Gaum, Smit wen Andrew Murray-pryse

‘n Paar Andrew Murraypryse is vir die jaar toegeken en weereens is daar ’n paar toekennings wat skok:

1. Louis Jonker, Jan Botha en Ernst Conradie se boek, Die Bybel in fokus: Hoe om gelowig én denkend te lees

Alhoewel ’n mens eers die boek sal moet lees om te weet wat daar gesê word, is dit nie moeilik om te raai wat die inhoud van die boek is nie as in ag geneem word wat Louis Jonker in Oor geloof en die wetenskap (2012) geskryf het.

2. Andries van Aarde se boek, Jesus, Paul and Matthew

As ’n mens in ag neem watter teologie Andries van Aarde aanhang, kan ’n mens nie iets positiefs van hierdie boek verwag nie.

3. Laurie Gaum vir die fasilitering van werksessies oor menslike seksualiteit

Dat Laurie Gaum vereer word vir sy werk om werksessies te fasiliteer vir die nie-regeringsorganisasie Genderworks in “Gender Equity & Reconciliation” en menslike seksualiteit, spreek boekdele.

Kyk ook Van die Murray-toekennings val vreemd op waarin Henrietta Klaasing kommentaar lewer oor die toekennings.

Kyk ook artikels voorspruitend.

*******

Gaum, Smit wen Andrew Murray-pryse | Netwerk24

Outeur onbekend

18 April 2022

Die wenners van vanjaar se pryse en toekennings van die Andrew Murray-prysfonds is Maandag bekend gemaak.

Louis Jonker, Jan Botha en Ernst Conradie het die Andrew Murray-prys vir algemene Christelike boeke in Afrikaans vir hul boek Die Bybel in fokus: Hoe om gelowig én denkend te lees (2020-heruitgawe) gewen.

Die beoordelaars is dit eens dat hierdie boek, uitgegee deur Lux Verbi, mense help om die Bybel gelowig, verantwoordelik en krities te lees.

“Sommige teoloë en baie predikante en lidmate weet nie hoe om op die Bybel te fokus en dit gelowig én denkend te lees nie. Dié leemte word op ’n besonderse manier in hierdie boek hanteer. Dit lees maklik in allemanstaal en elke gelowige behoort dié boek te lees en te herlees.”

Beoordelaars: Drr. Kobus Anthonissen, Fanie Cronjé en ds. Fay van Eeden.

Andries van Aarde het die Andrew Murray-Desmond Tutu-prys vir teologiese boeke in ’n amptelike taal van Suid-Afrika vir sy twee volume-werk, Jesus, Paul and Matthew, uitgegee deur Cambridge Scholar’s Publications, gewen. Die beoordelaars beskryf dit as ’n meesterstuk wat op ’n eie vlak van teologie beweeg. Volgens hulle toon Van Aarde se twee volumes ’n diep verbintenis tot die huidige debat in die Nuwe-Testamentiese en sistematiese teologie. Dit daag sommige maniere om die Bybel te lees en te verstaan uit sodat die bedoeling en relevansie van die evangelie vir hedendaagse omstandighede duidelik word. Die werk is intens en innoverend met gegronde argumente. Volgens die beoordelaars spreek dit van ’n diepgaande kennis van die Nuwe Testament. Die laaste hoofstuk van die tweede volume is van ’n persoonlike, outobiografiese aard.

“Dit blyk daaruit dat ons in hierdie twee boeke met deurleefde teologie te make het, en dat die stigmata van die kruis ook nie vreemd in die lewe van die outeur is nie.”

Beoordelaars: Ds. Anlené Taljaard en proff. Johan Buitendag en Ransoa Letsosa.

• Roedolf Botha het die Desmond Tutu-Gerrit Brand-prys vir ’n debuutwerk vir sy boek Jesus-leierskap, uitgegee deur Lux Verbi, gewen. Die beoordelaars skryf die boek, wat Jesus se leierskap in die lig van die Markus-evangelie bespreek, bied ’n eietydse fokus op kerkleierskap, wat teologies goed gefundeer is – “dis ’n boek om weer en weer te raadpleeg. Dit wil motiveer en inspireer en kry dit uitstekend reg. Die boek lees vinnig, maar verdwyn nie so vinnig uit die kop nie.”

Beoordelaars: Di Farren Watt, Marileen Steyn en Eugéne Malan.

Die volgende toekennings word vanjaar deur die Andrew Murray-prysfonds gemaak.

• Die Andrew Murray-FAK-toekenning gaan aan die sanger Piet Smit. In die aanbeveling vir die toekenning aan hom word gewys op sy jare lange voltydse musiekbediening, sy vyf albums wat goue status bereik het, en die album Heer U maak my nuut, wat platinum-status verwerf het – ’n prestasie wat nog deur geen ander oorspronklike geestelike album in Suid-Afrika nagedoen kon word nie. Smit se musiek is in die country-en-folk-styl in die vertellende luister-liedjie-genre gewortel.

• Die CLF-Elise Templehoff-toekenning vir omgewingsbewaring en -geregtigheid gaan aan prof. Susan Rakoczy vir haar akademiese artikel “God as Father: Patriarchy and Climate Change”, wat in 2019 in Handbook on Christian Theology and Climate Change verskyn het.

Rakoczy is een van Suid-Afrika se voorste feministiese teoloë wat onder meer oor “groen bekering”, oor feministiese spiritualiteit en oor “groen susters”, veral vanuit ’n Katolieke perspektief, skryf.

Dié wen-essay getuig van teologiese rypheid en diepgaande insig. Sy wys op die betekenisnuanses van God as Vader, wat bevrydend kan wees, maar patriargie erken, met verreikende gevolge.

• Die Jaap Durand-Denise Ackermann-toekenning vir eenheid, versoening en geregtigheid gaan aan Laurie Gaum. Hy fasiliteer werksessies vir die nie-regeringsorganisasie Genderworks in “Gender Equity & Reconciliation” en menslike seksualiteit.

[Kommentaar: Die toekenning vir eenheid, versoening en geregtigheid is waarskynlik vernoem na Jaap Durand omdat hy saam met Dirkie Smit die Belydenis van Belhar opgestel het.]

Die werksessies ondersteun onder meer kerke en gemeentes om veilige ruimtes te skep waarin heling tussen “straight” en “queer” gelowiges kan plaasvind. Laurie is verder betrokke by intergeloofsinisiatiewe om respek tussen mense van verskillende gelowe te bevorder. Hy was die eerste aansoeker in die saak Gaum vs DRC, waarin die negatiewe besluit van die 2016-buitengewone algemene sinode van die NG Kerk tersyde gestel is en die hooggeregshof onbillike kerklike diskriminasie teen LGBTQIA+ mense onomwonde afgewys het.

Gaum strewe in die harde werklikheid na die beliggaming van die waardes van die Belydenis van Belhar.

• Die pryse en toekennings bestaan uit kontantbedrae en oorkondes. Die toekenningsgeleentheid word vir 27 Mei in die Jubileum-saal in die Andrew Murray-sentrum vir Spiritualiteit in Wellington beplan.

Artikels voortspruitend

1 thought on “Gaum, Smit wen Andrew Murray-pryse”

  1. Kyk maar na ander lyste vir Christelike boeke. Die “Andrew Murray-prysfonds” is definitief nie ’n aanwins vir RSA nie, eerder ’n verleentheid.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui