Bennie Keet oor kerkskeuring

Die volgende is geneem uit “Weskaap Sinode NG Kerk“, deur Ferdie Mulder, 18 Desember 2022

(12:30) In 1916 word prof Bennie Keet predikant in Graaff-Reinet en preek in Afrikaans in plaas van Hollands. Daar word ‘n klag teen hom ingedien en die saak word verwys na die (Kaapse) sinode in 1919. (Op daardie stadium was daar nog nie ‘n Algemene Sinode nie – dit het eers in 1962 ontstaan – kyk Wat is artikel 37 van die NG Kerk Kerkorde?) Bennie Keet besef egter dat dit onkerkordelik is: Die plaaslike gemeente is volwaardig kerk en moet self hieroor kan besluit.

By die Kaapse sinode in 1919 aangekom, ervaar hy dat die kerk in sy bestuur aan ‘n klomp “voormanne” uitgelewer was en dat hy as jong man nie juis veel invloed gehad het nie. Aan die gesag van die plaaslike gemeente is daar nie veel gestalte gegee nie en hy praat van ‘n “sinodokrasie“.

In 1924 skryf hy die dokument “Na honderd jaar”[1]. Dit handel oor die plaaslike gemeente en hoe dit binne ‘n gereformeerde kerk moet funksioneer. Die volgende is daaruit aangehaal en vertaal:

“Sowel uit die Skrif as uit die geskiedenis is dit onteenseglik dat die plaaslike kerk ‘n volledige, selfstandige kerk is, wat vir sy bestaan nie afhanklik is van enige algemene instelling wat eers die bestaansreg aan hom sou verleen nie. Laasgenoemde is die Romeinse siening …”

“Hier moet benadruk word dat die kerk soos sy haarself in die plaaslike instelling manifesteer, geen algemene instelling nodig het vir sy bestaan nie; waar dit as ‘n plaaslike kerk optree, is dit ‘n volledige kerk, en al was daar net een so ‘n kerk sou dit steeds die institusionele manifestasie van die onsigbare liggaam van Christus wees. Ontkenning van hierdie feit lei tot wonderlike konsekwensies. Dan sou die Reformasie van die 16de eeu ‘n fout gewees het; dan moet ons as gehoorsame kinders terugkeer na die moederkerk van Rome. Die plaaslike kerk kan uit verband tree sonder dat sy ophou om kerk te wees. So ‘n optrede kan verkeerd wees, dit kan sondig wees. Om skeuring te saai in die kerk van Christus is nooit ‘n ligtelike saak nie; tog moet die reg van ‘n gemeente om te onttrek sonder twyfel toegestaan word.

Voetnota: Dit is eers wanneer ons oortuig is dat die kerk waaraan ons behoort vals is dat ons ook verplig is om daaruit te onttrek; nie vir enige afwyking van ‘n geringe aard nie.

… beide uit die Skrif en uit die geskiedenis dit duidelik blyk dat die plaaslike gemeente volwaardig, selfstandig kerk is, wat vir sy bestaan nie afhanklik was van enige algemene instituut van watter aard ookal nie wat aan so ‘n kerk sy reg van bestaan sou toeken nie. Laasgenoemde was Rooms Katolieke opvatting.

Voetnotas

[1] KEET, B.B. Na honderd jaar: de regeringsvorm van de Nederduitse Gereformeerde Kerk aan de gereformeerde begin- selen getoetst; toespraak gehouden bij de sluiting van de Teologiese Kweekschool, Oktober 1924. Stellenbosch: Pro Ecclesia-drukkerij, 1925.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui