Suiderhof doleer

Hier volg NG Gemeente Suiderhof se kennisgewing van dolering.

Daar is tans drie leraars by hierdie gemeente:

************

Nederduitse Gereformeerde Gemeente Suiderhof
Posbus 80012, OLYMPIA, Windhoek, NAMIBIE Tel. (+264-61) 251414
Faks. (+264-61) 253204 E-pos: kanfoor@ngksuiderhof.com
Webtuiste: https://ngksuiderhof.com

Kennisgewing van Dolering

1. Die kerkraad van NG Gemeente Suiderhof verklaar hiermee eenparig die volgende:

1.1. Dat ons geskep en geroep is met die uitsluitlike doel om gehoorsaam te wees aan God (Ef. 1:4 & 2:10).

1.2. Dit impliseer dat ons die waarheid van sy Heilige en onfeilbare Woord, en die gereformeerde verstaan daarvan, voorstaan, dit uitleef en alle leer wat met dit in stryd is teéstaan (2 Tim 3:16-17, 2 Pet. 1:20-21).

1.3. Hierdie Waarheid is die enigste weg na die Lewe (Matt. 7:14, Joh. 10:10 & 14:6).

1.4. Bybelse liefde vereis dat ons mekaar en ander aan die hand van HIERDIE waarheid vashou (Joh. 13:34 & 1:14), geen ander “waarheid” nie.

2. Die kerkraad van NG Gemeente Suiderhof betreur die teologiese en geestelike verval in die NG kerk, op die volgende gronde:

2.1. Die onskriftuurlike handeling van die Algemene Sinode (AS) deur die loop van die laaste 2 dekades, wat kulmineer in (maar nie beperk is nie tot) die 2019 besluit om, op teologiese gronde, ruimte te bied vir selfdegeslagverhoudings.

2.2. Die rampspoedige rigting waarheen die liberale teologie en sekulére ideologieé, wat aan ons voornemende predikante by die Teologiese Fakulteite geleer word en ook in VBO opleiding aan gemeente predikante oorgedra word, met die NGK op weg is.

2.3. Die skynbare futiliteit van leer-tug aanklagte, sowel die ooglopende versuim/onvermoë van die AS en NGK leierskap om die volgende aspekte van ons lering en publieke getuienis in lyn te bring met die NG Kerk se belydenis grondslag:

2.3.1. Onskriftuurlike praktyk, uitlatings en lering van predikante en kerkleierskap,

2.3.2. NGK akademici se onskriftuurlike uitsprake en skrywes

2.3.3. Liberaal-teologiese opleiding van nuwe predikante en

2.3.4. Die aandadigheid van die algemene en onderskeie kuratoria aan laasgenoemde 2 punte

3. Ons betreuring het ten doel om die verslaentheid en verootmoediging voor God — wat by onsself begin — te sien uitkring na ander gemeentes, ten einde die terugkeer van die NGK, in haar geheel, na die suiwer verkondiging van God se Woord en onderwerping aan sy Heerskappy in elke faset van ons kerkverband.

Geteken:
Gunter Leicher
Voorsitter van die Kerkraad
30 Augustus 2024

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui