As jy Hom verloën, moenie sy seën verwag

Die volgende is geskryf in reaksie op Vra nuwe verbintenis vir pare (8 Okt 2022).

*******

As jy Hom verloën, moenie sy seën verwag | Netwerk24

Daniel Louw, Secunda

Die Burger, 13 Oktober 2022

Adv. Hein van der Walt stel voor dat huweliksbevestigings vervang word met ’n kontrak tussen geliefdes (“Huweliksbevestigings dalk uitgedien”, 11.10). Sodoende is almal gelukkig.

Paartjies kan dan self besluit watter betekenis hulle aan hul verbintenis koppel en hoe hulle die verbintenis vier sonder dat dit iets met die staat te doen het. Dit is ’n opsie, maar . . .

Die vraag is, waar kom die eeue oue gebruik vandaan dat die huwelik (tussen ’n man en vrou) deur die staat bevestig en erken word? As dit net oor praktiese en wetlike reëlings gaan, dan kan ’n mens hierdie gebruik maklik met ’n kontrak vervang.

Ek het ’n idee dat dit weens godsdienstige redes is – die staat het nog altyd erken dat die huwelik deur God ingestel is en selfs dat gesonde gesinne ’n gesonde samelewing tot gevolg het. Net soos die staat nog altyd in howe ’n eed voor God erken het.

Nietemin, Van der Walt se voorstel herinner sterk aan wat in 2012 in Amerika gebeur het: Iemand het ’n granietmonument van die Tien Gebooie geskenk en dit is langs die staatshuis in Oklahoma opgerig. Kort daarna het sataniste daarop aangedring om ook ’n standbeeld van Baphomet op te rig.

Om die vrede te bewaar is toe besluit om die Tien Gebooie te verwyder eerder as om ook die standbeeld van Ba­phomet op te rig. Dus het die staat verkies om neutraal te staan toe hy ’n geleentheid gehad het om sy geloof te bely. ’n Land moet wel nie God se seën verwag indien jy Hom verloën ter wille van vrede nie.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui