Is goddelike gesag van die Skrif nie van belang?

Kyk ook:

*******

Is goddelike gesag van die Skrif nie van belang? | Rapport

Etienne Liversage

Rapport, 21 Mei 2023

Die NG Kerk het ’n kruispad bereik. Na links is die liberale ruim huis waar plek gemaak word vir dwaalleer­stellings en na regs ’n beweging van streng gereformeerde hervorming, skryf Etienne Liversage.

Ek verwys na Neels Jackson se artikel “ ’n Hamer maak nooit heel nie” op hierdie blaaie verlede week waarin hy die werk van die Kairos Netwerk kritiseer.

Sedert die stigting van die “Nuwe Hervorming”-organisasie in 2002, het ál meer verkose leiers in die kerk, asook staatsaangestelde dosente en professore by teologiese fakulteite daarby aanklank gevind. Dit is ’n liberale, postmoderne benadering tot die Bybelse teks, waar dit wat wetenskaplik bewys kan word aanvaarbaar is en dat die Skrif nie meer dieselfde goddelike gesag vir die moderne mens dra nie. Uit hierdie kritiese teologie, het ’n “nuwe” godsdiens lynreg teenoor die suiwer evangelie binne die kerk te staan gekom.

Reeds in 2000 publiseer dr. Ben du Toit die boek God? Geloof in ’n postmoderne tyd, waarin hy onder meer die volgende stellings maak: Die Bybel is nie die Woord van God nie, maar woorde oor God en deurdrenk met al die gebrekkige en foutiewe sienings wat die mense van die voormoderne tyd gehad het. Jesus self het ook hierdie gebrekkige en foutiewe verstaan van sekere dinge gehad, omdat hy ook maar net in die voor-moderne tyd op aarde geleef het. Jesus se Godheid word nêrens pertinent gestel nie. Jesus se wonderwerke was nie noodwendig wonderwerke nie. Jesus se geboorte was nie noodwendig maagdelik nie en daar kan ook net ’n “sogenaamde” wederkoms van Christus wees. Die Bose se oorsprong lê slegs in die mens self en Satan is nie ’n wese van een of ander aard nie.

Met Satan op hierdie wyse uit die Bybel geskryf, word Christus tot leuenaar verklaar en Sy evangelie verwerp. Dan word Jackson en sy meelopers se dogma aanvaar, naamlik dat Christus die God van volmaakte liefde is en nie as onsimpatieke regter volgens sy Woord sal oordeel, straf en na die hel verdoem nie. Richard Niebuhr beskryf hierdie liberale valse godsdiens as “a God without wrath brought men without sin into a kingdom without judgment through the ministrations of a Christ without a Cross.”

So hoe sal die teologiese onderrig lyk van ’n kerk met ’n kruislose Christus? Te oordeel aan uitsprake oor die kurrikulumtransformasie deur prof. Jerry Pillay, dekaan van die fakulteit teologie by Tukkies, sal die “ruim huis” se tentseile veel verder moet strek: “We are consciously giving more attention to black theology, African Christian theology, libera­tion theology, feminist theology, womanist theology, urban theology, etc.” In sy toespraak het hy nie een keer na die drie-enige God verwys nie en eerder die klem op sy fakulteit se strewe laat val om vir alle godsdienste inklusief plek te maak.

Die Bybel is deurspek met God se veroordeling van gay-seks en ’n gay-huwelik is so absurd dat die moontlikheid nêrens in die Skrif vermeld óf afgelei kan word nie. Dit beteken nie dat gays nie in die kerk welkom is nie. Die klokke lui tog vir alle sondaars om te kom. Nogtans is die on-Skriftuurlike sinodale besluite oor gay-seks wel bekend, waarvan die 2019-besluit die kroon span: “Die Algemene Sinode dra dit aan die Taakspan vir Leer en Aktuele Sake op om ’n formulier te ontwikkel vir die bevestiging van burgerlike verbintenisse tussen persone van dieselfde geslag.”

’n Formulier is ’n plegtige eedsverklaring wat slegs binne die kerk, voor God en voor ’n gemeente geskied, soos onder meer die bestaande huweliks- en doopformulier en die formulier tydens belydenisaflegging. ’n Formulier vir selfdegeslag­verbintenisse sal dus dieselfde status hê en die seën van die kerk geniet.

Die “kerk se seën” beteken met “God se seën” en ’n huweliksformulier word tog getrou uit sy Woord geneem. Indien hierdie “formulier” aanvaar sou word, dog duidelik nie die suiwer gereformeerde teologiese toets slaag nie, sal ander kerkverbande die NG Kerk bloot die rug keer.

In Mei verlede jaar het die taakspan hierdie formulier-opdrag skielik gestaak. As rede is nie die onuitvoerbaarheid daarvan aangebied nie, maar dat daar ’n verskil tussen ’n “prinsipiële” en ’n “proses-” sinodale besluit is. Kerkrade moet liefs hul eie formulier skryf. Nadat geleerde teoloë ná drie jaar geen formulier kon oplewer nie, sal daar selfs een kerkraad in die land wees wat met God se seën daarin sal slaag – sonder om gemeentelike verdeeldheid te saai?

Beteken dit dat gays wat steeds ’n kerklike verbintenis nastreef, hul eie kerkverband sal moet stig waar dit op grond van watter formulier ook al moontlik sal wees, en sal dit die hele debat hieroor in die NG Kerk vir tyd en vir ewigheid afsluit?

Of is die kerklike slagorde juis hiermee finaal opgestel met enersyds behoudende streng gereformeerdes binne die Koinonia-sinode en alle ander gemeentes verenig en andersyds in die opponerende linie, die “verslae” en “verbysterde” gays (dr. Frits Gaum se woorde nadat die “formulier” by die kerkdeur uitgevee is), dog gerugsteun deur hul liberaal-teologiese grofgeskut?

Terwyl Jackson dolerendes as gevoelloos en liefdeloos afmaak, het niemand minder nie as Du Toit in ’n onderhoud met Jean Oosthuizen op 8 Desember 2021, die volgende verbysterende uitspraak gemaak: “Ek het geweldig baie simpatie met die dolerende gemeentes. Eintlik is hulle reg. Hulle het nie bygehou by die liberale deel van die kerk waarvan ek deel was nie . . . maar hulle is die eerlikste.”

En so het die NG Kerk die kruispad bereik. Die aanduiding na links volg die breë weg na die liberale ruim huis waar plek ingeruim word vir dwaalleerstellings en die postmoderne leefwyse en na regs na ’n beweging saam op pad na streng gereformeerde hervorming. Die “Quo Vadis”-vraag oor watter rigting ingeslaan moet word, geld sonder twyfel vir elke predikant, (ook elke kerkraad en gemeente onder sy of haar leiding) elke ring, elke streeksinode en veral die Algemene Sinode in Oktober 2023 waar almal in die grootste erns na God se leiding hierin sal moet soek.

  • Dr. Etienne Liversage is ’n opvoedkundige van Ladysmith in KwaZulu-Natal.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui