Gesprek tussen Jan Lubbe en Jan Louw

Die volgende gesprek het oorspronklik plaasgevind in die kommentaargedeelte onderaan Jan Lubbe se artikel Hoe lees ons dié verhale so swak?.

************

Jan Louw

2021-08-24 om 21:43

Jan Lubbe,

Ek gaan nie betrokke raak by die besprekings hier, wat almeer wegbeweeg van die saak waaroor dit eintlik gaan nie.

Ons praat hier oor jou versoek in die koerant om die aanvaarding, dat God “HAAR VLEUELS” oor ons uitsprei.

Kom ons praat reguit met mekaar: Jy weet goed van die omstredenheid in hierdie dae oor die sg vroulikheid van God. Dit het nie êrens in ‘n hoekie plaasgevind nie, maar het pertinent ter sprake gekom by ‘n diploma uitdeling van teologiese studente in Stellenbosch. Die saak het onsteltenis in die koerante en in Kerkbode uitgelok. Dit is deel van die feministiese en gender teologie wat oral in die wêreld en ook in die NG Kerk verkondig word. Jy weet dit tog goed.

Nou verwag jy van Daniel [kyk Gesprek tussen Jan Lubbe en Daniel Louw] om jou “bona fide” te aanvaar dat jy nie aan Melanie Thirion of haar kritici gedink het toe jy van God in vroulike terme gepraat het nie. Hieroor ‘n paar woorde.

Ek was deel van ‘n vergadering van die Kairos Netwerk waar ons met die moderatuurslede van die AS in gesprek gegaan het oor waarom ons ontevrede is oor sinodale uitsprake en kerklike leerstellings in die algemeen.

Nelis Janse van Rensburg het, soos jy, reg aan die begin gevra of ons mekaar se “bona fide” kan aanvaar as ons met mekaar gesprek voer.

Dit was ‘n ongemaklike situasie. Bona fide gaan oor die erkenning van mekaar se goeie trou. In hierdie geval – trou aan die Evangelie! Dit is ‘n onbillike eis, ons wil dan juis met mekaar in gesprek gaan oor ontrou aan die Evangelie.

Daniel is heeltemaal reg as hy sê dat hy dit moeilik vind om te aanvaar dat daar by jou geen bybedoelings was toe jy uit die bloute in die artikel van God in die vroulike vorm gepraat het nie.
Jy sal moet aanvaar, Jan, dat jy besig is om jou bona fide by baie kerklidmate te verloor. Dit kom al ‘n hele ent. Jy was deel van die koor wat die petisie teen Dirkie van der Spuy geteken het en standpunt teen Chris van Wyk ingeneem het.

Die vraag ontstaan wie is daar nog wat in jou koor saamsing? Diegene wat in die feministiese koor sing, is gewoonlik ook die mense wat ander afvallige leringe voorstaan, soos dat ons nie in die duiwel hoef te glo nie, of aan die opstanding of die maagdelike geboorte nie. Ek wil aanvaar dat dit die rede is waarom Daniel jou hieroor uitgevra het.

Wat myself betref wil ek jou herinner aan die voorlegging wat ek in 2017 aan die Kuratorium van Bloemfontein gemaak het. Jy het as voorsitter van die vergadering gedien. Julle het my sowat twee uur lank geleentheid gegee om met die Kuratorium te praat oor die onbybelse leerstellings wat dosente van Bloemfontein in die openbaar gemaak het. Ek is dankbaar dat julle my uitgenooi het om met julle te praat, maar my ervaring was dat die feite wat ek aan julle voorgelê het geen indruk gemaak het nie. Die Kuratorium wou vir my ‘n persoonlike gesprek met die betrokke dosente reël. Ek het besef dat dit geen doel sou dien nie, omdat ek reeds met van die dosente gepraat het en hulle het hulle nie aan my gesteur nie. Waarom sou hulle na mý luister as die kuratorium hulle steun in hulle standpunte?
Jy sal ook moet aanvaar Jan, dat jy deur jou artikel nie net jou eie bona fide geskaad het nie, maar dat jy ook die teologiese opleiding by Bloemfontein deur jou optrede onder verdenking gebring het. As die voorsitter van die toesighoudende liggaam onbybelse standpunte in die openbaar kwytraak, ontstaan die vraag oor wat aangaan by die dosente.

Bona fide is iets soos ‘n goeie naam. As jy dit eers verloor het kry jy die nie maklik terug nie. Dit geld van ‘n indiwidu, ‘n teologiese fakulteit en helaas ook van ‘n kerk.

Jan Lubbe

2021-08-27 om 08:25

Oom Jan, ons “trou aan die Evangelie” moet tog méér wees as die uithaal van één voornaamwoord in die laaste van vier vrae aan die einde van ‘n rubriek oor soveel vroueverhale in die Bybel? Hoeveel keer moet ek nog sê dat ek dieselfde Apostolicum as Oom bely – soos ook “die dosente” wat somaar in die algemeen verdag gemaak en veroordeel word?

Jan Louw

2021-08-27 om 17:32

Jammer om te sê Jan:

Om die Apostolicum te bely in die NG Kerk het niksseggend geword. Julian Müller het dit ook gesê. Hy het hom verontskuldig dat hy dan op Sondae die Apostolicum saam met die gemeente bely, maar ons weet hy het sy eie betekenis aan die woorde van die Apostolicum geheg. Wat die opstanding betref het hy te kenne gegee dat Jesus, soort van in ons harte opstaan. Verder het hy gesê ons moet rekening hou met die gedagte dat argeoloë dalk nog eendag Jesus se liggaam kan opgrawe.

So is daar ook leraars wat hulle eie betekenis heg aan bv die maagdelike geboorte en die ewige oordeel. Alles dinge wat ons in die Apostolicum bely.

Wat die dosente betref het Dubois du Toit vir ons die afgelope week ‘n prentjie gegee van wat by die teologiese fakulteite aangaan.

Dit is nie die volledige prentjie nie. Verskeie jong leraars wat op Bloemfontein gestudeer het, het soortgelyke verhale vir my persoonlik en ander leraars vertel aangaande hulle studie by Bloemfontein. Hulle sê hulle moes na die dosente se pype dans om deur te kom al het hulle nie saamgestem met die leer wat die dosente aan hulle verkondig het nie. Hulle het baie negatiewe ervarings van hulle studie op Bloemfontein oorgehou.

Ander studente op UP het vertel dat hulle niemand in die kerk kon vertrou om hulle by te staan nie. Sulke verhale werp ‘n ernstige refleksie op die kuratoria wat veronderstel is om te weet wat in die harte van die studente aangaan en om die waarheid van die Evangelie eerste te stel.

Jan, jy maak beswaar omdat daar ontevredenheid is oor “één voornaamwoord in die laaste van vier vrae aan die einde van ‘n rubriek”. Dit is ongelukkig so dat daardie één voornaamwoord ‘n teologie verteenwoordig wat ons verwerp. Moet ons nie verkwalik as ons die afleiding maak dat jy jou skaar by daardie teologie waarteen dolerende gemeentes in hierdie dae beswaar maak nie.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui