Ek bid vir wysheid op buitengewone NG Sinode

Kyk ook KOMMENTAAR onderaan.

*******

Ek bid vir wysheid op buitengewone NG Sinode | Netwerk24

Prof. Sybrand Strauss (Emeritus), Parys

14 April 2023

Dinsdag word ’n buitengewone Sinode van die NG Kerk (NGK) Vrystaat gehou. Sedert die “vasgeloopte” Algemene Sinode van 2019 is die Kerk in beroering.

Oral is beswaardes of “dolerendes”. Wie fyn luister, sal agterkom die tweespalt gaan nie soseer oor selfdegeslagverhoudings nie, maar oor Skrifgesag en Skrifgebruik. En dít is vir die Kerk van wesenlike belang.

Vroeër het die NGK ’n liberale/moderne Skrifbeskouing konsekwent afgewys. Dié siening het immers in die tyd van die Verligting ontstaan toe die humanisme, met sy mondige mens en menseregte, God se soewereiniteit uitgedaag het.

As ons vandag nog wil glo, moet ons die (outydse) Bybel by ons (nuwerwetse) tydsgees en wêreld aanpas. Dit word in die filosofiese kenleer uitgewerk. Daarby pas ’n nuwe teologiese hermeneutiek wat die verstaansteorie bestudeer – modernisme, post-modernisme en dies meer.

’n Voorbeeld van die hedendaagse Skrifhantering is by Rudolf Bultmann te vind. Hy sê ons moderne mense weet (!) mos dat niemand wat drie dae dood was, weer lewend kan word nie. Derhalwe moet die Bybelse boodskap by die moderne mens aangepas word – in hiérdie geval deur te redeneer Jesus Christus leef ná sy opstanding nie meer letterlik nie, maar figuurlik.

Teenoor die soort “aanpassers” is daar ook die “behoudendes”. Hulle sê die moderne hermeneutiek hou ’n gevaar in vir die kerk. As jy dit aanhang, kan jy omtrent enigiets uit die Bybel “bewys”: seks buite die huwelik, die gelykwaardigheid van alle godsdienste ensovoorts.

Vir die behoudendes lyk die aanpassers se teologie al te veel na ’n inlees in, in plaas van die uitleg van die Bybel. Daarom verkies behoudendes om die Skrif deur die bril van die algemene Christelike geloof te lees. Hulle neem as uitgangspunt die belydenis dat die hele Skrif deur God ingegee is, dat dit absolute gesag dra en dat die leer daarvan volkome is (Nederlandse Geloofsbelydenis, art. 2-7).

Die groot vraag is nou: Wat verwag die Here van ons in ’n tyd soos die? Wat staan ons te doen terwyl Hy besig is om, ook hier en nou by ons, sy kerk te “vergader, te beskerm en te onderhou” (Kategismus. So. 21).

Tot dusver word daar basies twee antwoorde op hierdie vraag gegee. Die eerste antwoord is dat die breuk tussen die “aanpassers” en die “behoudendes” so onherstelbaar wyd geword het dat ons eenvoudig moet aanvaar dat die NGK, vroeër of later, gaan skeur.

Kerkskeuring” is egter ’n groot woord wat verwys na ’n hartseersaak. Veral in die 19de eeu het verskeie gevestigde kerke onder meer in Nederland, Skotland en Suid-Afrika geskeur. So ’n skeuring (of “afskeiding”) gaan altyd met ’n oor en weer moddergooiery gepaard.

As jy afskei bly die vraag spook: Wie is die ware kerk, en wie is die valse kerk? Moet ons die NGK in twee denominasies verdeel en aan elke lidmaat die reg gee om self te kies watter kamp hy wil ondersteun? In die kerk kan ons nie só te werk gaan nie. Die kerk is immers nie ’n demokrasie (regering deur die volk) nie, maar ’n Christokrasie (regering deur Christus).

Die Vrystaatse Sinode het ’n ander voorstel. Kom ons maak ruimte vir mekaar se verskille deur te erken dat baie van ons tradisionele strukture (ringe, sinodes, kommissies ensovoorts) mensgemaak is en nie direk in die Bybel beveel word nie. Derhalwe kan ons maar nog ’n struktuur byvoeg: “ ’n teologies-kategoriale sinode”. Dit is ’n sinode waarby gemeentes kan aansluit omdat hulle teologies daarmee saamstem, sonder dat hulle noodwendig geografies naby mekaar is. Sulke gemeentes bly dan nog wel binne die NGK, maar sê daarmee duidelik dat hulle nie met die “aanpassers” se moderne standpunte kan saamstem nie.

Ook in ander kerke is daar in die verlede ’n soortgelyke reëling getref, byvoorbeeld in Engeland is die Anglikaanse Kerk naas die Kerk van Engeland, en in Nederland die Protestantse Kerk, waarvan ’n deel gereformeerd is en ’n deel meer liberaal. Hierdie voorstel is seker nie ’n finale oplossing vir die NGK se probleme nie, maar wys tog ’n begaanbare weg aan en verdien daarom ’n billike kans.

Miskien kan die Vrystaatse voorstel ook deur ander nagevolg word.

My gebed is dat die Here die afgevaardigdes na Dinsdag se Sinode sal seën met baie wysheid om “in liefde aan die waarheid vas te hou” (Ef. 4:15).

Kommentaar

Prof Strauss se voorstel van ‘n teologies-kategoriale sinode kom op dieselfde neer as die uitoefening van artikel 37. Dit is egter hoogstens ‘n tydelike oplossing. Vir meer hieroor, kyk Artikel 37 as oplossing vir uiteenlopende teologiese sieninge.

1 thought on “Ek bid vir wysheid op buitengewone NG Sinode”

  1. Alhoewel die moontlike voorstel goed op die oor klink, is dit volgens my verstaan nie Skriftuurlik nie. Ons is dan nog steeds ‘n vasgeloopte ruim huis wat nie kan wees nie. Lig en duisternis kan nie meng nie en dit is wat die verskil vandag is. Die Skrif is of die Woord van God of woorde oor God. Kon ons wees gehoorsaam and die opdragte van God (Rom. 16:17-20) en vertrou Hom om Sy kerk te bestuur en beheer soos wat Hy wil.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui