Die Bybel is heel duidelik oor die huwelik, dankie

Kyk ook:

Kyk ook KOMMENTAAR onderaan.

*******

Die Bybel is heel duidelik oor die huwelik, dankie | Rapport

Johann Ernst

Rapport, 28 Mei 2023

Ek verwys na Neels Jackson se artikel “ ’n Hamer maak nooit heel nie” op hierdie blaaie twee weke gelede.

Jackson probeer ’n slag slaan teen die Koinonia-sinode van beswaarde gemeentes in die NG Kerk se besluit om standpunt in te neem teen die algemene sinode se besluit om sy seën te plaas op die lewenswyse van praktiserende homoseksuele lidmate omdat dit sulke mense die bevryding deur sondebelydenis en bekering ontneem.

In antwoord daarop deel Jackson self ’n paar hamerslae uit. Hy beskuldig die behoudendes van ’n rigiede, wettiese soort godsdiens. Behoudendes soek oral in die Bybel na reëls en kyk God se liefde en helende genade maklik mis. Behoudendes werk met ’n verskraalde evangelie en is blind vir die nood van mense. Behoudendes herken nie sekere aspekte van die evangelie nie. Nogal harde hamerslae wat Jackson hier uitdeel.

Jackson maak die fout om in die kerktoring van die NG Kerk op te klim en selfs namens die kerk oordele uit te spreek oor sy broers en susters daaronder. Hy sien nie die spits van die toring wat na God wys nie, maar gooi ’n klein hamer na lede van sy geloofsfamilie daaronder.

Daarby verkondig hy ’n evangelie wat verskil van die leer wat die NG Kerk in ooreenstemming met die Woord van God bely en waartoe hy as lidmaat verbind is. Sy evangelie is ’n evangelie wat uit die menswees van Jesus spruit, en by die tydsgees aangepas word. Dit wil op vernuftige wyse by die skema sonde-verlossing-en-dankbaarheid verbykom, net soos die algemene sinode in vasgeloopheid ’n ompad met die besluit oor selfdegeslagverbintenisse geskraap het.

Terwyl die kerk se kategismus (geloofsreël) die volle evangelie vir almal wat gelukkig wil lewe en sterwe deurtrek tot by ’n lewe van dankbaarheid, wat volg op die sonde en verlossing (die heil), dus anderkant die kruis, lees Jackson sy eie liefdesevangelie net andersom en kan sondebelydenis en bekering maar uitbly omdat Jesus se aardse bediening, sy voorbeeld en sy besorgdheid, dus sy lewe voor die kruis, die evangelie volledig maak.

Dit kom neer op werkheiligheid en weerspreek waarvoor die ware evangelie staan. Maar dan lees Jackson self in wie en wat Jesus is en hoe ons moet wees. Dit is opvallend dat Jesus se dade vir hom meer tel as Jesus woorde.

Want sy evangelie is ’n doen-evangelie, nie eers ’n luister-en-lee-en-louter-evangelie nie.

Dit blyk duidelik uit wat Jackson oor die huwelik skryf wat vir hom uit baie soorte verbintenisse kan bestaan. Die poligame verbintenis en die swaers­huwelik dien vir hom as gronde waarom gay-huwelike ook as doodnormaal en sonder veroordeling aanvaar moet word. Maar dat Jesus uitdruklik gesê het dat die huwelik monogaam en heteroseksueel moet wees en dat God dit van die begin af so bedoel het, ignoreer hy geheel en al. Nou tel Abraham en Boas se liefdeslewe bo dié van Jesus en sy volgelinge.

Jackson se argumente breek onder sy eie hamer in stukke wanneer hy hom tussen die hamer en die aambeeld bevind met sy flou, ongegronde en misleidende argument oor vorige kerkbesluite wat dan verander het. Hy skraap uitgebrande kole bymekaar om die yster wat hy wil smee weer by smeltpunt te probeer kry. As daar nou een saak is wat nie met die ander sake wat hy noem vermeng kan word nie, is dit die huwelik.

Die rassekaart wat Jackson speel, die nuwe begrip vir die groot rol wat vroue in die kerk speel, sektes wat nou as Christelike vennote waardeer word, kinders wat nou by die nagmaal verwelkom word, ensovoorts is stomp spykers waarop gehamer word, maar niks aanmekaarslaan nie. Die verskil is dat die Bybel vir ons, wat hierdie sake betref, die regte antwoorde gee, al neem dit ons tyd om aanvaar te word. Maar oor die huwelik self is die Bybel nog duideliker en is dit al vir 2 000 jaar die geval. Want soos die Bybel dit stel: Dit is die diep geheim van ’n gelukkige lewe.

Nou wil Jackson, soos met apartheid en die ander sake, iets wat die Bybel nie leer nie tot evangelie maak. Ja, dit is verkeerd om die evangelie te verskraal of daar geen sosiale implikasies sou wees nie.

Maar dit is net so verkeerd om die evangelie te verwater deur verlossing as sosiale geregtigheid te beskou en van die heil in Christus los te maak. Christus word dan slegs ons morele voorbeeld. Soos in die dubbele liefdesgebod saamgevat (Matt. 22:37-40) kan ons die verlossing in Christus uiteraard nooit van die sosiale uitlewing daarvan losmaak nie. En dit sluit die heiliging van die huwelik as slegs ’n lewenslange verbintenis tussen een man en een vrou in, ongeag wat ons met ons klipharte daarvan probeer maak.

Die lyke wat Jackson bymekaarmaak wat deur sy klein hamer van bo dodelik getref is, word in een graf begrawe.

Almal by Kairos Netwerk is volgens hom steeds vir apartheid, teen die vrou in die amp, teen kinders aan die nagmaalstafel en teen beter verhoudinge met die Pinksterkerke. Dit word stereotipering genoem.

Snaaks dat Jackson, wat ’n veelheid van gender-identiteite herken, net twee kerkidentiteite van sy toring kan sien: Mense met reëls en mense met liefde.

  • Ds. Johann Ernst is ’n voormalige aktuarius van die NG Kerk.

Dekades se kontak wys die teendeel

Neels Jackson skryf: As die NG Kerk gelyk het soos die drogbeeld wat Etienne Liversage verlede week voorhou in sy artikel “Is Goddelike gesag van die Skrif nie van belang?” sou ek sy ontsteltenis gedeel het.

Gelukkig kan ek – op grond van dekades se noue kontak met die kerk op alle vlakke – daarvan getuig dat hy die pot mis sit.

Wat my verstom is dat hy, in kritiek op my eie skrywe ’n week tevore, halwe waarhede, verdraaiings en wilde gevolgtrekkings aanmekaarlas om by sy gevolgtrekkings uit te kom.

Ek gebruik een voorbeeld. Hy skryf: “Die Bybel is deurspek met God se veroordeling van gay-seks . . .”

As ’n mens gaan soek, sal jy in die Bybel se 66 boeke, met 1 189 hoofstukke en meer as 31 000 verse, net sewe tekste vind wat met ’n oppervlakkige lees kan lyk of dit oor gay-seks gaan. Gaan lees jy mooi sal jy sien dit gaan in een geval oor ’n poging tot bendeverkragting van vreemdelinge deur ’n hele dorp se mans (die verhaal van Lot) en in die ander oor seksuele perversiteite wat as deel van vreemde afgodedienste gepleeg is. Nie een maal gaan dit oor gemeenskap tussen twee mense in ’n verhouding van liefde en trou nie.

Hierteenoor is daar honderde tekste wat die liefde aan die kern van die evangelie plaas. En anders as die wanvoorstelling wat Liversage voorhou, skakel die klem op liefde nie die oordeel uit nie.

Wat is dan die verband tussen liefde en oordeel? Volgens Jesus is dié wat veroordeel word juis dié wat nie liefde betoon nie, wat nie vir hongeres kos gee of vreemdelinge huisves of met praktiese hulp na ander randfigure uitreik nie (Matteus 25).

Die Kairossers gee vreeslik hoog op oor die Bybel, maar as hulle nie die Bybel op ’n beter vlak hanteer nie, moet hulle nie verwag dat die kerk hul argumente ernstig gaan opneem nie.

Kommentaar

Miskien het Etienne Liversage bietjie oordryf met die woorde: “Die Bybel is deurspek met God se veroordeling van gay-seks”, maar Neels Jackson weet baie goed wat bedoel word – die Bybel is baie duidelik oor homoseksualiteit.

Die vraag wat gevra moet word is: Veronderstel dat God werklik homoseksualiteit as ‘n afskuwelike sonde haat, hoe moes dit anders in die Bybel gestaan het as wat dit reeds verwoord is?

Verder, een van die plekke in die Bybel wat homoseksualiteit as sonde veroordeel is Levitikus 18. Levitikus 18 (en 19) bevat egter baie voorskrifte wat Neels sou reken steeds vandag van toepassing is. Byvoorbeeld: “Jy mag met geen dier geslagsgemeenskap”. Of kan ‘n mens ook redeneer dat hierdie vers niks sê oor gemeenskap tussen ‘n mens en dier waar daar ’n verhouding van liefde en trou is nie?

Kyk ook:

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui