Nuus uit die Ring van Standerton

Kyk ook:

Na aanleiding van die NG Kerk se 2019 besluit oor selfdegeslagsverhoudings (SGV):

NG gemeente Charl Cilliers het in hulle kerkraadsvergadering op 5 November 2019 besluit om hulle te distansieer van die 2019-besluit en te doleer.

Charl Cilliers het ook aan die Hoëveld Sinode en die Ring van Standerton onderskeidelik ’n versoek gerig om te vergader sodat hierdie besluit bespreek kan word. Die Ring van Standerton bestaan uit die volgende ses gemeentes:

  1. Bethal
  2. Bethal-Oos
  3. Charl Cilliers
  4. Standerton
  5. Standerton-Suid
  6. Standerton-Wes

Die van Ring van Standerton het toe op 24 November 2019 vergader. Bethal-Oos het egter besluit om nie die ringsitting by te woon nie. Die Ring het eenparig besluit om hulle van die 2019-besluit te distansieer. Nege uit die tien afgevaardigdes wat die ringsitting bygewoon het, het wegbreking van die Algemene Sinode voorgestaan.

Intussen het die Hoëveld Sinode op 9 Desember 2019 laat weet dat hulle nie ’n spesiale sinode gaan hou nie en dus nie wegbreking van die Algemene Sinode oorweeg nie (onthou dat André Bartlett die moderator is van die Hoëveld Sinode). Die Taakspan van die Algemene Sinode Moderatuur sal egter wel met die kerkraad en die Ring van Standerton in gesprek tree in 2020 (kyk Bylaag A en B hieronder).

Standerton-Suid en Bethal Moedergemeente doleer tans ook.

Bylaag A: Brief aan Charl Cilliers

9 Desember 2019

Die Voorsitter van die Kerkraad

NG Gemeente Charl Cilliers

Per e-pos

Geagte Dr. Marais,

Besluit van die Kerkraad oor AS se Besluit rakende Selfdegeslagverhoudinge
Die SDK het tydens die vergadering van 3 Desember 2019 die brief waarin die kerkraad se besluite weergegee is, behandel.

Die SDK het kennis geneem van die kerkraad se besluite en het besluit om die brief deur te stuur na die Skriba van die ASM omdat dit handel oor die besluite van die Algemene Sinode.

Die SDK het ook besluit om in oorleg met die Taakspan wat die ASM in ooreenstemming met punt 9 van die genoemde besluit van die Algemene Sinode, saamgestel het, met die kerkraad oor die besluite in gesprek te tree.

“9. Die Algemene Sinode wil graag die ruimte wat vir almal geskep word om volgens hulle oortuiging op te tree bevestig. Ook sal daar ’n span saamgestel word wat elke streeksinode sal besoek om hierdie saak duidelik en deeglik deur te werk. Dit kan help om ’n ingeligte besluit te neem.”
Die SDK het besluit om nie ’n buitengewone Sinode oor die besluite van die Algemene Sinode oor Selfdegeslagverbintenisse te belê nie.

Die SDK Dagbestuur sal in 2020 met die kerkraad in verbinding tree om reëlings te maak vir die gesprek.

Die uwe

Ds. Hannes (JH) Windell
Skriba

Bylaag B: Brief aan Ring van Standerton

13 Desember 2019

Die Voorsitter van die Ringskommissie

Die Ring van Standerton

Per e-pos

Geagte broer

Besluit van die Buitengewone Ringsitting van Standerton in verband met die Besluite van die Algemene Sinode 2019 aangaande Selfdegeslagverhoudinge

U brief wat as aanhangsel by die e-pos gedateer 25 November 2019 aan die Sinode Hoëveld gerig was, is by die vergadering van die SDK gehou op 3 Desember 2019 behandel.

Die SDK het besluit om nie ’n Buitengewone Sinode saam te roep oor die besluit van die Algemene Sinode 2019 oor selfdegeslagverbintenisse nie. Die SDK het wel besluit om met die Ring in gesprek te tree in oorleg met die Taakspan wat deur ASM aangewys in die lig van punt 9 van die betrokke besluit van die Algemene Sinode:

“9. Die Algemene Sinode wil graag die ruimte wat vir almal geskep word om volgens hulle oortuiging op te tree bevestig. Ook sal daar ’n span saamgestel word wat elke streeksinode sal besoek om hierdie saak duidelik en deeglik deur te werk. Dit kan help om ’n ingeligte besluit te neem.”
Die SDK het besluit om nie ’n buitengewone Sinode oor die besluite van die Algemene Sinode oor Selfdegeslagverbintenisse te belê nie.

Die SDK Dagbestuur sal DV in 2020 met die Ringskommissie in verbinding tree om so ’n gesprek te reël.

Die uwe

Ds. Hannes Windell
Skriba van die SDK

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui