Die plaaslike gemeente is volledig kerk

Die plaaslike gemeente is volledig kerk

Daniel Louw

15 Oktober 2023

Die NG Kerk se algemene sinode het sedert 2000 ‘n hele paar skokkende besluite geneem wat ‘n laagtepunt bereik het toe die NG Kerk in 2019 ruimte gemaak het vir selfdegeslagverhoudings.

Sommige behoudendes voel nou dat die probleem in die NG Kerk se struktuur lê en dat die algemene sinode selfs moet ontbind. Hulle redeneer dat die NG Kerk tans as ‘n sinodokrasie funksioneer, waar die sinode besluite op plaaslike gemeentes afdwing. Dit herhinner blykbaar aan die Rooms-Katolieke kerk se struktuur. Dit is egter ver van die waarheid, want die NG Kerk se algemene sinode laat juis te véél ruimte toe in die kerk.

Nietemin, die NG Kerk is veronderstel om ‘n presbiteriale stelsel te volg. Dit is die benadering dat die plaaslike gemeente volledig kerk is en dat die ouderlinge in die gemeente verantwoordelik is om toesig te hou oor die leer in die gemeente.

Wat beteken dit prakties?

Gereformeerde kerke

Die Gereformeerde Kerke (GKSA) beweer dat hulle wel die presbiteriale stelsel getrou navolg en dat gemeentes binne die GKSA volledig kerk is (kyk ‘Dís hoe Dopperkerke ’n verskil maak en wil maak’ (Netwerk24, 6 Januarie 2023)).

Die GKSA is egter tans in ‘n krisis gewikkel oor gemeentes wat sinodebesluite verontagsaam en vroue in die amp aanstel. Sommiges voel dat hierdie gemeentes nie meer welkom in die GKSA is nie terwyl andere pleit om hulle te verdra.

As die plaaslike gemeente egter volledig kerk is, dan kan plaaslike gemeentes mos self besluit oor die vrou in die amp. Maar as die plaaslike gemeente self kan besluit oor kern teologiese dogmas, wat is die doel van ‘n denominasie dan? Dit sou tog nie sin maak indien verskillende gemeentes binne dieselfde denominasie wyd uiteenlopende sieninge oor kern teologiese dogmas het nie. Daarom het elke denominasie ‘n oorkoepelende struktuur (’n algemene sinode) nodig om die identiteit van die denominasie te bepaal en te beskerm.

Independentisme

Independentisme is wanneer gemeentes aan geen struktuur (denominasie) behoort waaraan hulle verantwoording doen nie. Soos ‘n diktatorskap, werk independentisme baie goed solank jy ‘n goeie diktator het. Ervaring het egter geleer dat kerkrade in die meeste gevalle hulle leraar op teologiese vlak slaafs navolg. Dus, wanneer ‘n leraar in so ‘n gemeente dwaalleer aanhang sleep hy die hele gemeente saam in die afgrond in. Geskiedenis het gewys dat dit bloot ‘n kwessie van tyd is voor dit gebeur.

Sinodale struktuur

‘n Presbiteriale stelsel is egter nie gelyk aan independentisme nie omdat dit die nodigheid erken om aan ‘n groter struktuur te behoort. Dit is daarom dat daar gewoonlik van ‘n sinodale struktuur gebruik gemaak word.

‘n Sinodale struktuur word só ontwerp dat lidmate so goed moontlik verteenwoordig word by die algemene sinode. In ‘n groot denominasie soos die NG Kerk sal hierdie aspek altyd ‘n uitdaging bly omdat ‘n kleiner persentasie van lidmate verteenwoordig word as in die geval van kleiner denominasies waar alle predikante in die denominasie soms afgevaardigdes by hulle algemene sinodes is.

Voorgestelde kerklike struktuur

Ten spyte daarvan dat sommige behoudendes in die NG Kerk die algemene sinode wil laat ontbind, bly ‘n sinodale struktuur steeds ‘n goeie struktuur om te volg. Hier volg ‘n moontlike lys van eienskappe waaraan so ‘n kerklike struktuur kan voldoen:

  • Daar moet ‘n algemene sinode (of oorhoofse struktuur) wees wat oor kern teologiese dogmas besluit en dit afdwing op gemeentes om die identiteit van die denominasie te beskerm. Daar moet dus kerklike tug wees wat selfs kan lei tot skorsing uit die denominasie.
  • Gemeentes moet toegelaat word om eie besluite te neem rakende randsake en oor die administratiewe bestuur van die gemeente.
  • Gemeentes moet op vrywillige basis aan ‘n denominasie verbind wees. Gemeentes sou hulleself dus op enige stadium los kon maak van ‘n denominasie en oorskuif na ‘n ander denominasie (of selfs onafhanklik word). ‘n Gemeente sou kon besluit dat sulke besluite slegs met ‘n tweederdemeerderheid binne die gemeente uitgevoer kan word.
  • Omdat gemeentes hulleself vrywillig aan ‘n denominasie verbind, bly die bates die gemeente s’n en kan die denominasie waaraan die gemeente behoort op geen manier op ‘n gemeente se bates aanspraak maak nie.

Dit sou baie dieselfde wees as om aan ‘n klub te behoort:

  • Lidmaatskap tot die klub is vrywillig.
  • Terwyl jy aan die klub behoort, betaal jy die ledegelde en onderwerp jy jouself aan die reëls.
  • As jy nie meer deel wil wees van die klub nie, dan verlaat jy die klub.
  • Die klub het geen seggenskap oor jou privaatbesittings nie.

Op hierdie manier sou die plaaslike gemeente, binne ‘n groter struktuur, steeds as volledig kerk kon funksioneer.

Geen struktuur is egter bestand teen die verdorwenheid van die mens nie. Daarom word kerkleiers, veral die ouderlinge in die gemeente, opgeroep om waak te hou oor die leer in die gemeente tot die Here weer kom (1 Petrus 5:1-4).

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui