Kunstekaap se Marlene le Roux wen gesogte Andrew Murray-prys

*******

Kunstekaap se Marlene le Roux wen gesogte Andrew Murray-prys | Netwerk24

28 Mei 2023

Die toekennings vir vanjaar se wenners van die Andrew Murray-prysfonds is Vrydagaand by die Desmond en Leah Tutu-stigting in Harringtonstraat in Kaapstad oorhandig.

Marlene le Roux, hoof van die Kunstekaap in Kaapstad, is vereer met die Jaap Durand-Denise Ackermann-toekenning vir eenheid, versoening en geregtigheid.

Sy het gesê die prys is vir haar baie emosioneel en betekenisvol. Soos Andrew Murray, wat etlike jare NG Kerk-predikant op die dorp was, is sy ook van Wellington. As kind is haar kinderkoor nie toegelaat in die NG kerk nie weens die groepsgebiedewet. Sy moes wag totdat dit hul beurt was om te sing voordat hulle toegelaat is. Sy het haar toespraak afgesluit met die woorde van een van haar mentors, emeritus aartsbiskop Desmond Tutu. “Transformasie begin by jou, waar ook al jy is. Wat ook al gebeur het, hoe ook al jy gely het. Transformasie is altyd moontlik. Ons heel nie in isolasie nie.”

Die toekennings is vanjaar 45 jaar oud en is gestig op inisiatief van die Wamakersvalleise Kultuurraad en Bybelkor met die 150ste herdenking van Murray se geboortedag. Die prysfonds is aanvanklik gestig om Afrikaanse Christelike en teologiese publikasies te bekroon. Mettertyd het die missie verruim en is Tutu gevra om sy naam aan dié van Murray te koppel – ook as blyk van versoening.

Naas die Andrew Murray-prys vir Christelike en teologiese media in Afrikaans het die Andrew Murray-Desmond Tutu-prys vir soortgelyke media in ander amptelike tale van Suid-Afrika in 2006 tot stand gekom. Die Desmond Tutu-Gerrit Brand-prys vir debuutwerk is ook bygevoeg. Brand, ’n Stellenbosse teoloog en eertydse boekeredakteur van Die Burger, is in 2013 op 43 aan kanker oorlede.

Vanjaar se wenners is:

Martin Laubscher ontvang die Andrew Murray-prys vir die boek Publieke teologie as profetiese teologie.

Retief Muller ontvang die Andrew Murray-Desmond Tutu-prys vir die publikasie The Scots Afrikaners: Identity Politics and Intertwined Religious Cultures. Daarin word gefokus op die bydrae van Skotse sendelinge op die Nederduits Gereformeerde Kerk.

An-Mari do Carmo ontvang die Desmond Tutu-Gerrit Brand-prys vir haar debuutjeugroman, Toe als nog groen was. Die roman fokus op die KwaSizabantu-sending en die teologiese vraagstukke waarmee jong mense worstel.

Die CLF-Elise Tempelhoff-toekenning vir omgewingsbewaring en geregtigheid is aan prof. Johan Buitendag oorhandig. Hy is een van die eerste akademici wat ’n verhandeling vir ’n doktorsgraad oor teologie en ekologie aanpak. Hy is ’n bewese kenner van ekologie en het verskeie artikels daaroor geskryf.

Johan Vorster het die Andrew Murray-FAK-toekenning ontvang vir sy lied “Kerslied”.

Marlene le Roux ontvang die Jaap Durand-Denise Ackermann-toekenning vir eenheid, versoening en geregtigheid. Sy is betrokke by jeugontwikkeling en was in 2014 saam met Karen Smit die medestigter van die Women’s Achievement Network vir gestremdheid. Sy het in die Londense Olimpiese Spele-komitee gedien om kunsprojekte te kies vir die Paralimpiese Spele in 2012. Sy is deur die Duitse regering vereer vir haar werk met agtergeblewe gemeenskappe en het eredoktorsgrade van die Kaapse Skiereiland-Universiteit vir Tegnologie en die Universiteit Stellenbosch.

20 instansies is nou deel van die prysfonds: Die vier teologiese fakulteite aan Suid-Afrikaanse universiteite (Universiteit Stellenbosch, Universiteit van Pretoria, Universiteit van die Vrystaat en Noordwes-Universiteit), die FAK, ATKV, die Bisdom Valsbaai van die Anglikaanse Kerk, asook onder meer Lux Verbi, kykNET en Die Burger. Wenners deur die jare was Johan Heyns, Willie Jonker, Berta Smit, Maretha Maartens, Amie van Wyk, Siya Khumalo en Wentzel van Huyssteen.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui