Dís die doel van die prys

Die volgende brief is in dieselfde koerant geplaas as Hoffie Hofmeyr se brief, Ontuis in jou eie kerk (21 Mei 2022).

Kyk ook KOMMENTAAR aan die onderkant.

*******

Dís die doel van die prys | Netwerk24

Frits Gaum

21 Mei 2022

Die aankondiging oor vanjaar se wenners van die Andrew Murray-prysfonds se pryse en toekennings, het roeringe veroorsaak. In Die Burger het twee briewe verskyn wat beantwoord moet word: dié van prof. Johannes Froneman en dr. Henriëtta Klaasing (25.04).

Klaasing het reg: Die Andrew Murray-prysfonds is in 1978 gestig met die 150ste herdenking van die geboortedag van Andrew Murray, jr. Daarmee is erkenning gegee aan die groot werk wat Murray in sy leeftyd op verskillende terreine gedoen het, maar veral aan sy bydrae tot die Christelike teologie met nagenoeg 200 publikasies. Sommige van sy boeke beleef nog altyd herdrukke en word internasionaal gelees. Murray was een van die belangrikste teoloë wat die NG Kerk opgelewer het.

Maar sy teologie het nie die laaste woord gespreek nie, en is deur die jare met reg in sommige opsigte gekritiseer – en hy het ook soms van standpunt verander. So het hy byvoorbeeld later in sy lewe anders gedink oor geloofsgenesing en mediese hulp as vroeër.

Murray, Hertzog en Nobel

Teologie is nie ’n statiese wetenskap nie. Dit groei saam met die tyd en nuwe kennis en insig in die Bybel. Terwyl daar kernwaarhede is wat nie kan verander sonder dat die bodem onder die Christelike geloof uitval nie, is daar ander sake waaroor verskil van mening kan bestaan en dit inderdaad geduld moet word. Soos oor Skrifgesag.

Dit is eenvoudig nie so dat alles in die Bybel dieselfde “gesag” dra nie. Paulus het byvoorbeeld geskryf dat “vroue in die gemeentes moet swyg, want hulle word nie toegelaat om te praat nie . . . maar as hulle iets wil leer, moet hulle hul eie mans tuis daaroor uitvra, want dit is ’n skande vir ’n vrou om in die gemeente te praat” (1 Korinthiërs 14:34,35). As dit nie ’n tyd- en kultuurgebonde stelling is waaroor ons in ander tye ánders moet dink nie, sonder om Skrifgesag oor kernsake daardeur in die gedrang te bring, sou Klaasing nie haar menings met reg so vryelik kon lug nie.

Daarmee sê ek net dat ’n prys wat na Murray genoem is en sy werk in herinnering roep, nie presies aan sy teologie en siening van die Skrif van 100 jaar gelede gebind kan word nie. Net soos genl. J.B.M. Hertzog nie noodwendig in sy skik sou gewees het met al die wenners van die Hertzogprys nie, of Alfred Nobel met dié van die Nobelpryse nie.

Wat die Andrew Murray-prysfonds wil doen, staan in sy Grondreëls: “Die prysfonds wil uitnemendheid in die Christelike media en musiek bevorder deur die bekroning van werk van hoogstaande gehalte in Afrikaans en ander tale van Suid-Afrika, en deur toekennings te maak aan verdienstelike persone en instansies.”

Afgesien van die erkenning aan die skrywers en uitgewers vir dikwels uitmuntende Christelike/teologiese publikasies (en die moed om dit te publiseer), het die “Murray-pryse” deur die jare ook op ’n beskeie wyse bygedra tot versoening en beter verhoudings in ons land. Dit het gebeur bloot deur die benaming “Andrew Murray-Desmond Tutuprys” vir een van die pryse. Dit het gebeur deur aan die moderatuur van die NG Kerk die platform te bied om ’n spesiale oorkonde van waardering aan Tutu te oorhandig. Dit het gebeur deur die pryse en toekennings aan mense wat aan verskillende kerke behoort, toe te ken: ’n Rooms-Katoliek, ’n Anglikaan (twee keer), ’n Kongregasionalis (drie keer), en aan lidmate van die drie Afrikaanse “susterkerke” en die NG Kerkfamilie.

Daar bestaan tans drie pryse: die “moederprys”, die Andrew Murrayprys vir algemene Christelike en teologiese boeke in Afrikaans; die Andrew Murray-Desmond Tutuprys vir algemene Christelike en teologiese boeke in ’n amptelike taal van Suid-Afrika behalwe Afrikaans, en die Desmond Tutu-Gerrit Brandprys vir debuutwerk in enige landstaal.

Daar is ook drie toekennings: die Andrew Murray-FAK-toekenning vir Christelike Musiek, die CLF-Elise Tempelhoff-toekenning vir Omgewingsbewaring en -geregtigheid, en die Jaap Durand-Denise Ackermann-toekenning vir Eenheid, Geregtigheid en Versoening.

Wat van Tutu?

Froneman se brief was vir my ’n bietjie uit die bloute. Hy het al as beoordelaar opgetree vir van die pryse, en nog nooit enige bedenking geopper oor Tutu se naam wat aan twee ander pryse verbind is nie. Nou protesteer hy oor Tutu se sogenaamde “universalisme” en wonder hy of die koppeling met Tutu “ ’n effe opportunistiese skuif” was en of dit destyds (2006) goed deurdink is. En, vra hy, staan Tutu se “twyfelagtige teologie” bo kritiek?

Ek verseker Froneman graag die koppeling van Murray en Tutu se name is destyds baie goed deurdink en dat dié koppeling wyd verwelkom is as ’n besonderse gebaar van versoening. Tutu self het dit bestempel as ’n teken van “Goddelike humor” dat die naam van ’n 19de eeuse NG dominee en ’n 20ste eeuse Anglikaanse biskop op dié manier verbind word.

Natuurlik staan sy teologie, soos Murray s’n (of Aurelius Augustinus s’n, of Karl Barth s’n, of Dietrich Bonhoeffer s’n, of Johan Heyns s’n) nie “bo kritiek”nie. Maar, wat my betref, en ek het vir Tutu geken en met hom onderhoude gevoer, het hy dalk teologies ruimer gedink as sommige van ons, maar het hy in die opgestane Jesus Christus geglo. En dit is, op stuk van sake, waaroor dit gaan.

Die Andrew Murray-prysfonds bestaan al meer as vier dekades, strewe daarna om, in die beoordeling van boeke en mense, so kundig en objektief moontlik te wees, en wil nie in ’n bepaalde teologiese hokkie vasgekeer word nie. Die beheerraad het verteenwoordigers van 18 uiteenlopende kerke en instansies, en word saamgebind deur ’n gemeenskaplike geloof in Jesus Christus en ’n strewe om die Christelike media tot groter hoogtes te help voer. Ek vertrou dat dit nog lank sal kan gebeur.

  • Dr. Gaum is die voorsitter van die Andrew Murray-prysfonds.

Kommentaar

Oor Andrew Murray

Die vraag is: watter groot werk het Murray in sy leeftyd gedoen? Gaan dit net oor sy 200 publikasies?

Neem in ag dat Murray vir JJ Kotzé en TF Burgers teengestaan het en probeer verhinder dat hulle weer terugkom in die NG Kerk.

  • JJ Kotzé het beweer dat mense nie tot alle boosheid geneig is nie, anders sou hulle duiwels wees.
  • TF Burgers het onder andere nie aan die persoonlike aard van die duiwel geglo nie.

Beide hierdie mense se sieninge stem ooreen met die NG Kerk se besluit oor die duiwel in 2011 en 2013 (kyk Die NG Kerk en die duiwel/bose).

Neem in ag dat Gaum op 5 April 2022 in Hou vas aan dié 9 woorde sy waardering uitgespreek het oor Johannes du Plessis wat, soos Kotzé en Burgers, ’n dwaalleraar was.

Vir Gaum om te sê dat Andrew Murray groot werk gedoen het, sou dieselfde wees om te sê dat HF Verwoerd groot werk gedoen het. Volgens Gaum was Andrew Murray se teologie verkeerd en Kotzé en Burgers s’n reg. Daarom sou dit baie meer van pas wees om Kotzé en Burgers te vereer as Murray, wat volgens Gaum, eintlik ’n verkeerde teologiese siening gehad het.

Oor Tutu

Dit is uiters vreemd dat Frits Gaum, Desmond Tutu se teologie so verdedig. Tutu se eie woorde veroordeel hom.

Tutu oor die opstanding

Daar is nie ’n manier dat Tutu in ’n opgestane Jesus geglo het nie. Tutu is op rekord waar hy die volgende gesê het:

When we speak even about the resurrection of Jesus Christ it is not the revivification of a corpse. It is speaking about a tremendous reality that Jesus Christ is risen, his life is real, he is accessible to me here in South Africa.

Kyk Desmond Tutu/Jesus se opstanding en hemelvaart.

Tutu oor redding

‘n Mens wonder of daar ’n misverstand is oor die definisie van universalisme. Dit is die geloof dat nie net Christene hemel toe kan gaan nie.

Die volgende kom uit Bestaan daar net een pad na God? (9 Mrt 2017):

“Maar wat van die hele ding van dat net die Christelike geloof reg is? Wat dan van al die ander gelowe, wat dan van Moslems? Wat van mense wat nie glo nie, maar wat hoë morele waardes het?” het Oosthuizen gevra.

Gaum het dit beantwoord deur te sê wat emeritus-aartsbiskop Desmond Tutu aan hom gesê het toe Gaum hom gevra het of Jesus die enigste pad na God is.

“Ek het ’n baie goeie antwoord by hom gekry . . . hy het gesê dis nie die enigste pad nie, maar dis ’n unieke pad na God.”

Volgens Gaum is dit die pad waarin hy glo. “Maar ek sal nooit sê dis die enigste pad nie. Ek glo wel dat God met ander mense op ander maniere te werk gaan. Om oordeel oor ander mense uit te spreek, dit betaal mos nie,” sê Gaum.

Dus is Frits Gaum self baie duidelik ’n universalis. Hy sê dan self dat Jesus nie die enigste pad is nie.

Oor die Dalai Lama, wat baie duidelik nie ’n Christen is nie, sê Tutu:

“I give great thanks to God that he has created a Dalai Lama. Do you really think, as some have argued, that God will be saying: ‘You know, that guy, the Dalai Lama, is not bad. What a pity he’s not a Christian’? … I don’t think that is the case, because, you see, God is not a Christian.”

Kyk ook Desmond Tutu/Redding.

As Gaum niks fout vind met Tutu se teologiese sieninge oor die opstanding en universalisme nie, dan sê dit baie duidelik iets van Gaum se eie teologiese sieninge.

 

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui