Die NG Kerk en gendergeregtigheid

Die NG Kerk en gendergeregtigheid

Deur Henrietta Klaasing

1 Mei 2021

Waarheen is die NG Kerk op pad met sogenaamde “gendergeregtigheid”? Die rol wat bepaalde vroulike ampsdraers, dosente en predikante van die NG kerk kerk speel, moet nie misgekyk word nie. Die rol wat die Weskaapse sinode en die Teologiese fakulteit van die Universiteit van Stellenbosch in hierdie bepaalde onderwerp speel, moet ook nie misgekyk word nie.

In April 2018 het die Algemene Sinodale Moderamen (ASM) ’n taakspan saamgestel om ’n genderbeleid vir die NG Kerk op te stel[1] nadat verteenwoordigers verskeie vergaderings van die Wêreldgemeenskap van Gereformeerde Kerke oor ‘n aantal jare bygewoon het waar die rol en posisie van vroue bespreek is. Onder andere het dr Elize Morkel en Melanie Thirion van die Wes-Kaapse Sinode in 2017 voor die algemene vergadering van die Wêreldgemeenskap in Duitsland ’n voorafvergadering van vroue bygewoon. Van die kwessies wat aan die taakspan voorgelê was, was onder meer die kwessies wat spesifiek vir die NG Kerk ter sprake is in hierdie verband. Dit was onder meer die volgende: die verteenwoordiging in die leier­skap van die kerk; taalgebruik tydens eredienste en tydens vergaderings wat vroue uitsluit en preke wat patriargale idees ondersteun. Daar is gemeen dat aandag ook gegee moet word aan diskriminerende praktyke en geweld teen vroue. Die Taakspan het dit dan ook gedoen en het in die proses deurlopend terugvoer gegee aan die ASM.

Ongeveer dieselfde tyd (April 2018) het Kerkbode ’n berig geplaas[2] oor Dr Nina Müller van Velden wat haar doktorsgraad aan die universiteit Stellenboch behaal het. Die titel van haar ­proefskrif is: “When the lines are blurred: A gender-critical reading of the narratives of John 12:1-8 and John 13:1-17.” Volgens die Kerkbode-berig is Dr Müller van Velden opgewonde oor dié lewegewende rol van insluiting en verandering wat die NG Kerk rakende gender-geregtigheid in Suid-Afrika kan speel – in ’n stukkende land waar die misbruik van genderverhoudinge en gendermag aan die orde van die dag is. Sy wil graag hê dat haar navorsing tot huidige gesprekke van gender, seksualiteit en die Bybel in die kerk moet bydra (Dr Müller van Velden is ook beoordeelaar van die Andrew Murrayprys).

Op 8 Oktober 2019 neem die Algemene Sinode die volgende amptelike besluit oor Gendergeregtigheid[3]:

6.2.3.1 Die Algemene Sinode moedig kerkvergaderinge – in lyn met vorige besluite – aan om doelgerig moeite te doen met verteenwoordiging, beginnende reeds by kerkrade.

6.2.3.2 Die Algemene Sinode versoek gemeentes weereens – in lyn met vorige besluite – om vroue as kerkraadslede af te vaardig na sinodesittings.

6.2.3.3 Die Algemene Sinode gee opdrag aan die ASM om ’n Taakspan Gendergeregtigheid saam te stel, om verder aandag te gee aan sake van gendergeregtigheid, soos aanstellings- en arbeidspraktyke, taalgebruik, patriargale teologie, seksuele teistering en verteenwoordiging.

6.2.3.4 Die Algemene Sinode gee aan ATLAS en die ter stigte Gendergeregtigheidstaakspan opdrag om ’n hermeneutiese raamwerk te ontwikkel om patriargale tekste in ’n genderneutrale wêreld op ’n geldige en verantwoordelike wyse te lees.

6.2.3.5 Die Algemene Sinode besluit om met die Hervormde Kerk saam te werk in hierdie verband.

Kort na die Algemene Sinode van 2019, verskyn daar ‘n verklaring[4] wat onderteken is deur vroueteoloë en –predikante van verskeie denominasies (ook van die NG kerk) waarin gemeld word dat “patriargie ten diepste die siekte van die siel” is. Daarin word ook ‘n beroep op geloofsgemeenskappe se leierskap om “daadwerklike aandag te gee aan hoe maniere waarop die Bybel gelees en toegepas word, geweld teen vroue en kinders in stand hou,”

Wat betref die rol van die Weskaapse sinode en die Teologiese fakulteit van die Universiteit van Stellenbosch: In 2018 is aagekondig dat die Sinode van Wes-Kaapland vier M.Th. Gender-studies binne bepaalde navorsingstemas rakende gendergeregtigheid borg.[5] Een van die temas is “Alternatiewe tot patriargale teologie in kerklike en sosiale kontekste”. Beurshouers se klasgelde sal ten volle betaal word. Daar is ook ‘n ekstra bedrag beskikbaar vir die navorsingskomponent wat binne die omvang van die tesis plaasvind. Kontakpersone rakende hierdie studies is onder meer prof. Julie Claassens en dr Nina Müller van Velden, wat albei verbonde is aan die teologiese fakulteit van die Universiteit van Stellenbosch.

Dit is duidelik dat patriargale teologie en bepaalde maniere waarop die Bybel gelees word, hier in die spervuur is. Dit moet ook gesien word in die lig van ‘n bom wat onlangs gebars het nadat ds. Melanie Thirion (sien die verwysing na haar besoek aan Duitsland vroeër in hierdie artikel), leraar van die NG kerk Kenridge in Kaapstad, onlangs op ’n legitimasiegeleentheid van NG Kerkstudente in Stellenbosch na God as “Haar” verwys het. “Dat God drie-enig Háár verbond bevestig, of sy (verbond), hoe jy dit ook al sien,” het Thirion in haar preek gesê.[6] Die gedrukte media het daaroor berig en die sosiale media het gegons daaroor. Volgens ‘n berig in Netwerk24[7] het Dr Frederick Marais gesê Thirion het in haar verwysing die gehoor uitgenooi om oor die manlikheid of vroulikheid van God na te dink en self ’n keuse te maak: “Dit is natuurlik die werk van predikers om mense uit te daag om voortdurend te vra of hul denke oor God nie verruim behoort te word nie en vandaar die vraag in haar preek”. Daarna het ds. Peet Bester (voorsitter) en dr. Frederick Marais (skriba) namens die dagbestuur van die Kuratorium, Sinode van Wes-Kaapland ook ‘n verklaring uitgereik[8] waarin verdere verduidelikings oor die aangeleentheid gegee is. In ‘n brief op Kerkbode se webblad[9] verwys ds Michelle Boonzaaier (wat verbonde is aan die teologiese fakulteit van die Universiteit van Stellenbosch) na dit wat ds Thirion gesê het en spreek haar waardering uit vir die voorbeeld wat ds Thirion vir haar as vrou stel.

Dit wil lyk asof daar opgetree word in lyn met die “modedenke” van die tyd, waar feminisme wêreldwyd oordadige aandag geniet. Liewer dood as uit die mode, lui ‘n Afrikaanse spreekwoord. In die lig van alles wat hierbo geskryf is, kan weer gevra word, soos in die openingsparagraaf: Waarheen is die NG kerk op pad met die sogenaamde “gendergeregtigheid” – gaan dit die pad van die feminisme loop wat in ander lande geloop word? Word die volle implikasies daarvan op die kerk en die teologie volledig verreken? Mens kan uit ander se foute ook leer, eerder as om ‘n mens se kop teen ‘n klip te stamp.

Voetnotas

[1] Kyk Genderbeleid kom vir NG Kerk (24 Apr 2018)

[2] Kyk Jesus bring nuwe perspektiewe op gender (9 Apr 2018)

[3] Kyk Besluit: Gendergeregtigheid (8 Okt 2019). Kyk ook die volledige verslag van die Moderamen.

[4] Kyk “Patriargie is siekte van die siel” – teoloë pak oorsake van geweld teen vroue (8 Sep 2019) – Verklaring geteken deur heelwat vroulike teoloë, ook ondersteun deur Arno Meiring en Walter Sutton.

[5] Kyk Gesoek: MTh navorsers oor gendergeregtigheid (sluitingsdatum – 30 September 2018).

[6] Kyk op Youtube (54m47s) (29 Maart 2021) en Voorsitter van kuratorium: God kan ook ‘n vrou wees (9 Apr 2021).

[7] Kyk Herrie oor verwysing na God as vroulik, ’n ‘prisma’ (14 Apr 2021)

[8] Kyk Kuratorium reik verklaring uit – God is ook ‘n vrou (16 April 2021)

[9] Kyk “in my mind’s eye I would picture god” (20 Apr 2021)

Verdere bronne

https://kerkbode.christians.co.za/2019/03/01/bly-deel-van-gesprek-oor-gender-debat/

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui