Die Bybel oor voorspoedsteologie

Voorspoedsteologie (Engels = “prosperity gospel“) is die idee dat God sy kinders met aardse dinge sal seën. Hierdie aardse seëninge sluit die volgende in:

  • Finansiële sukses
  • Goeie gesondheid
  • Lang lewe

T-hemp met die woorde 'I can do all things through a verse taken out of context' Dit sinspeel natuurlik op Filippense 4:13Dit staan ook bekend as die “Word of Faith”-beweging of die “name it and claim it“-benadering. Dit is die idee dat jy positief moet spreek sodat God sal doen soos jy sê. Wat jy sê bepaal alles wat met jou gebeur.

Gewoonlik is dit mense wat die volgende glo:

  • Jy moet lewe spreek as jy enigsins wil hê dat dit met jou goed moet gaan.
  • God het bedoel dat sy kinders goeie gesondheid moet hê en nie jonk moet doodgaan nie. Daarom het ’n mens nie dokters nodig om gesond te word nie.
  • God het bedoel dat sy kinders finansieel welgesteld moet wees. Daarom moet jy finansiële sukses ervaar.
  • Alle teëspoed het een of ander geestelike rede.
  • Gewoonlik hou hulle daarvan om Johannes 10:10 te gebruik: ’n Dief kom net steel en slag en uitroei; Ek het gekom sodat hulle die lewe kan hê, en dit in oorvloed. (Kyk Johannes 10:10 vir ’n bespreking daaroor.)
  • En ook Filippense 4:13 : Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee.
  • En Markus 11:23-24 : (23)Dit verseker Ek julle: Elkeen wat vir hierdie berg sê: ‘Lig jou op en val in die see,’ en daarby nie in sy hart twyfel nie, maar glo dat wat hy sê, gebeur, vir hom sal dit gebeur. (24)Daarom sê Ek vir julle: Alles wat julle in die gebed vra, glo dat julle dit al ontvang het, en dit sal vir julle so wees.

As ’n mens slegs na die Ou Testament kyk, dan kan ’n mens nog moontlik ’n saak daarvoor uitmaak – daar is baie gedeeltes waar God belowe om die volk te seën indien hulle getrou bly. ’n Mens dink byvoorbeeld aan Jabes se gebed (1 Kronieke 4:10).

Drie dinge wat Jesus nooit gesê het nie:
1. Jy sal gesond wees.
2. Jy sal ryk wees.
3. Jy sal suksesvol wees.
Drie dinge wat Jesus gesê het:
1. Jy sal gehaat word (Mat 10:22)
2. Jy sal swaarkry (Mat 24:9; Joh 16:33)
3. Jy sal vervolg word (Luk 21:12; Joh 15:20)

Hierdie gedagte word egter nie verder uitgedra in die Nuwe Testament nie. Nêrens sal jy vind dat Jesus rykes opgehemel het en gesê het dat hulle rykdom die resultaat van God se seën oor hulle goeie lewens is nie. Inteendeel, daar is heelwat plekke in die Bybel wat sê dat ons nie rykdom moet najaag of geldgierig moet wees nie. Kyk:

Voorspoedsteoloë sal seker egter sê dat hulle nie noodwendig geld najaag nie, maar dat God dit bloot aan mense sal gee as ’n seën. Hier volg ’n paar gedeeltes uit die Bybel wat teenstrydig is met hierdie idee:

Spreuke 30:7-9
(7)Net twee dinge vra ek van U; moet my dit tog nie weier nie; daarna kan ek sterf: (8)moenie toelaat dat ek vals is en lieg nie; moet my nie arm maak of ryk nie, gee my net die kos wat ek nodig het, (9)sodat ek nie te veel het en U verloën en sê: “Wie is die Here?” nie, en sodat ek nie arm word en steel en my God se Naam oneer aandoen nie.

Selfs die wyse Salomo het besef dat rykdom nie alles is nie. Wat beter is, is om net genoeg te hê.

Matteus 8:20
(20)Jesus sê vir hom: “Jakkalse het gate en voëls het neste, maar die Seun van die mens het nie eens ’n rusplek vir sy kop nie.”

Dit is baie duidelik dat Jesus, die Seun van God self, nie ryk was nie.

Matteus 10
(25)’n Leerling moet tevrede wees as dit met hom gaan soos met sy leermeester, en ’n slaaf as dit met hom gaan soos met sy eienaar. As hulle die hoof van die huis die skeldnaam Beëlsebul gegee het, sal hulle dan nie sy huisgenote met baie erger name uitskel nie?”

Wat Jesus heel moontlik hier bedoel is dat sy leerlinge nie ’n beter lewe moet verwag as wat Hy gehad het nie. En dit was ook so – almal behalwe Johannes het gesterf vir hulle geloof (kyk Hoe is die 12 dissipels dood?).

Matteus 26
(39)“My Vader, as dit moontlik is, laat hierdie lydensbeker by My verbygaan. Moet nogtans nie doen soos Ek wil nie, maar soos U wil.”

Dit is hoe Jesus self gebid het in Getsemane. As God vir Jesus Sy wil gegee het, sou ons nooit gered kon word nie.

Johannes 9:1-3
(1)Terwyl Jesus wegstap, sien Hy ’n man wat van sy geboorte af blind was. (2)Sy dissipels vra Hom toe: “Rabbi, deur wie se sonde is dit dat hierdie man blind gebore is: sy eie of sy ouers s’n?” (3)En Jesus antwoord: “Dit is nie deur sy eie sonde nie en ook nie deur sy ouers s’n nie, maar hy is blind sodat die werke wat God doen, in hom gesien sal kan word.

Hierdie man se blindheid was duidelik nie ’n resultaat van ’n familievloek of van sy eie sonde nie. ’n Mens kan natuurlik egter ook nie hierdie gedeelte gebruik om te sê dat geen siekte die resultaat van sondes kan wees nie. Jakobus 5:16 sê iets hieroor. Kyk ook Die Bybel oor sonde.

2 Korintiërs 12:7-10
(7)selfs nie vanweë die verhewenheid van die openbarings nie. Daarom, sodat ek nie hoogmoedig sou wees nie, is daar vir my ’n doring in die vlees gegee, ’n boodskapper van Satan om my met vuiste te slaan. (8)Drie maal het ek die Here gebid dat dit van my af weggeneem moet word. (9)Sy antwoord was: “My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.” Daarom sal ek baie liewer oor my swakhede roem, sodat die krag van Christus my beskutting kan wees. (10)Daarom is ek bly oor swakhede, beledigings, ontberings, vervolging en moeilikhede ter wille van Christus, want as ek swak is, is ek sterk.

Filippense 4:12
(12)Ek weet wat armoede is en ek weet wat oorvloed is; van alles het ek ondervinding: om genoeg te hê om te eet sowel as om honger te ly, om oorvloed te hê sowel as om gebrek te ly.

As Paulus so ’n toegewyde dissipel van God was, hoekom moes hy armoede ervaar. Ons weet ook hoeveel hy moes ly vir die Evangelie.

1 Timoteus 6:6
(5)Hulle dink dat die godsdiens iets is om geldelike wins mee te maak. (6)Die godsdiens is ’n groot wins as iemand tevrede is met wat hy het, (7)want ons het niks in die wêreld ingebring nie; ons kan ook niks daaruit wegneem nie. (8)As ons dan kos en klere het, moet ons daarmee tevrede wees. (9)Maar dié wat ryk wil word, val in versoeking. Hulle loop hulle vas in die strik van baie sinlose en skadelike begeertes waardeur mense in verderf en ondergang gestort word. (10)Geldgierigheid is ’n wortel van allerlei kwaad. Party het geld nagejaag en toe van die geloof afgedwaal; daardeur het hulle hulleself baie ellende op die hals gehaal. Die goeie stryd van die geloof (11)Maar jy, man van God, moet van hierdie dinge af wegvlug. Streef na opregtheid, toewyding aan God, geloof, liefde, volharding, minsaamheid.

Vers 8 sê duidelik: as jy kos en klere het moet jy tevrede wees. ’n Mens kan baie arm wees en steeds dit hê.

Hebreërs 11:35-40

(35)Vroue het hulle dooies teruggekry, opgewek uit die dood. Ander gelowiges wou nie die prys vir hulle eie vrylating betaal nie en is doodgemartel; hulle wou die opstanding tot ’n beter lewe deelagtig word. (36)Ander weer het bespotting en lyfstraf verduur, selfs boeie en gevangenskap. 37Gelowiges is met klippe doodgegooi, in stukke gesaag, met die swaard vermoor. Hulle het rondgeswerf in skaapvelle en in bokvelle. Hulle het gebrek gely, is verdruk en mishandel. (38)Die wêreld was hulle nie werd nie; hulle het rondgeswerf in woestyne en op berge en het in grotte en in gate in die grond gelewe.
(39)En hoewel daar oor hulle almal vanweë hulle geloof met soveel lof getuig is, het hulle nie verkry wat beloof is nie, (40)omdat God vir ons iets beters beoog het, sodat hulle nie sonder ons die voleinding sou bereik nie.

Hier sien ons dat baie geloofshelde bitter min aardse gerief gehad het.

Jakobus 4:13-16
(13)Kom nou, julle wat sê: “Vandag of môre sal ons na dié en dié stad toe gaan en ’n jaar lank daar bly; ons sal sake doen en geld maak.” (14)Julle wat nie eers weet hoe julle lewe môre sal wees nie! Julle is maar ’n damp wat ’n oomblik verskyn en sommer weer verdwyn. (15)Julle moet eerder sê: “As die Here wil, sal ons lewe en sal ons dit of dat doen.” (16)Maar nou is julle te seker van julleself en praat julle groot. Al sulke grootpratery is verkeerd.

Hierdie is duidelik teenstrydig met die idee dat jy positief moet spreek om resultate te bereik.

1 Petrus 3:3
(3)Julle skoonheid moet nie bestaan in uiterlike dinge soos haarkapsels, juwele en sierlike klere nie.

Veronderstel daar is ’n saak uit te maak vir voorspoedsteologie, hoe verklaar ’n mens die volgende:

Hoekom genees God nie vir Joni en Nick nie? Hoekom het Hannelie en Yolande hulle mans verloor én hoekom het God nie hulle mans aan hulle teruggegee nie (uit die dood laat opstaan)?

Wat is finansiële sukses?

Oor finansiële sukses: wat is die definisie van finansiële sukses? Hoe ryk moet ons verwag sal God ons maak?

En wat van al die Christen broers en susters wat voltyds in diens van God staan en ’n karige salaris verdien – doen hulle iets verkeerd? Of is hulle nie tans waar God hulle wil hê nie?

Geld en gesondheid bring nie ware geluk

Dit is interessant om daarop te let dat nié geld óf selfs goeie gesondheid ware geluk bring nie. Daar is gevind dat mense wat waarlik gelukkig is, is mense wat ervaar dat hulle ’n doel in die lewe het. Kyk:

Moeder Teresa en Viktor Frankl kom by my op.

As Christen het ons altyd ’n doel in die lewe:

  • Om God te dien uit dankbaarheid vir wat Hy vir ons gedoen het.
  • Om ander te dien.

Dit is genoeg om ons ’n gelukkige lewe te gee.

Gawes van die Heilige Gees

Nog ’n faset van voorspoedsteologie is die idee dat alle wedergebore Christene toegang het tot al die gawes van die Heilige Gees.

Dit is nie waar nie. God deel gawes uit volgens Sy genade en wysheid:

God het ’n baie spesiale verhouding met Moses gehad. In Eksodus 33:11 lees ons dat God met Moses gepraat het soos met ’n vriend: Die Here het direk met Moses gepraat soos ’n man met sy vriend.

God het egter gekies om nie dieselfde verhouding met Josua te hê nie, ten spyte daarvan dat ons slegs goeie dinge van Josua lees. Josua is die een wat gesê het: “…ek en my huis, ons sal die Here dien” (Josua 24:15)

Kyk ook Die Bybel oor die gawes van die Heilige Gees vir ’n meer volledige bespreking hieroor.

God weet wat die beste vir jou is

Mense wat voorspoedteologie aanhang neem aan hulle weet wat die beste is vir hulle. Dit is egter glad nie waar nie. Soms sê jy dankie dat jy nooit gekry het waarvoor jy gevra het nie.

Otto Koning vertel in “7. Divine appointments” dat daar ’n sendeling was wat elke Saterdagoggend dorp toe geloop het om sy voorrade te koop. Dit het altyd die hele dag in beslag geneem. Daar was egter altyd baie van die plaaslike bevolking wat ook saam gestap het om besigheid in die dorp te doen. Terwyl hy so saam met hulle geloop het, het hy hulle geleer. Sy kerk in Amerika het egter vir hom ’n Jeep gekoop. Nou kon hy baie tyd spaar op ’n Saterdag. Hy het wel tyd gespaar, maar nou was die mense kwaad wanneer hulle nie ’n geleentheid saam met hom kon kry nie, en hy het glad nie meer saam met die mense gestap en hulle geleer nie.

Otto Koning self het op ’n stadium ’n vierwielmotorfiets gekry om vinniger by ander nedersettings uit te kom. Die ding het egter meer probleme veroorsaak as wat dit voordele ingehou het. (Luister gerus wat daar gebeur het – kyk Otto Koning se pynappelstories.)

Laat dit aan God oor

Otto Koning vertel op baie humoristiese manier hoe God hom geleer het om alles wat hy het vir God te gee. Die eerste ding wat hy vir God moes gee, was sy pynappeltuin. Later moes hy sy tyd, sy reputasie, sy vrou en kinders ook vir God gee.

So ’n benadering bring ware vrede en rus in plaas daarvan om jou te kwel hoekom jy nie finansieël suksesvol is nie (wat dit ookal beteken).

Kan sonde dinge soos armoede en swak gesondheid veroorsaak

Absoluut! Dit is altyd ’n goeie beginsel om selfondersoek te doen wanneer dinge sleg gaan, maar dit beteken nie dat alle slegte dinge in jou lewe weens onbelyde sonde in jou lewe is nie. ’n Mens neem net Job as ’n voorbeeld. (Kyk ook Die Bybel oor sonde.)

5 thoughts on “Die Bybel oor voorspoedsteologie”

    1. Petrus,
      Die Easy to Read vertaling (ERV) vertaal Joh 10:10 soos volg: I came to give life–life that is full and good. (bible.com/bible/406/JHN.10.10)
      Ps 23 vertel van die lewe wat God ons gee. Die goeie lewe wat God vir sy kinders gee gaan in elk geval nie oor die oorvloed van aardse besittings nie.

  1. Goeie artikel Daniel.
    Die Heidelbergse Kategismus sê in Sondag 10 Vr 28 dat ons in alle teëspoed geduldig en in voorspeod dankbaar moet wees.
    Dit is die Christelike lewenshouding.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui