Wil Jesus regtig doringdraad om ’n gay kind se hart span?

In die brief hieronder demonstreer “Diep dankbare pa” wat waarskynlik in baie gevalle gebeur. Ouers kies hulle kinders bo God. Hoor wat sê die pa:

“ek sal dit nooit aanvaar dat Jesus geluk net vir heteroseksuele kinders reserveer nie”

In Matteus 10.34-39 sê Jesus egter: (37)“Hy wat sy vader of moeder liewer het as vir My, is nie werd om aan My te behoort nie; hy wat sy seun of dogter liewer het as vir My, is nie werd om aan My te behoort nie. (38)Hy wat nie sy kruis opneem en My volg nie, is nie werd om aan My te behoort nie.

*******

BRIEF | Wil Jesus regtig doringdraad om ’n gay kind se hart span? | Netwerk24

Sondag, 25 September 2022

Diep dankbare pa skryf:

Die laaste paar weke het verskeie mense op Rapport se blaaie mond uitgespoel oor die Bybel se skynbaar verdoemende standpunt oor gay mense. Ek neem aan baie van dié mense is ook ouers. As Rapport my dit vergun, sal ek dié ouers graag op ’n reis saam met my wil neem.

Die dag toe twee van ons kinders ons meedeel dat hulle gay is, is ons wêreld tot stilstand geruk. Dis te verstane, want soos alle ouers het ons ons kinders “normaliteit” toegewens – wat dit ook al beteken.

Ek het vir my vrou gevra of sy besef wat die implikasies hiervan is. Dat die samelewing van ons gaan verwag dat ons hierdie kinders se vlerke sal moet knip en dat ons doringdraad rondom hulle harte sal moet rol omdat hulle nie geregtig daarop is om op iemand van dieselfde geslag verlief te raak en dit uit te leef nie.

Ek het vir haar gesê sy moet besef dat hierdie twee kinders met geknipte vlerke en doringdraad-omheinde harte soos beteuterde arendskuikens op die rand van die krans van die lewe sal moet sit en verlangend opstaar in die lug na die sogenaamde normale kinders, wat soos arende vry en onbelemmerd hoog in die lug rondsweef, ten spyte daarvan dat hulle hul deurlopend skuldig maak aan al daardie dinge waarteen Jesus in Sy bergrede uitvaar: liefdeloosheid, onkuisheid, ontrouheid, ydelheid, skynheiligheid, geldgierigheid, valsheid, ongehoorsaamheid en onverstandigheid.

Jesus het egter ook tydens Sy bergrede gesê Hy het nie gekom om die wet (byvoorbeeld Eksodus 31:12 oor die Sabbat en Levitikus 20:10 oor homoseksuele gedrag) ongeldig te maak nie. Tog het Hy dit later geregverdig dat Sy dissipels koringare op die Sabbat optel omdat hulle honger was. Nou hoekom sal Jesus dan nie ook toegewings maak wat betref die wet en die profete teenoor ’n gay paartjie wat liefdevol en toegewyd teenoor mekaar is nie?

Ek het vir my vrou gesê ek sal dit nooit aanvaar dat Jesus geluk net vir heteroseksuele kinders reserveer nie. Inteendeel, ek glo Hy wil hê dat ons alles doen sodat hierdie kinders van ons net so hoog of selfs hoër as die “normale” kinders sal kan sweef, sodat hulle hul godgegewe talente kan uitleef met dié voorwaarde dat hul andersheid die mense en die samelewing tot seën moet wees en nie tot struikelblok nie.

Met dit alles in ag genome, het ons die doringdraad opgerol en die snoeiskêr stukkend geslaan en kyk ons hoe ál ons kinders saam met al die “normale” kinders hoog bo die aarde sweef.

Maar nou en dan rol daar ’n traan oor hul wange as hulle die beteuterde arendskuikens onder op die kranse opmerk wat verlangend in die lug opstaar.

1 thought on “Wil Jesus regtig doringdraad om ’n gay kind se hart span?”

  1. hulle nie geregtig daarop is om op iemand van dieselfde geslag verlief te raak en dit uit te leef nie……. jip !! ongelukkig is dit wet , en gelukkig is daar die wat “return to the Word of God “” en insig kry en hulle vernuwe hulle leefstyle om te repent en die boosheid te los . Ouers verstaan nie , ons sal ons kinders altyd liefhe , maar God se Woord , ons geloof moet eenvoudig bly staan …….. duisende mense , duisende predikante en pastore sugarcoat , compromise en vee alles onder die mat , want hulle trap mos op mense se tone “”wat goeie geld gee virri kerk of hulle is politieke gatkruipers .

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui