MRK ondersoek klag oor Steve se uitlatings

En nou teiken André Gaum van die Menseregtekommissie vir Steve Hofmeyr nadat hy misluk het om Chris van Wyk vas te trek vir haatspraak.

André Gaum is die seun van Frits Gaum en broer van Laurie Gaum.

*******

MRK ondersoek klag oor Steve se uitlatings | Netwerk24

Werner Beukes

08 April 2022

Die Menseregtekommissie (MRK) sê hy ondersoek ’n klag teen die sanger Steve Hofmeyr oor dié se uitlatings oor die LGBTQ+-gemeenskap.

Adv. André Gaum, kommissaris van die MRK, sê die kommissie sal die klag oor Hofmeyr evalueer en dan ’n verklaring daaroor uitreik.

Dit volg ná ’n uitlating van Hofmeyr in ’n video op sosiale media dat die “+” in die akroniem LGBTQ+ daarop dui dat bestialiteit ingesluit word.

In die video, wat Hofmeyr intussen verwyder het, verwys hy na ’n berig op The New York Post waarin ’n uitvoerende bestuurslid van die Disney-maatskappy gesê het hulle wil ’n meer inklusiewe benadering met hul inhoud volg.

Dit het gevolg nadat Disney gekritiseer is omdat hy glo nie standpunt teen omstrede wetgewing in Amerika ingeneem het nie. Die maatskappy het egter intussen die “Don’t say gay”-wetgewing veroordeel en gevra dat dit herroep word.

In die video sê Hofmeyr dat Disney die wêreld waarsku dat hy sy kinderkarakters gaan verander “in elke seksuele LGBTQ+-voorkeur onder die son”.

“Waar my generasie geleer het om met muise, honde en eende te praat, gaan ons kinders geleer word hoe om met muise, honde en eende seks te hê,” sê Hofmeyr.

Hy sluit sy inskrywing af met: “Moenie ons kinders groom vir jul grille nie. Totsiens, Disney.”

Hofmeyr het later die LGBTQ+-gemeenskap in ’n video op sosiale media om verskoning gevra oor sy uitlating oor die “+” in die akroniem.

Hy beskuldig egter die LGBTQ+-gemeenskap daarvan dat hulle stilgebly het toe Disney besluit het om “kleuters te seksualiseer deur hul rolprentkarakters te seksualiseer”.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui