Jaun de Vries: Die ongeregtigheid van Sosiale Geregtigheid

*******

Jaun de Vries skryf: Die ongeregtigheid van Sosiale Geregtigheid | Kerkbode

Kerkbode

9 November 2022

Jaun de Vries van Boksburg skryf: Die onlangse briewe oor sosiale geregtigheid verwys. Sosiale Geregtigheid (SG), met sy identiteitspolitiek en slagofferkultuur, is ’n bedreiging vir die evangelie en het niks in gemeen met Bybelse geregtigheid nie.

Soveel gelowiges toon ’n gewilligheid om Bybelse waarhede en sake waaroor die Skrif duidelik is te kompromitteer of te ignoreer. Soveel kapituleer voor kulturele voorkeure eerder as om onderdanig aan Bybelse waarhede te wees. Daar is ’n voortdurende versagting van die evangelie se posisie ten opsigte van Skrifvreemde idees soos byvoorbeeld gendervloeibaarheid, seksuele oriëntasie en homoseksuele huwelike.

Waarom word soveel toegewings gemaak? Omdat dit die logiese volgende stap is vir ’n kerk wat vasgevang is in ’n geneigdheid om die heersende kultuur ter wille te wees. ’n Kultuur wat die kerk se styl en die inhoud van sy boodskap wil dikteer. Die toegewings word gedryf deur die nastreef van aanvaarding in die breër kultuur. Die omarming van SG reflekteer dus ’n vrees om uit pas met kontemporêre “wysheid” te wees. Ten spyte daarvan dat die wysheid van hierdie wêreld dwaasheid by God is (1 Kor 3:19).

Nie almal bedoel met SG die volle spektrum van radikale idees nie. Maar hulle gebruik dieselfde retoriek van slagofferskap en onderdrukking wat die sekulêres gebruik om afwykende leefstyle te bevorder. Enigiemand wat slagofferstatus eis kan met gemak ’n emosionele pleidooi vir SG gebruik om ondersteuning te kry.

Die Skrif het nie verskillende variasies van geregtigheid nie: Daar is slegs ware geregtigheid soos deur God self gedefinieer. Die Bybel ondersteun die liefdadige aspekte van geregtigheid: barmhartigheid, welwillendheid, deernis en hulp vir armes, ens. Maar Bybelse geregtigheid het dit nooit ten doel om die weegskale van voorregte gelyk te maak nie. Die Bybel keur dit juis as ongeregtigheid af (Eks 23:3).

Daar is aspekte van ware geregtigheid wat ontbreek in die SG-dialoog: bv gehoorsaamheid aan owerhede (Rom 13:1-7), regverdige strawwe vir misdaad (Lev 24:17-22), ’n sterk werksetiek (1 Tess 4:11) en dat luiaards nie liefdadigheid verdien nie (2 Tess 3:10).

Pogings om die evangelie te verbreed deur SG in te sluit sal uiteindelik die evangelie so afwater dat die ware boodskap verlore sal gaan. SG lei die aandag van Christus en die kruis af. Dit plaas die fokus op aardse dinge. Dit verduister die belofte van vergifnis vir hopelose sondaars deur mense te oortuig dat hulle die slagoffers van ander se misdrywe is. Dit voed die werke van die vlees in plaas van die vrug van die Gees. So ’n verbreedte evangelie verlos meer as wat God self daarby insluit (Matt 17:21).

’n Gedurige gekla dat ons slagoffers van ongeregtigheid is terwyl ons ander mense se sondes veroordeel is nie in die gees van Christus nie. Enigiets in stryd met die vrug van die Gees en die eienskappe van die liefde (1 Kor 13) kan nie geregtigheid genoem word nie.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui