NG dominees ‘moeg vir skadelike gay-debat’

Die debat waarna hier verwys word is begin toe die moderator van die NG Kerk, Nelis Janse van Rensburg, erken het dat hy progay is (kyk Nelis Janse van Rensburg erken hy is progay). In reaksie daarop het Chris van Wyk die brief My gewete is gebind deur die Bybel en ons belydenisskrifte geskryf wat verdere bekgevegte veroorsaak het.

**************

NG dominees ‘moeg vir skadelike gay-debat’

Deur: Jana Marx

2 Oktober 2018

Wat tans in die kerklike kring aangaan, is vir hom as predikant van die NG kerk Randburg ’n verleentheid en dis ’n verdere verleentheid om die kerk se ewige stryd oor verskillende dinge teenoor sy lidmate te verdedig.

So sê ds. Servaas de Kock na aanleiding van die bekgevegte wat oor die gay-hofsaak teen die kerk op sosiale media uitgebreek het.

“Dit plaas ’n gemeente waarin ’n atmosfeer van liefde heers, in ’n baie moeilike posisie. Die skade wat dit aan ’n gemeente doen wat ’n Christusgesindheid wil uitleef, kan nie meer geïgnoreer word nie.”

Verskeie predikante het nie net hul misnoeë oor die gay-geveg op sosiale media uitgespreek nie, maar ook benadruk die Algemene Sinode (AS) se “vae reaksie” daarop laat hulle warm onder die kraag.

Verklarings van dié aard is skaars in die kerk en funksioneer daarom as ’n soort uitroepteken in die kerk.

Ds. Nelis Janse van Rensburg (NGK-moderator) en dr. Gustav Claassen (algemene sekretaris) het Saterdag ’n verklaring uitgereik waarin hulle sê die gesprek val buite die grense “van die waardes van die Seisoen van Menswaardigheid, naamlik respek, luister, omarming en liefde”.

Die Seisoen van Menswaardigheid is ’n gesamentlike inisiatief van die NGK-familie om hom opnuut tot menswaardigheid en respek te verbind. Dit is in 2012 gekonseptualiseer.

“Kwetsende aanmerkings en opmerkings oor kwessies wat nie met die wesenlike inhoud van die gesprek verband hou nie, dra nie by tot die kwaliteit van die gesprek nie, maar lei tot verwonding en hartseer,” lui die verklaring.

Volgens De Kock voel hy en sy gemeente “al hoe meer afgeskei van die beeld van die kerk in die koerant”.

“Ons is moeg vir hierdie soort bekgevegte op sosiale media. Dit doen mense én die NGK groot skade,” sê ds. Jan Lubbe, predikant van die NGK Berg en Dal in Bloemfontein.

“Dis jammer dat die kerk in 2015 en 2016 sulke teenoorstaande standpunte ingeneem het. In die proses het die kerk uiteindelik in die hof beland en dit vervreem lidmate net nog verder. Die AS moes liewer die deure toegetrek en die saak uitgepraat het. As daar dan twee of drie Skrifbeskouings en opvattings oor ons belydenisgrondslag leef en ons ’n kerk wil wees wat ruimte skep vir diversiteit – erken dit en leef daarmee saam. Dr. Van Wyk (dr. Chris van Wyk, predikant van NGK Somerstrand in Port Elizabeth) het te ver gegaan (met sy stelling oor homoseksualiteit en pedofilie) en behoort tot orde geroep te word,” meen Lubbe.

Dr. Jurie Schoeman van die NGK Aan die Berg (voorheen Aasvoëlkop) in Northcliff sê: “Dat ons van mekaar gaan verskil, is ’n gegewe in ons gebroke wêreld, maar die manier hoe ons dit doen, is bepalend vir ons toekoms. Om getrou aan ons roeping as ‘diensknegte’ te bly, moet ons verby ons eie ego’s dink – anders het die kerk heeltemal koers verloor.”

Schoeman meen die probleem is dat daar “nie meer genoeg na God geluister word nie” en “ons op loop gaan met ou, uitgediende gedagtes”.

Akademici het ’n petisie begin, “(omdat) ons ’n punt in hierdie gesprek bereik (het) waar ons onsself ondubbelsinnig moet posisioneer deur te verklaar dat ons onsself kollektief distansieer van hierdie soort uitsprake van enkele kerkleiers in die media”.

Ondertekenaars sluit in prof. Fanie Snyman, huidige dekaan van die teologiese fakulteit aan die Universiteit van die Vrystaat, en prof. Jaap Durand, voormalige professor in teologie en ook viserektor aan die Universiteit van die Wes-Kaap.

“Die huidige kerklike debat in die NG Kerk het ’n ongekende laagtepunt bereik. Kerklike debatte kan en mag maar heftig wees (en so was dit ook in die verlede), maar daar is ’n grens wat nie oorgesteek mag word nie. Die styl van die debat is meer as ’n verleentheid vir die kerk, dit strek die kerk gewoon tot skande,” sê Snyman.

Volgens hom is die kerk se roeping om geloofwaardig oor God te praat en te doen.

“Geloofwaardig beteken ook om ‘waardig die geloof’ wat ons bely uit te leef. Dit gebeur tans nie. Die styl van ons optrede maak die geloof ongeloofwaardig waarin mense hulle al verder van die kerk distansieer.”

Die feit dat daar binne die bestek van ’n paar dae sterk bewoorde verklarings van NGK-teoloë en -predikante uitgereik is, is ’n aanduiding van die erns van die saak, sê Snyman.

Dis jammer dat die kerk in 2015 en 2016 sulke teenoorstaande standpunte ingeneem het. In die proses het die kerk uiteindelik in die hof beland en dit vervreem lidmate net nog verder.

“Verklarings van dié aard is skaars in die kerk en funksioneer daarom as ’n soort uitroepteken in die kerk.”

Die herrie kom nadat Janse van Rensburg twee weke gelede in die Kerkbode erken het sy persoonlike oortuiging oor selfdegeslagverhoudings strook nie met dié van die NGK nie.

Die kerk is midde-in ’n hofstryd hieroor. Die saak, wat op 22 Augustus in die hooggeregshof in Pretoria aangehoor is, gaan oor die omkeer van ’n sinodebesluit van 2015 dat gemeentes self kon besluit of hulle gay-verhoudings erken, gay paartjies in die huwelik wou bevestig en gay predikante wou aanstel. Uitspraak word voorbehou.

Janse van Rensburg het onder meer geskryf: “Ek is oortuig daarvan dat seksuele oriëntasie ’n goeie gawe uit God se hand is wat ons met dankbaarheid mag ontvang en met sorg moet koester.”

Die bekentenis het hewige reaksie ontlok, onder meer dié van Van Wyk, wat op die Kerkbode se Facebook-blad geskryf het: “Indien jy steeds oortuig is daarvan dat seksuele oriëntasie ’n gawe van God is, sal jy pedofilie – seksuele aangetrokkenheid tot kinders – ook moet aanvaar.”

Van Wyk moet nou hierdie stelling aan die Menseregtekommissie gaan verduidelik nadat ’n klag hier teen hom ingedien is. Netwerk24 het verder betroubaar verneem dat individue buite Van Wyk se ring hom by sy ring (die ring van Port Elizabeth) wil aankla. Van Wyk was by navraag nie hiervan bewus nie.

Claassen het by navraag erken die AS het “hewige reaksie van gemeentes en individue ontvang”, wat op die volgende Moderamenvergadering op 5 November bespreek sal word. “Die saak is hoog op die agenda,” sê Claassen.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui