Liefde is liefde

Liefde is liefde simbool. Manlike homoseksuele paartjie, heteroseksuele paartjie, lesbiese paartjie. In die reenboog kleure.Liefde is liefde” (Engels: “love is love”) is ’n slagspreuk wat deur die LGBTQIA+ gemeenskap gebruik word om te sê dat geen mens in die pad van ware liefde mag staan nie, ongeag seksuele oriëntasie.

Trouens, nie eers God durf in die pad van “ware liefde” staan nie. Die tekste in die Bybel oor homoseksualiteit? Dit interpreteer ons sommer vinnig weg.

Die vraag is: hoe ver kan ons hierdie liefde-is-liefde-beginsel neem?

In die artikel Twee dominees, een warm affair (6 Desember 2020) word berig dat Auke Compaan en Anél Pienaar, twee predikante van Skuilkransgemeente verlief geraak het op mekaar en owerspel gepleeg het. Toe die kerk hulle daaroor berispe, was die reaksie: “F*k die kerk”

Dit is eintlik te verstane. Liefde is (immers) liefde! Wie is die kerk om in die pad van ware liefde tussen twee mense te staan?

Gaan dink mooi oor hierdie een: As ons die liefde-is-liefde-beginsel kan toepas wanneer dit by homoseksualiteit kom, waarom nie ook by buite-egtelike verhoudings nie?

2 thoughts on “Liefde is liefde”

  1. Ek wil asb weet wat se die Bybel van gemengde huwelike. My wit christen dogter het verlief geraak op n Indier wat ook n Christen is. Ek wil weet wat se die bybel en die kerk daaroor

    1. Anette
      Ek dink ek kan verstaan hoekom jy so voel. Miskien gaan dit nie soseer oor velkleur nie, maar verskille in kultuur. En dit is dinge wat nie geïgnoreer kan word nie, maar dit is, glo ek, oorkombaar.
      Wat ons uit die Bybel leer is die volgende:

      • Jesus het nie regtig iets hieroor gesê nie. Hy het wel gewys dat hy met die Samaritane gemeng het en hy het met die gelykenis van die barmhartige Samaritaan gewys dat ook hulle die Jode se naaste was, maar hy het dit nie sy missie op aarde gemaak om ’n einde aan rasseskeiding te bring nie. Inteendeel, Jesus was so onduidelik oor versoening tussen rasse en volke dat God eers vir Petrus ’n doek met onrein diere in ’n droom moes wys voor Petrus besef het dat die Evangelie ook vir die nie-Jode was.
      • Die Bybel is nêrens gekant daarteen nie. Die Israeliete moes wel nie met ander volke meng nie, maar dit het niks met ras te doen gehad nie, wel met geloof.
      • Daar is baie goeie aanduiding dat Moses ’n swart vrou gehad het. Aaron en Miriam het op hulle neuse gekyk toe hulle dit gekritiseer het.
      • Die Koningin van Skeba wat vir Salomo gaan besoek het, was hoogs waarskynlik swart en lyk my die kans is baie goed dat sy daar weg is, swanger met Salomo se kind. Nou moet ’n mens bysê dat Salomo ’n hele paar dinge gedoen het wat nie nastrewenswaardig was nie: Sy baie vroue, die feit dat hy op die ou einde God verlaat het en die feit dat hy intiem was met die koningin van Skeba, waarmee hy nie getroud was nie.
      • Alle mense op aarde is afstammelinge van Noag en dus is ons almal familie. Vir meer hieroor, kyk Racism – Q&A.

      Dus, moenie jou vasstaar in ras nie. Indien daar wel wesenlike kultuurverskille is, is dit jou plig om dit aan jou dogter uit te wys, maar op die ou einde gaan julle verhouding net skipbreuk ly as jy nie haar besluit respekteer nie. As jy vir haar die gevare uitgewys het en sy maak steeds haar besluit, aanvaar dit so. As dit so uitwerk dat die twee trou en hy is ’n mooi kind van die Here, gaan julle nog baie lief word vir hom.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui