Gerhard Griesel skryf: Teologiese opleiding: ‘NG Kerk moet ten volle beheer’

*******

Gerhard Griesel skryf: Teologiese opleiding: ‘NG Kerk moet ten volle beheer’ – Kerkbode

11 April 2023, Kerkbode

Gerhard Griesel van NG Kerk Pietermaritzburg-Noord skryf:

Ek verwys na twee artikels in die papieruitgawe van Kerkbode van 31 Maart.

In die eerste (‘Nelis Janse van Rensburg: Opleiding vir almal in die kerk’) sê Nelis Janse van Rensburg dat opleiding vir almal in die kerk meer geredelik beskikbaar is en nog verder uitgebou moet word. Dit is goeie nuus. Die beleid by opleidingsinstansies moet egter voldoen aan die vereistes van die werkgewer, die NG Kerk. Wat verwag ons as kerklidmate van die dosente by akademiese instellings wat ons predikante oplei? Afgesien van akademiese bekwaamhede, moet hulle toegewyde manne en vroue van God wees. Hulle moet self voorbeeldig, vroom en aan God gehoorsaam wees in hulle persoonlike en intieme lewe. Hulle moet regtig glo dat Jesus is Wie Hy gesê het Hy is. Hulle moet Gereformeerd in hulle teologiese denke wees. Hulle moet glo dat Jesus die enigste weg tot God is, en dus brandend begeer dat hulle studente geroepe sal uitgaan om dissipels vir Jesus te werf. Hierdie eienskappe moet ’n voorvereiste wees vir dosente se aanstelling, nie net ’n toevallige eienskap waaroor hulle beskik nie. Om werklik hieroor toesig te hou, moet die NG Kerk volle beheer oor die opleiding hê, selfs hulle salarisse betaal.

Ek is dus baie bekommerd as ek lees: “Die ekumeniese aard van die teologiese fakulteite verryk en verruim die leerervaring van studente.” Beteken dit dat die studentekorps, maar veral die dosente, deel vorm van ’n potpourri van allerlei godsdienste? Word voornemende predikante in so ’n omgewing opgelei?

Ek verwys ook na die naasliggende artikel (Christo Lombaard skryf: ’n Denkelose geloof nóg Bybels nóg Christelik) deur Christo Lombaard. Ja, predikante moet akademies opgelei wees, maar ons as kerklidmate wil seker wees dat ons predikante deur dosente soos hierbo beskryf opgelei word. Is die universiteite in Suid-Afrika hoegenaamd die regte plek om NG predikante op te lei? Net soos “’n Denkelose geloof nóg Bybels nóg Christelik,” is, is dit ook die geval met ’n gelooflose denke. Ek bou uit op sy voorbeeld van ’n chirurg. ’n Mens verwag dat ’n chirurg opgelei moet wees. Maar sê nou maar ek sou ontdek dat my chirurg ’n spreker is by ’n seminaar getiteld ‘Queering the operation theatre,’ of dat hy nie glo dat ’n mens ’n brein het nie? Ek sal myself ontslaan so vinnig as wat my siektetoestand dit toelaat.

Die NG Kerk kan nie toelaat dat haar predikante deur sekulêre dosente by sekulêre inrigtings opgelei word nie. Die kuratoriums moet onverwyld ons teologiese opleiding in ooreenstemming met God se opdragte bring, want dit is waar ons toekomstige predikante nie net akademies nie, maar ook geestelik gevorm word.

1 thought on “Gerhard Griesel skryf: Teologiese opleiding: ‘NG Kerk moet ten volle beheer’”

  1. Gerhard Griesel wat as NG lidmaat skryf – met die verwagting van gewone lidmate, is in die kol met sy brief aan Kerkbode. Die NG kerk het inderdaad weer behoefte aan dosente en leraars wat toegewyd aan Christus lewe en behoudend Gereformeerd is in hulle verstaan van die Skrif. Vraag is verder dan ook uit wie die personeel van ons onderskeie kuratoriums bestaan en veral ook wie diegene is wat by staatsuniversiteite aangestel word om toe te sien dat kerkeie opleiding geskied? Is hulle nie miskien manne/vroue wat die liberale besluite van ons liberale Algemene Sinode ondersteun nie? Of is hulle ortodoks gereformeerdes, soos wat dit hoort – maw manne/vroue wat die Bybel as onfeilbare Woord van God laat geld en manne/vroue wat die Belydenisskrifte as normatief vir ons verstaan van die Bybel beskou. Laasgenoemde twee standpunte is immers wat die NG Kerk in sy eie Kerkordeboek oor die Bybel en ons Belydenisskrifte bely.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui