NG Kerk se bekgeveg kring uit

Kyk ook:

NG Kerk se bekgeveg kring uit | Netwerk24

Deur Susan Cilliers

16 Februarie 2020 20:18

“Kerklike kinderagtigheid en ’n baie ontstellende situasie.”

Dis hoe prof. Nelus Niemandt, voormalige voorsitter van die NG Kerk se algemene sinode, die Goudland-sinode se besluit beskryf om hul geldelike bydrae aan die algemene sinode te weerhou weens ’n geskil oor selfdegeslaghuwelike.

“Goudland se besluit skep ’n gevaarlike presedent dat ook individuele gemeentes wat nie met ’n sinodale besluit saamstem nie, net kan besluit om betalings te weerhou. Dit ondermyn die ooreenkoms wat die NG Kerk al in die 1960’s bereik het om saam te werk. Die regte optrede is om te probeer oortuig deur gesprekvoering.”

Die NG Kerk se algemene sinode het verlede jaar besluit gemeentes mag hul eie diskresie gebruik om te besluit of hulle selfdegeslaghuwelike sal voltrek of nie.

Ds. Johan Brink, voorsitter van die Goudland-sinode, wat uit 159 gemeentes in Noordwes en Gauteng bestaan, het Sondag gesê baie van dié gemeentes stem nie saam nie. “Ons beskou dit as ’n dwaling en voel die algemene sinode moes die beginsel neergelê het dat selfdegeslaghuwelike verkeerd is. Wanneer die algemene sinodale vergadering in Maart plaasvind, hoop ons om die geskilpunt hieroor weer met hulle te bespreek.”

Volgens Brink het Goudland se sinodale bestuurskommissie verlede Maandag tydens ’n vergadering besluit om die sinode se geldelike bydrae aan die algemene sinode tydelik te weerhou, totdat die geskilpunt uitgeklaar is. “Briewe daaroor is Woensdag aan al die kerkrade uitgestuur. Ons gaan die geld wat teruggehou word vir niks anders gebruik nie en dit kan steeds in ’n later stadium aan die algemene sinode oorbetaal word.”

Die kwessie van ’n individuele gemeente

Brink sê dit was nie nodig om elke individuele gemeente in dié besluit te ken nie omdat die bestuurskommissie uit verteenwoordigers van elke ring en bediening in die streek bestaan. “Indien die besluit om geld te weerhou permanent oorweeg sou word, sal ons dit egter tydens ’n sinodale vergadering moet bespreek.”

Volgens Brink is die doel met die weerhouding van die betaling in “samehorigheid met baie gemeentes wat weier om verder te betaal. Ons wil die eenheid van Goudland beskerm.”

Individuele gemeentes van die NG Kerk landwyd betaal gewoonlik hul geldelike bydraes aan hul streeksinodes oor, waarna die streeksinodes dit aan die algemene sinode oorbetaal. Die Goudland-sinode is een van tien streeksinodes van die NG Kerk in Suid-Afrika. Brink sê hulle het verlede jaar sowat R480 000 aan die algemene sinode oorbetaal.

Weerhouding van geld

Dr. Gustav Claassen, woordvoerder van die NG Kerk se algemene sinode, sê hulle was verbaas om Sondag die eerste keer deur die media te verneem van Goudland se weerhouding van die geld. “Ons het ook nooit amptelik kennis van Goudland gekry waarin hulle ’n leergeskil (dispuut) oor die kwessie van selfdegeslaghuwelike verklaar het nie.”

Claassen sê die algemene sinode het in November 2019 wel ’n “goeie gesprek” met Goudland gehad oor hul standpunt oor die kwessie.

“Ons is positief uit mekaar. Ons wil nie nou kommentaar oor die nuwe wendinge lewer voordat ons nie al die feite het nie. In die gereformeerde tradisie glo ons wysheid lê nie in ons nie, maar tussen ons. Probleme moet opgelos word deur verhoudings en kommunikasie. Ons wil ’n situasie vermy waar mense in kampe gejaag word.

“Die algemene sinode het hom by herhaling uitgespreek ten gunste van gesprek en uitnodigings daarvoor gerig. ’n Spesiale kommissie is tot stand gebring wat juis betrek kan word om goeie, oop gesprek te fasiliteer.”

Volgens Claassen kan hy hom ook nie nou al uitlaat oor die uitwerking wat die weerhouding van die geldelike bydrae sal hê nie omdat dit ’n onbekende terrein is.

Brink sê die algemene sinode sal binne die volgende week Goudland se amptelike kennisgewing oor die leergeskil kry.

Oor dié geskil sê Claassen die besluit om die hantering van selfdegeslaghuwelike aan individuele gemeentes se eie diskresie oor te laat, laat juis ruimte vir diegene wat daarteen gekant is om dit nie te voltrek nie. “Die NG Kerk is baie groot. Ruimte moet daarom geskep word vir elke gemeente se geskiedenis, kultuur en spiritualiteit.”

1 thought on “NG Kerk se bekgeveg kring uit”

  1. Julle besef blykbaar nie wat julle aangevang het nie, hierdie eensydige besluit van julle gaan ons almal bitterlik duur te staan kom! Elke gemeentelid moes hieroor gestem het, julle is so uit voeling met wat op grondvlak aangaan, dit is verstommend en ja almal wat ek mee praat sal nie weer een sent vir die NG Kerk gee voordat hierdie gekkigheid (dit is nou om gay mense in die kerk te verbind en die duiwel weet wat……) nie geskrap word nie, dit sal net die 11 wees wat nog in die NG kerk sal oorbly, begin dan maar weer ’n R3000000 se hofsaak !!!!!!!!!!!!!!!!!!!!

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui