Ontuis in jou eie kerk

Die volgende brief is in dieselfde koerant geplaas as Frits Gaum se brief, Dís die doel van die prys.

*******

Ontuis in jou eie kerk | Netwerk24

Hoffie Hofmeyr

Saterdag, 21 Mei 2022

In 1988 het ek pas teruggevlieg van ’n buitelandse konferensie. Op dieselfde terugvlug saam met my was my groot Christen-en-Indiër-vriend prof. Gerald Pillay en sy vrou, Nirri. Sonder om op enige detail in te gaan, kan ek goed onthou hoe ontuis ek die dag in my eie land gevoel het toe ek en hulle by paspoortbeheer op die Jan Smuts-lughawe in twee afsonderlike rye moes gaan staan, die een vir blankes en die ander vir nieblankes.

Hierdie pynlike ervaring van ontuis te voel in jou eie land bly steeds diep ingegroef in my geheue. Met dankbaarheid, ten spyte van al die verval wat intussen ingetree het, het ons wel almal as Suid-Afrikaners vanaf 1994 weer iets meer tuis geword in ons almal se land.

Op 18 April vanjaar het ek ’n soortgelyke ervaring gehad toe ek van die toekennings van die Andrew Murray-prys verneem het – naamlik om ontuis in jou eie kerk, die NG Kerk, te voel. Hoewel die prys nie direk deur die NG Kerk daargestel is nie, blyk dit uit ’n oorsiggeskiedenis daarvan op sy webwerf dat dit primêr NG gemeentes, NG predikante en lede van verskillende plaaslike kultuurorganisasies in die Wes-Kaapse dorp Wellington was wat die Murray-prys in die lewe geroep het.

Terwyl die Andrew Murray-prys se trustees byvoorbeeld nooit aan twee briljante Suid-Afrikaanse teoloë, Adrio König en Jaap Durand, so ’n prys toegeken het nie, sien hulle wel hul weg oop om aan twee kandidate met vreemde teologiese beskouinge – prof. Andries van Aarde en Laurie Gaum – pryse toe te ken.

Myns insiens het die Andrew Murray-prys en sy uitvoerende raad ’n wig ingeslaan tussen verskillende groeperinge, ook in die NG Kerk. Hiermee het die Andrew Murray-prysfonds sy aansien grootliks verder verloor omdat hy soos ook elders in die NG Kerk gebeur, alles vir almal probeer wees en dus later niks vir niemand meer is nie. Lê die probleem by die benoemings, die uitvoerende raad of by die beoordelaars? Behalwe om dus al meer ontuis te voel in jou eie kerk, is daar ook ’n knop in die keel oor hoe die NG Kerk in die afgelope dekades al meer die pad byster geraak het.

Is daar ’n krisis?

Na aanleiding van dit alles vra ek myself in Christelike liefde die vraag, ter wille ook van gewone lidmate, of daar regtig ’n krisis in die NGK is.

Hoe dink die verskillende groeperinge in die NG Kerk oor die twee belangrikste hoofsake van kerkwees, naamlik oor die Bybel (skrifgebruik en skrifinterpretasie) asook sy gereformeerde Belydenis.

By die Kairos-beweging en verwante organisasies gaan dit eerstens oor ingrypende reformasie – ook in die 21ste eeu en wel terug na die Bybel as Woord van God, maar hoegenaamd nie na ’n fundamentalistiese kyk daarop soos waarvan hulle dikwels beskuldig word nie. [Kommentaar: ’n Mens wonder of Hoffie nie eerder ’n meganiese inspirasie bedoel nie, eerder as ’n fundamentalistiese benadering.]

Enkele voorbeelde kan uitgelig word oor hoe die NG Kerk en sy leierskap die pad byster geraak het met betrekking tot respek vir die Bybel. Teen 2005 het die kerk se leierskap nie veel hane laat kraai toe een van sy kerklike teoloë beweer het dat die kanonvorming van die Heilige Skrifte oftewel die Bybel eintlik maar die resultaat van die gekonkel van mense in plaas van die resultaat van talle kerklike besluitnemingsprosesse was nie. [Kyk Wie is Jurie le Roux?]

Toe was die standpunt dat die Ou Testament en die Nuwe Testament nie in verband of wisselwerking met mekaar gesien behoort te word nie, reeds algemeen aanvaarde kennis onder baie kerklike teoloë. In dieselfde tyd word gestel dat die Opstanding van Jesus Christus onder invloed van die “Nuwe Hervorming” nie meer as ’n historiese en openbaringswerklikheid hoef verstaan te word nie, maar dat ’n simboliese of metaforiese verstaan daarvan genoegsaam is. [Kyk Wie is Julian Müller?]

Dié perspektief staan lynreg teenoor alle goeie teologiese insigte en interpretasies en is daarom totaal onaanvaarbaar. In 2019 word die Skrif opnuut gemanipuleer om Skriftuurlike sanksie aan die bevestiging van selfdegeslag-huwelike te gee.

Dit word nie verniet gesê dat die 21ste eeu miskien bekend gaan staan as die eeu oor die stryd om die Bybel as ’n absolute voorwaarde vir die oorlewing van die Christelike waarheid, kerk en geloof nie.

By die Kairos-beweging en verwante organisasies gaan dit tweedens oor ’n gesonde waardering vir die belydenis van die NG Kerk – vir die ekumeniese belydenisskrifte uit die vroeë kerkgeskiedenis maar ook die reformatoriese belydenisskrifte.

Dit beteken hoegenaamd nie dat hierdie groeperinge letterknegte van die belydenisse van die NG Kerk geword het nie, maar dit is en bly deel van die familie-karakter van die gereformeerde kerke en tradisie. En intussen doen Belydenisskrifte niks anders nie as om die Bybel verder uit te lê en te verklaar nie.

Dis asof bepaalde groeperinge in die NG Kerk skaam begin word het vir hul familie-karakter van gereformeerdheid, wat ’n legitieme en wêreldwyd aanvaarde deel van die groter liggaam van Christus is. Die NG Kerk se leierskap en sommige van die kerklike teoloë het intussen gekies vir ’n afskeid van aspekte van die belydenis-karakter van die kerk.

Reeds teen 2005 het die NGK-leierskap nie veel gemaak daarvan dat sommige teoloë die fisieke en verheerlikte opstanding van Jesus Christus begin relativeer het nie. [Kommentaar: Kyk Die NG Kerk en Jesus se opstanding.] Teen 2011 is gestel dat die bestaan van die Duiwel nie as ’n persoonlike werklikheid gesien hoef te word nie en elkeen kan maar daaroor dink soos hy wil. [Kommentaar: kyk Die NG Kerk en die duiwel/bose.]

Laat dit eens en vir altyd finaal gesê word dat hierdie wel ’n groot krisis vir die NG Kerk is. En as dit nie hanteer word nie, kan die NG Kerk net sowel sy deure begin sluit of middeldeur skeur.

Drie opsies

Daar is drie moontlike oplossings.

Die eerste is dat die kerk se leierskap besef dat selfondersoek, inkeer en gesprek met die besorgdes oor die huidige rigting van die NG Kerk sal moet realiseer. Indien die Algemene Sinode se Moderamen (ASM) byvoorbeeld nie in die volgende maande duidelik aanduidings gee dat hy bereid is tot gesprek – en nie slegs op sy eie voorwaardes en terme soos in die verlede nie – is die koeël vir hereniging van en eenheid tussen die verskillende faksies waarskynlik deur die kerk.

[Kommentaar: Dit het pas gebeur. Kyk ASM reageer op Namibië se besoek (18 Mei 2022)]

So ’n gesprek sal aandag moet gee aan kwessies wat onrus veroorsaak soos teologiese opleiding en onkerk­regtelike besluite deur byvoorbeeld die Algemene Sinode van 2019.

Die tweede opsie is as daar geen gesprek meer nagestreef word nie. En binne die NG Kerk-kerkreg is dit volgens kundige kerkregtelikes beslis moontlik dat een van die streeksinodes van die NG Kerk homself op grond van Art. 37 kan losmaak van die Algemene Sinode, soos waarvoor daar reeds in 1962 voorsiening gemaak is. Of dat die streeksinode van Namibië sou besluit om sigself los te maak van die Algemene Sinode. Dit sal lei tot skeuring en die einde van die Algemene Sinode in sy huidige vorm en samestelling.

[Kommentaar: As die Namibiese Sinode by hulle ultimatum bly wat hulle tydens hulle streeksinode in Maart 2022 gestel het, dan is dit wat mens kan verwag in die nabye toekoms, siende dat die ASM drie dae gelede verklaar het dat hulle nie ’n voorneme het om die bepaalde besluite te verander nie.]

Die derde opsie is dat die besorgdes in die NG Kerk byna hul hande in die lug gooi en sê dat hulle nie teen die magsdiskoerse en die geldmag van die NGK-leierskap bestand is nie. Die ander gevoel is dat ’n mens nie lus is vir bittere en eindelose hofsake wat op die duur geweldige skade aan die kerk en die Koninkryk aanbring nie. En as hofsake ten alle koste vermy sou word, is die enigste ander opsie dat daar ’n “vriendskaplike egskeiding” (separa­tion of grace) moet plaasvind soos in die Reformed Church in America. Daarin sou byvoorbeeld al die eiendoms-, arbeids- en pensioenregtelike belange van die losmakende NG Kerk gewaarborg kan word.

Die krisis is nie ’n lugspieëling nie. Dis groot en bepalend en die tyd vir die bereddering daarvan word al minder.

Is daar in hierdie laat uur ’n duidelike uitweg voordat mense handdoek ingooi?

Intussen begin al meer van ons ontuis te voel in ons kerk.

  • Hofmeyr is ’n emeritusprofessor aan die Universiteit van Pretoria en die Evangeliese Teologiese Fakulteit, Leuven, België.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui