Andrew Murray-pryse laat talle vrae

Johannes Froneman is professor in joernalistiek aan die Noordwes-Universiteit, Potchefstroomkampus. Hy was assistentredakteur van Kerkbode van 1981-83 en het sy meestersgraad in joernalistiek verwerf met ’n verhandeling oor die beeld van die kerk in Beeld in 1982.

Hy was ook Kerkbode se korrespondent vir die NG-sinode: Wes-Transvaal.

Die volgende brief is geskryf na aanleiding van sommige van hierdie jaar se Andrew Murray pryswenners (kyk Gaum, Smit wen Andrew Murray-pryse (18 Apr 2022)).

*******

Andrew Murray-pryse laat talle vrae | Netwerk24

Johannes Froneman, Kleinmond

25 April 2022

Dit val op hoe prominent die naam Desmond Tutu figureer in die pryse en toekennings van die Andrew Murray-prysfonds wat onlangs toegeken is (19.04).

Ek vind dit vreemd, aangesien Tutu ’n bekende universalis was, dus iemand wat die Christelike geloof bloot naas ander godsdienste geag het. Vandaar ook sy groot vriendskap met die Dalai Lama, ’n Boeddhis.

Ek gun elkeen sy geloof, maar hoe versoen ’n mens dit met die teologie van ds. Andrew Murray? Pryse kan natuurlik nie net aan volgelinge van Murray­ toegeken word nie, maar waar word die streep getrek?

Was die koppeling met die gewilde Tutu ’n effe opportunistiese skuif om die toekennings ’n groter aanvaarbaarheid te gee? Is dit destyds goed deurdink? Of staan Tutu se twyfelagtige teologie bo kritiek?

Waar dr. Frits Gaum nou reeds 40 jaar die leidende figuur by die Andrew Murray-pryse is en hy al by herhaling met oortuiging geskryf het oor die kernwaarhede van die Christelike geloof, sou ek graag sy verduideliking daaroor wou hoor.

Dit is nie maar ’n terloopse saak nie; dit gaan na die hart van die gesprekke en meningsverskille wat tans in talle kerke – ook die NG Kerk – gevoer word.

Kortom, het die Jesus van Paassondag opgestaan ter versoening van almal wat sy Naam bely of was dit maar een van die opsies wat God naas ander bedink het?

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui