasse dogter. Groot gebou met kort hare, het sy al bewys dat sy nie manne se vuiste in ’n kroeggeveg hoef te vrees nie. Vir 20 jaar reeds getroud met ’n vrou, stoot mense steeds in supermarkte opsetlik hul trollies in haar vas en beledig haar. In ons land is “korrektiewe verkragting” van lesbiese vroue deur mans wat hul man wil staan ’n walglike maar bekende praktyk.

Die laaste saak in die konstitusionele hof waarin ek ’n kort uitspraak geskryf het, was oor ’n baie gelowige Christen, heel gepas genaamd Ecclesia – ’n nooi De Lange. Sy het vir die Metodistekerk gewerk en ’n predikant geword. Die kerk het geweet van haar seksuele oriëntasie en dat sy saam met ’n vrou gewoon het. Toe kondig sy vir die gemeente aan dat sy gaan trou en word ontslaan. Nog altoos dag ek dat Christene moet trou, eerder as om buite die heilige eg in sonde saam te woon . . .

Die huwelik as instelling is lank nie meer wat dit was nie. Kerk en staat is onder ons Grondwet geskei. Skooltyd se “regte naam” is nie meer jou “doopname” nie. Wat die huwelik betref, stel die staat belang in registrasie ter wille van finansiële orde en kinderonderhoud, nie in die feit dat God Adam en Eva glo as “man en vrou” (en te hel met die ganse LGBTQI) gemaak het nie.

Ook gaan die huwelik nie slegs oor seks nie. Soms wil ’n 80-jarige maar net die reg hê om deur donker ure in ’n Katolieke hospitaal, wat net getroudes toelaat om te oornag, ’n geliefde lewensmaat van ’n leeftyd se hand op ’n sterfbed vas te hou.

So, geliefdes, het die Grondwet ’n plek in die kerk? Kragtens wetgewing mag amptelike huweliksbevestigers soos landdroste nie weier om gayhuwelike te voltrek nie. Kerke word nie verplig nie. Mag ’n kerk wat die deure oopgooi vir almal wat lewenswater soek mense van ’n bepaalde ras toegang verbied?

En in die slaapkamer? In die Metodiste-saak het ’n topadvokaat aangevoer dat die Grondwet daar geen rol speel nie. Myns insiens reik dit wel tot daarbinne; nie slegs met gelykheid nie, maar wel alle tersaaklike regte, soos privaatheid, gewetensvryheid en bowenal menswaardigheid. Dit is ondenkbaar dat ’n uiters intieme voorkeur vir ’n Christen, Jood, Moslem, Zoeloe of Afrikaanssprekende – of inderdaad ’n man of ’n vrou – as lewensmaat ongrondwetlik kan wees.

[Kommentaar: Behoudendes in die kerk vra nie dat selfdegeslagverhoudings onwettig of ongrondwetlik moet wees nie. Niemand het ’n probleem met gaypaartjies wat hulle eie huwelikseremonie wil hou nie. Hoekom is dit egter nodig dat die staat dit as ’n huwelik moet erken? En hoekom kan trouvenues (soos Beloftebos) nie besluit om hierdie seremonies op hulle grond te verbied sou hulle so voel nie. Selfdegeslagverbintenisse kan mos op dieselfde manier hanteer word as saamwoonverhoudings: indien paartjies besluit om saam te woon en nie te trou nie, moet hulle ’n kontrak in plek stel vir in geval die verhouding skeefloop. Homoseksuele paartjies kan dieselfde doen. Bitter min mens trou deesdae in elkgeval sonder ’n kontrak.]

Mededingende regte moet teenoor mekaar afgeweeg word. Of ’n hof die aangewese instelling is om dit in die binneste kring van menswees te doen, is ’n ander vraag. Wie dan anders? ’n Priester; Rapport se briefskrywers?

Wat dink jy, liewe leser?

Of is Woody Allen reg met die tema van sy treffende humoristiese film getitel Whatever Works?

  • Johann van der Westhuizen is ’n afgetrede regter van die konstitusionele hof.

1 thought on “Johann van der Westhuizen: Het die Grondwet ’n plek in die kerk?”

  1. Die Grondwet het nie altyd n plek in die gemeente van God nie.Die opdrag aan Christinne is as volg:”Obey the superior authorities,because they were placed in their relative positions by God”

    Maar wanneer die Staat die gewete van die Christen wil afkraak deur die volgende:”Causing trouble by decree”moet die Christin Petrus se houding inneem:”We must obey God as ruler rather than men.

    Die apostels was almal verneder en aangerand omdat hulle Jerusalem gevul het met leerstellings op grond van Jesus se naam.Na die aanrandings en intimidasie het hulle onmiddellik aangehou met die predekings werk.
    Die Staat het n paar jaar gelede duidelik gemaak dat landdroste wat weier om gay mense te trou summier afgedank sal word

    Wat sal die Christen doen as die Staat n wet en straf klousule ontwerp om Christinne te forseer om gay mense te trou en daardie huwelike as eerbaar te ag.

    Wel Jesus het oor en oor duidelik gemaak dat dit nie maklik sal wees om hom te volg nie.
    Die probleem is dit:”Verstaan die moderne Christen werklik wat dit beteken om homself te betoon.
    Die Bybel sê onder andere van die eerste eeuse christenne:”they find joy in the plundering of their possessions.
    Verstaan die moderne Christen werklik wat dit beteken om ten alle koste integriteit te hou.
    Jesus homself het gesê wat moontlik met integriteit handhawers kan gebeur naamlik,1)Tronstrawwe2)Selfs die dood

    Is die moderne Christen werklik gereed om geskroei te word.
    Jesus het allermins ook gesê:”look satan has demanded that you men be sifted as wheat.

    Die leerstelling dat alle Christene op n wonderbaarlike manier beskerm sal word,is n vals leerstellings.Jesus het dit nooit geleer nie,inteendeel hy een van sy apostels voorberei en vir hom gesê presies watter dood hy gaan sterf
    Die Boek van Openbaring se aangaande die wat die wêreld oorwin het:”they were slaughtered.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui