Hoe lees ons dié verhale so swak?

Jan Lubbe, voorsitter van die kuratorium van die Universiteit Vrystaat, het die volgende artikel geskryf, in ere van die vrou kort na vrouedag op 9 Augustus. So lyk dit. In die laaste twee paragrawe deel hy egter twee klappe uit:

Die een klap is na die Gereformeerde kerk wat nie die vrou in die amp wil toelaat nie.

Die ander klap is na die kritici van Melanie Thirion wat vroeër hierdie jaar tydens ’n legitimasiediens na God in die vroulike vorm verwys het. Hy doen presies dieselfde as wat sy gedoen het deur “sy vleuels” in Psalm 91:4 te vervang met “haar vleuels.

Psalm 91:4 Hy beskut jou onder sy vleuels en is vir jou ’n veilige skuilplek. Sy trou beskerm jou aan alle kante.

Dus maak hy soos Frederick Marais, voorsitter van die algemene kuratorium, en maak ruimte om ook na God in die vroulike vorm te verwys.

Kyk ook:

**********

Hoe lees ons dié verhale so swak? | Netwerk24

Deur Jan Lubbe

17 Augustus 2021 05:06

Aan die einde: ’n Bruid, met kristalhelder jaspis versier, Geesvervuld en verlig deur God se heerlikheid – die Nuwe Jerusalem, visioen van tuiskoms en troos, harmonie en vrede.

Téénoor haar: Vuurrooi en verleidelik, Groot Babilon – Rome – magsdronk en korrup, afgryslik in haar vertrapping van die regverdiges. Hulle het name gehad, hulle wat deur eeue die gebooie van God nagekom en die getuienis van Jesus geglo het; wat saam met die Vrou in die woestyn versorg is, weg van die Draak se geweld. Name soos “uitverkore vrou en haar kinders”, wat aangemoedig is om in liefde en waarheid te volhard. En Euodia en Sintige, medestryders vir die evangelie. Name van moeders wat glo, soos Loïs en Eunice, Lydia, Tabita. Naamlose weduwees in gemeentes wat lydendes versorg. Priscilla, pastoor in die gemeente Korinte. Maria van Rome, wat so hard gewerk het. Maria van Emmaus, een van twee dissipels op pad die Sondagmiddag, wat later besef die Vreemdeling se heilsame woorde het hul harte verwarm. Maria van Magdala – haar Aramese naam “Miriam” (opstandige) – eerste getuie Sondagoggend van ’n oop, leë graf.

Sy was Vrydagmiddag deel van die groepie vroue uit Galilea, verbysterd by die kruis. Mevrou Pilatus: Met haar droom oor die waarheid van dié “onskuldige man”, wou sy haar man waarsku. Die ander vrou agter die troon: Herodias, die slinkse. Maar ook magteloses, soos Maria in Betanië, haar fles nardusolie ’n protes en teken van komende onheil. Baie naamlose vroue uit Sidon en Kapernaum, wat hul siek kinders na Jesus gebring en genesing gevind het. Sommige sélf siek, wat ten spyte van die wegwysing deur geïrriteerde mans dit tóg nader gewaag het.

Die Samaritaanse vrou by die put buite Sigar, gemengde bloed en reputasie. Anna, die profetes wat heeldag by die tempel was om God te dien, met haar woorde die stad vol oor dié Kindjie. En, ja: Maria van Nasaret, tienermeisie, grootoog oor die engel se aankondiging, in haar verlowingstyd, swanger, stil in die stal, gebroke oor haar Seun, weke later in die eerste gemeente ’n gelowige.

Uit die ou Skrifte het hulle ’n Vrou Wysheid geken, verpersoonlik in Spr. 31. Een met onderskeidingsvermoë, moed en daadkrag. Soos die profetes Gulda, wat vreesloos gesê het “só sê die Here!” ’n Koningin soos Vasti, wat haar verset teen haar dronk man, maar ook Ester, wat haar dit laat geval – Ester, wreed in haar wraak. En die gewetenlose koningin Isébel, blind in haar woede. Uit Afrika, ’n wyse koningin, uit Skeba.

Ook die sensuele Sunamitiese meisie van Hooglied. Daar was Rispa, alleen in haar rou en stil protes teen koning Dawid. Batseba, andermansvrou en moeder van Salomo. Die mooie Migal, wat op Dawid verlief geraak het, die eerste van sy tiental vroue. Hanna, die kinderlose, se gebed verhoor. Rut, Moabitiese oumagrootjie van Dawid. Manoag se vrou aan wie die engel verskyn het, en haar wilde Filistynse skoondogters.

En Jefta se dogter, die Godgewyde. Debora, vurig, rigter in Israel. Ragab van Jerigo met haar rooi tou. Miriam, “eiesinnige” suster van Moses. Twee dapper vroedvroue in Egipte wat die Farao uitoorlê. Tamar wat opstaan teen haar misbruik. Dina wat verkrag is en verdwyn. Die volksmoeders Lea en Ragel. Sara, wat gelag het. Hagar, die Egiptiese slavin, wat beleef God sien haar óók. En ja, iewers aan die begin: Vrou, geskep na die beeld van God. In ’n tweede skeppingsverhaal genoem Eva – “Lewegewer”.

Hoe het dit gekom dat ons dié verhale so vlak lees, asof oor ’n “swakker geslag”? Hoe is hul stilgemaak, “uitgesluit van die amp”?

Hoekom word Vrouedag mak gemaak, half ’n tweede Moedersdag? En hoekom kan ons nie aanvaar dat God haar vleuels oor ons almal uitsprei nie?

8 thoughts on “Hoe lees ons dié verhale so swak?”

  1. Daniel, ek het kennisgeneem dat jy die rubriek uit Netwerk24 hier oorgeneem en ’n aantal afleidings daaruit gemaak het wat nie daar staan of bedoel word nie. Die woorde “in ere van die vrou” en “twee klappe” (uitgedeel) is nie van my. Ek het nie ’n vete met die Gereformeerde Kerk (GKSA) nie, maar het ’n vraag gestel oor die geskiedenis van ’n kwessie wat wyd in verskillende kerke beredeneer is en word, en ten regte so. Ek het nie aan Melanie Thirion of “haar kritici” gedink of “presies dieselfde” gedoen nie; ook die teks waarna jy verwys kom glad nie in die rubriek aan die orde nie – jy sou eerder kon dink aan ’n teks soos in Matteus 23:37, ’n stylfiguur of beeldspraak presies soos wat ek dit in die laaste sin van die rubriek gebruik het. Die rubriek wou juis vra dat ons die Bybel met ’n diepe erns sal lees, en die volheid daarvan – “Glo die Bybel”.

    1. Jan

      Voor ek jou artikel geplaas het en vinnig kommentaar gelewer het daarop, het ek dit oorweeg om jou te kontak om vir jou te vra presies wat jy met hierdie artikel wil sê. Ek het dit laat vaar, omdat ek nie gedink het dat jy my sou antwoord nie.

      Dankie dus dat jy my gekontak het.

      ‘n Paar opmerkings oor jou reaksie:

      Jy sê: “Ek het nie ’n vete met die Gereformeerde Kerk (GKSA) nie…”

      My opmerking kom bloot uit die feit dat die Gereformeerde Kerk weer hierdie jaar in die media bespreek is oor hulle standpunt oor die vrou in die amp.

      Jy sê: “Ek het nie aan Melanie Thirion of “haar kritici” gedink of ‘presies dieselfde’ gedoen nie”

      Ek sukkel werklik baie om hierdie te glo. Die laaste sin in jou artikel is: “En hoekom kan ons nie aanvaar dat God haar vleuels oor ons almal uitsprei nie?”

      Daarmee maak jy mos nou duidelik net soos ander ook doen, en maak jy ruimte vir die idee dat God as vroulik gesien kan word.

      As jy nie aan die Melanie-Thirion-insident gedink het nie, waaraan het jy gedink?

      Jy sê: “jy sou eerder kon dink aan ’n teks soos in Matteus 23:37”

      Hier is Matteus 23: (37)hoe dikwels wou Ek jou kinders bymekaarmaak soos ’n hen haar kuikens onder haar vlerke bymekaarmaak, maar julle wou nie!

      Hierdie teks bevat nie die woord “vleuels” nie, daarom is Psalm 91:4 ’n beter pas. Verder maak dit nie saak of jy die “sy” in Psalm 91:4 met “haar” vervang en of jy Matteus 23:37 in hierdie konteks gebruik nie. Die punt is: jy wil ruimte maak daarvoor dat God as vroulik gesien kan word. Kom ons kloof nie hare oor die detail nie.

      Jy sê: “Die woorde ‘in ere van die vrou’ en ‘twee klappe’ (uitgedeel) is nie van my.”

      Natuurlik is dit nie van jou woorde nie. Ek het dit ook nie geïmpliseer nie. Dit is my woorde.

      Ek verstaan nie hoekom jy ’n probleem het met my woorde “in ere van die vrou” nie. Is dit omdat dit hoegenaamd nie die motief van die artikel was nie? Was jou motief eerder om te sê dat vroue in die amp hoort en dat jy God as vroulik kan sien?

      Ek gebruik “klappe uitdeel” uit frustrasie, want jy is al die soveelste teoloog in ’n prominente posisie wat die Bybel interpreteer soos jy wil.

      GLO DIE BYBEL!

      1. Daniël, dankie dat jy my reaksie geplaas het, ek waardeer dit. Jou aanname dat ek jou nie sou antwoord nie, was dan verkeerd. Ek sou, en sou dit ook waardeer het, dan kon ek jou vrae vooraf antwoord en kon ons dalk probeer om misverstande, vooroordele of frustrasies na watter kant toe ook al, uit te skakel. Jy kan my bona fide aanvaar as ek sê dat ek nie ’n vete het of dit as kritiek op die GKSA bedoel het nie; soos jy weet leef daar ook ten minste twee standpunte oor “die vrou in die amp” binne die GKSA (soos steeds ook binne die NGK, dertig jaar ná dié kerk besluit het om “vroue in die regerende en lerende amp” te bevestig). Jy kan verder my bona fide aanvaar as ek sê dat ek nie aan Melanie Theron of haar kritici gedink het nie. Laat ek help: Hierdie spesifieke rubriek was gebaseer op ’n jaarlange Bybelstudie in ons gemeente oor Vroue in die Bybel (2018), en waarin ek o.a. as gids Abraham Kuyper se gelyknamige boekie van die einde van die 19e eeu gebruik het (terloops, dis ook die enigste Afrikaanse vertaling van ’n boek van Kuyper, ± 1956). In daardie Bybelstudiereeks, net soos in Maandag se rubriek, het dit telkens teruggekom by ons lees van die Bybel – die uitnodiging en uitdaging om in ’n nuwe konteks nog dieper te delf in die verhale van die Bybel, spesifiek ook oor vroue omdat dit ons help om God, onsself en ons tyd beter te leer ken. Want ja, ek “glo die Bybel”; vir my is dit die Woord van God wat skrif geword het (NGB Art. 2), onfeilbaar in die heilsboodskap wat dit aan ons wil oordra. Daarom getuig ek ook, en daarvan spreek my rubriek, dat God veel groter en gans anders is as al die beelde, metafore of stylfigure waarmee ons Hom sou kon voorstel. As ek Hom my Vader noem, so bely en bid, dan dink ek nie in die eerste instansie aan geslagtelikheid nie. God Drie-Enig is ’n geestelike Wese, so lui die NGB Artikel 1, en is dit nie vir mý om “ruimte te maak” vir ons aardse geslagtelike kategorieë wanneer daar ook in die Bybel vroulike/moederlike uitdrukkings gebruik word om God se liefdevolle sorg of genade of teenwoordigheid of trou te beskryf nie. God is vry, ook in Sy selfopenbaring. Om nou te twis oor “vlerke” of “vleuels” van die hoenderhen of arend, is soos jy sê hare kloof. Aanvaar my bona fide dat ek nie aan Psalm 91:7 gedink het nie. Maar ons sal wel moet leer om in ’n wêreld en tyd te leef waarin daar ’n verskeidenheid van geldige sieninge oor en outentieke belewenisse van God is, in plaas van om mekaar te veroordeel of te verskeur soos waarteen Paulus destyds al die gemeente gewaarsku het. Dit is nie óns liggaam nie, maar die Liggaam van Christus waarvan Hy ons deel gemaak het. God is steeds met ons op weg vorentoe en verder, ongekende ruimtes in.

        1. Jan, waar trek jy die lyn? Oor watter geloofskwessies is jy ononderhandelbaar? Is daar sulke kwessies?
          Jy maak reeds ruimte vir God as vrou en homoseksualiteit. Wat van:
          1. Seks buite die huwelik
          2. Jona wat vir drie dae in ’n vis se maag was
          3. Die uittog uit Egipte en al die gepaardgaande wonderwerke
          4. Abraham as historiese figuur
          5. Die betroubaarheid van profesieë in die Bybel
          6. Jesus se maagdelike verwekking
          7. Jesus se wonderwerke
          8. Jesus se godheid
          9. Jesus se letterlike/liggaamlike opstanding
          10. Bestaan van die duiwel en die hel
          11. Redding slegs moontlik deur Jesus Christus
          Vir watter van hierdie kwessies kan ons nie vir mekaar ruimte maak in die kerk nie?

  2. Daniël, ek gaan so kort moontlik probeer antwoord, maar wil eers drie inleidende opmerkings maak.

    Eerstens, jou openingsin herinner my aan presies die tema van Abraham Kuyper in sy afskeidsrede van die gemeente in Utrecht, 1870, met die titel “Conservatisme en Orthodoxie. Valsche en ware behoudzucht”, waarin hy dit ook het oor sulke punte van ononderhandelbares en dan daarteenoor na aanleiding van Openbaring 3:11, ’n belangrike riglyn vir ons teologiese nadenke uitwys. Lees dit gerus. Tweedens, daar was ongeveer tussen 1935 en 1965 ook só ’n lysie van “plusse” wat predikante moes verklaar/onderteken wanneer hulle ’n beroep na ’n NG-gemeente in die Vrystaat sou aanvaar; dus benewens hul legitimasieverklaring ook nog bevestig dat ja, die Bybel in al sy dele onfeilbaar is, die wonderwerke nie redelik te verklaar is nie, die Skeppingsverhaal in Genesis onfeilbare heilsgeskiedenis is, dat Moses die Pentateug geskryf het, Jona in die vis was en Dawid Psalm 110 geskryf het ens… Daar is ’n goeie rede waarom die NG Kerk Vrystaat ’n halfeeu gelede al met hierdie addisionele verklaring weggedoen het. Derdens, toe Martin Luther in 1521 by die Ryksdag van Worms gevra is of hy die boeke/pamflette wat hy geskryf het terugtrek, het hy ’n belangrike onderskeid tussen sy eie geskrifte gemaak, naamlik dat elk daarvan in ooreenstemming met die intensie en die geadresseerdes daarvan gelees moet word; dit lê nie op dieselfde vlak nie.

    Presies dit bring my by jou vrae, wat nie almal op dieselfde vlak lê nie; sommige het met die geloofsinhoud wat ons bely te doen en staan daarom sentraal; ander is vrae oor hoe ek die Bybel lees, en wat my na aan die hart lê; en nog ander raak etiese kwessies van ons dag aan. Daarom is dit nie so eenvoudig soos “ja” of “nee” of “onseker” in hierdie kort spasie en hoop ek ook nie jy beskou dié 13 as ’n toets (“checklist”) vir “regsinnigheid” nie – ek sal aan die einde daarop terugkom.

    1. Vrae 6, 8 en 9 antwoord ek gewoon met dit wat in die Apostoliese Geloofsbelydenis verwoord is en soos uitgelê in die Heidelbergse Kategismus Sondae 11, 12, 13, 14 en 17. Ja, ek glo dit.

    2. Vraag 1o oor die duiwel en die hel: Oor eersgenoemde bely of sê ons niks in die Apostolicum nie, maar volstaan ek by wat die Heidelbergse Kategismus oor die gebed “verlos ons van die bose” verduidelik (Sondag 52). Terloops, véél meer werklik vir my as ‘n/die duiwel – teenstander van God – daarbuite, is my worstelstryd met my “eie natuur” hierbinne (HK Antw. 127); laat ons maar daarby begin. En oor die hel? Vir my sê die verklaring van die Heidelberger, Sondag 44, ook al genoeg – daar is werklik iets soos “hel op aarde”.

    3. Jou vrae 2, 3, 4 en 5 handel oor hoe ons die Bybel, veral die Ou Testament, lees. Dis maklik om op al drie vrae “ja” te antwoord, maar is dit dan daarmee afgehandel? Byvoorbeeld, oor Jona is daar in die Nederlands-gereformeerde eksegetiese tradisie waarin ek opgelei is, nogals verskillende verklarings, en kan ek my vereenselwig met die slotsom waartoe AS van der Woude (1985) gekom het: “… een vertelling die als voorloper kan gelden van de haggadische midrasch-literatuur met haar didactisch-homiletische doelstelling”; ’n vertolking soortgelyk aan waartoe FE Deist ook gekom het. Die boodskap van daardie vertelling lê veel eerder in die slotverse waarmee Jona 4 eindig: Die vraag na of ons ’n genadige God dien? Só sou ek ook oor Abraham, die Uittog en gebeure by Sinaï of verder deur die woestyn antwoord: As gelowige leser van die Bybel probeer ek in daardie verhale luister na die heilsboodskap wat dit wou verkondig, sonder om noodwendig met historiese presiesie te kan sê òf bewys hoe dit nou als gebeur het of hoe nie.

    4. Oor jou vraag 5 – die profesieë – wil ek tog iets verder sê. Die verskynsel van profesie in die Ou Testament was veel breër as wat ons dikwels geneig is om daarvan te maak; dat hul soort van toekomsvoorspellers was. Profete was in die eerste instansie gestuurdes van God wat vir die mense van hul generasie en hul kinders in die kontekste van hul tyd, die Woord van God moes bring; dat hul die lig van Gods weg op die gebeure van hul tyd moes laat val en altyd met die oproep om na God toe terug te keer. Hul woorde was deurdrenk van byvoorbeeld die Tien Woorde van God. Dit is presies ook wat Jesus in die Bergrede gedoen het. As jy my probeer uitvra oor of die profete die koms van ’n Messias verwag het, ja. Dit was egter eers die dissipels – ná die opstanding – en latere evangeliste wat Jesus in daardie ou profetiese verwagtinge terugherken het, sy lewe en woorde só vertolk het. Soos wat die Sondagmiddag op die pad na Emmaus gebeur het.

    5. Wat my by jou vraag 1 bring, ’n etiese kwessie. Weereens vind ek my binne die vertolking van die Heidelbergse Kategismus Sondag 41 oor die 7e Woord, in die afwysing van “onkuisheid” of losbandigheid. Maar ons etiek gaan verder. Ek het hierbo na Jesus se Bergrede (Matteus 5-7) verwys waarin hy ook verskeie etiese vrae van sy tyd hanteer het, en telkens teruggevra het na die radikale, oorspronklike bedoeling van God soos byvoorbeeld uitgedruk in die Mosaïse/Levitikus-wetgewing. Jesus se woorde en optrede in verbandhoudende situasies later (in die evangelies) spesifiek oor die huwelik, oor egskeiding, oor owerspel, ens, het ook hiervan gespreek. Nie ’n kasuïstiek van wat reg of verkeerd is nie, maar ’n oproep om in elke situasie te bly vra na God se wil vir hierdie verbintenis tussen twee mense – naamlik, liefdestrou, dít is die norm (vgl. die belofte in die huweliksformulier).

    6. Is Hy ons Verlosser? (jou vraag 11). Ja. Jesus het as profeet, priester en koning vir ons die weg na God kom wys. Maar sy “eerste preek” het gegaan oor die koninkryk van God wat naby gekom het. Dus, nie (net) die redding en saligheid van my siel met die oog op eendag nie, maar ’n geseënde lewe hier in die teenwoordigheid en ligkring van God, gehoorsaam aan sy Lewenswoorde. Wat neerkom op ’n liefde vir God en vir my medemens, dít is die essensie. Oor die lotgevalle van die ganse mensdom – as dit is wat jy van my wou vra: wat van die ander? – antwoord ek dan soos Paulus ook daaarmee geworstel het (Romeine 9 tot 11), en met ’n doksologie eindig: “O diepte… hoe ondeurgrondelik… hoe onnaspeurbaar…” (vs. 33).

    Daarmee wil ek volstaan. Nou sou ek jou vraelys kon omdraai, Daniël: Waarom vra jy my nie wat ek oor ’n verhaal soos Josua 10 en “die stilstaande son” dink nie? Of wat my opinie oor rassisme en die 6e gebod of grondonteiening en die 8e gebod is nie? Of hoe ons vandag Artikel 4 of Artikel 36 van die Nederlandse Geloofsbelydenis vertolk? Waarom verskraal ons ons deelwees van die Liggaam van Christus en ons lewe van dankbaarheid voor die aangesig van God tot só ’n sjibbolet van dertien regmerkies/kruisies oor wat “regsinnig” of “gereformeerd” of “Bybels-gelowig” is en wat nie?

    Groete.

  3. Jan Lubbe,
    Ek gaan nie betrokke raak by die besprekings hier, wat almeer wegbeweeg van die saak waaroor dit eintlik gaan nie.
    Ons praat hier oor jou versoek in die koerant om die aanvaarding, dat God “HAAR VLEUELS” oor ons uitsprei.
    Kom ons praat reguit met mekaar: Jy weet goed van die omstredenheid in hierdie dae oor die sg vroulikheid van God. Dit het nie êrens in ’n hoekie plaasgevind nie, maar het pertinent ter sprake gekom by ’n diploma uitdeling van teologiese studente in Stellenbosch. Die saak het onsteltenis in die koerante en in Kerkbode uitgelok. Dit is deel van die feministiese en gender teologie wat oral in die wêreld en ook in die NG Kerk verkondig word. Jy weet dit tog goed.
    Nou verwag jy van Daniel om jou “bona fide” te aanvaar dat jy nie aan Melanie Thirion of haar kritici gedink het toe jy van God in vroulike terme gepraat het nie. Hieroor ’n paar woorde.
    Ek was deel van ’n vergadering van die Kairos Netwerk waar ons met die moderatuurslede van die AS in gesprek gegaan het oor waarom ons ontevrede is oor sinodale uitsprake en kerklike leerstellings in die algemeen.
    Nelis Janse van Rensburg het, soos jy, reg aan die begin gevra of ons mekaar se “bona fide” kan aanvaar as ons met mekaar gesprek voer.
    Dit was ’n ongemaklike situasie. Bona fide gaan oor die erkenning van mekaar se goeie trou. In hierdie geval – trou aan die Evangelie! Dit is ’n onbillike eis, ons wil dan juis met mekaar in gesprek gaan oor ontrou aan die Evangelie.
    Daniel is heeltemaal reg as hy sê dat hy dit moeilik vind om te aanvaar dat daar by jou geen bybedoelings was toe jy uit die bloute in die artikel van God in die vroulike vorm gepraat het nie.
    Jy sal moet aanvaar, Jan, dat jy besig is om jou bona fide by baie kerklidmate te verloor. Dit kom al ’n hele ent. Jy was deel van die koor wat die petisie teen Dirkie van der Spuy geteken het en standpunt teen Chris van Wyk ingeneem het.
    Die vraag ontstaan wie is daar nog wat in jou koor saamsing? Diegene wat in die feministiese koor sing, is gewoonlik ook die mense wat ander afvallige leringe voorstaan, soos dat ons nie in die duiwel hoef te glo nie, of aan die opstanding of die maagdelike geboorte nie. Ek wil aanvaar dat dit die rede is waarom Daniel jou hieroor uitgevra het.
    Wat myself betref wil ek jou herinner aan die voorlegging wat ek in 2017 aan die Kuratorium van Bloemfontein gemaak het. Jy het as voorsitter van die vergadering gedien. Julle het my sowat twee uur lank geleentheid gegee om met die Kuratorium te praat oor die onbybelse leerstellings wat dosente van Bloemfontein in die openbaar gemaak het. Ek is dankbaar dat julle my uitgenooi het om met julle te praat, maar my ervaring was dat die feite wat ek aan julle voorgelê het geen indruk gemaak het nie. Die Kuratorium wou vir my ’n persoonlike gesprek met die betrokke dosente reël. Ek het besef dat dit geen doel sou dien nie, omdat ek reeds met van die dosente gepraat het en hulle het hulle nie aan my gesteur nie. Waarom sou hulle na mý luister as die kuratorium hulle steun in hulle standpunte?
    Jy sal ook moet aanvaar Jan, dat jy deur jou artikel nie net jou eie bona fide geskaad het nie, maar dat jy ook die teologiese opleiding by Bloemfontein deur jou optrede onder verdenking gebring het. As die voorsitter van die toesighoudende liggaam onbybelse standpunte in die openbaar kwytraak, ontstaan die vraag oor wat aangaan by die dosente.
    Bona fide is iets soos ’n goeie naam. As jy dit eers verloor het kry jy die nie maklik terug nie. Dit geld van ’n indiwidu, ’n teologiese fakulteit en helaas ook van ’n kerk.

    1. Oom Jan, ons “trou aan die Evangelie” moet tog méér wees as die uithaal van één voornaamwoord in die laaste van vier vrae aan die einde van ’n rubriek oor soveel vroueverhale in die Bybel? Hoeveel keer moet ek nog sê dat ek dieselfde Apostolicum as Oom bely – soos ook “die dosente” wat somaar in die algemeen verdag gemaak en veroordeel word?

  4. Jammer om te sê Jan:
    Om die Apostolicum te bely in die NG Kerk het niksseggend geword. Julian Muller het dit ook gesê. Hy het hom verontskuldig dat hy dan op Sondae die Apostolicum saam met die gemeente bely, maar ons weet hy het sy eie betekenis aan die woorde van die Apostolicum geheg. Wat die opstanding betref het hy te kenne gegee dat Jesus, soort van in ons harte opstaan. Verder het hy gesê ons moet rekening hou met die gedagte dat argeoloë dalk nog eendag Jesus se liggaam kan opgrawe.
    So is daar ook leraars wat hulle eie betekenis heg aan bv die maagdelike geboorte en die ewige oordeel. Alles dinge wat ons in die Apostolicum bely.
    Wat die dosente betref het DuBois du Toit vir ons die afgelope week ’n prentjie gegee van wat by die teologiese fakulteite aangaan.
    Dit is nie die volledige prentjie nie. Verskeie jong leraars wat op Bloemfontein gestudeer het, het soortgelyke verhale vir my persoonlik en ander leraars vertel aangaande hulle studie by Bloemfontein. Hulle sê hulle moes na die dosente se pype dans om deur te kom al het hulle nie saamgestem met die leer wat die dosente aan hulle verkondig het nie. Hulle het baie negatiewe ervarings van hulle studie op Bloemfontein oorgehou.
    Ander studente op UP het vertel dat hulle niemand in die kerk kon vertrou om hulle by te staan nie. Sulke verhale werp ’n ernstige refleksie op die kuratoria wat veronderstel is om te weet wat in die harte van die studente aangaan en om die waarheid van die Evangelie eerste te stel.
    Jan, jy maak beswaar omdat daar ontevredenheid is oor “één voornaamwoord in die laaste van vier vrae aan die einde van ’n rubriek”. Dit is ongelukkig so dat daardie één voornaamwoord ’n teologie verteenwoordig wat ons verwerp. Moet ons nie verkwalik as ons die afleiding maak dat jy jou skaar by daardie teologie waarteen dolerende gemeentes in hierdie dae beswaar maak nie.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui